Polisiekar se vollengte-album word realiteit

Fokofpolisiekar-Die Bende

Fokofpolisiekar (Foto: Runnings Wolf’s Rant)

Die bekroonde rockgroep F*k*fpolisiekar gaan vir die eerste keer in 11 jaar ʼn nuwe vollengte-album uitreik.

Dit volg nadat dié groep in net meer as twee weke minder as R600 000 met behulp van ʼn skarefinansieringsveldtog ingesamel het om hul jongste album onafhanklik te kan vervaardig.

Die projek is op 22 Maart van stapel gestuur.

Polisiekar, ook bekend as Die Bende, se aanhangers wag die afgelope 11 jaar, sedert die laaste vollengte-album, Swanesang, se uitreiking in 2006, op ʼn nuwe vollengte-album uit dié groep se geledere. Daar word beplan om die nuwe album teen Oktober vanjaar bekend te stel.

Volgens Thundafund, die skarefinansieringswebwerf, het die groep die meeste geld nóg binne 48 uur ingesamel en ook die meeste geld vir ʼn album in Suid-Afrika met behulp van dié webwerf.

“Ons was almal in ekstase toe ons Vrydagmiddag die R500 000-oogmerk haal. Die veldtog het afgeskop met ʼn knal en die geld het nie ophou instroom nie. Dit is regtig onwerklik, en ons is dankbaar vir al ons aanhangers se getroue ondersteuning. Ons is slaggereed om ʼn killer-album te skryf,” het Francois van Coke vertel.

Polisiekar het voorheen gesê hulle het dié roete gekies omdat albumverkope wêreldwyd afneem en kunstenaars nie meer die geld wat hulle bestee aan die vervaardiging van ʼn album kan maak uit albumverkope nie.

Fokofpolisiekar (Foto: Runnings Wolf’s Rant)

Slegs 461 kopieë van die groep se album is vooraf bestel, wat net meer as R61 000 van die totale bedrag uitmaak. “Ons is bly ons het dus gekies om die album met behulp van ondersteuners te maak,” sê Wynand Myburgh, die baskitaarspeler van die groep. “Ons weet nie of ons genoeg albums sou verkoop om daardie bedrag te kon haal nie.”

Polisiekar het nou ʼn nuwe teiken gestel. Die groep wil minstens 15 000 albums vooraf verkoop sodat hulle vir die eerste keer sedert die ontstaan van die groep goue status kan behaal.

Net meer as R587 000 is teen Woensdagmiddag ingesamel. Die groep verkoop ook talle ander items soos onder meer kitare, ʼn persoonlike konsert, getekende plakkate en ʼn Polisiekar-horlosie en -tekkies.

Vir ʼn volledige lys items, besoek Thundafund.

Besoek Fokofpolisiekar se webwerf vir meer inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.