Polisiekar vra hulp vir nuwe album

Fokofpolisiekar-Die BendeDie bekende rockgroep F*k*fpolisiekar het op 22 Maart ʼn skarefinansieringsveldtog van stapel gestuur wat die lede in staat sal stel om binnekort ʼn nuwe vollengte-album op die rakke te plaas.

Hulle het besluit om dit onafhanklik te doen en maak staat op hul aanhangers se ondersteuning om die album te finansier.

Die groep, ook bekend as Die Bende, se aanhangers wag die afgelope 11 jaar, sedert die laaste vollengte-album, Swanesang, se uitreiking in 2006, vir ʼn nuwe vollengte-album uit dié groep se geledere. Daar word beplan om die nuwe album teen Oktober vanjaar vry te stel.

Die teikenbedrag vir dié veldtog is R500 000, waarvan meer as R270 000 reeds ingesamel is. Die veldtog strek oor ʼn tydperk van 60 dae.

“Die reaksie sover is oorweldigend,” sê hoofsanger Francois van Coke. “Ons het nie veel geld voor middel April verwag nie en nou is ons reeds oor halfpad. Nou moet ons momentum behou.”

Die geld sal aangewend word om die album se totale produksiekoste te dek. Dit behels die druk van die album, die maak van ʼn musiekvideo, bemarking en om uitgawes rondom die skarefinansieringsveldtog te dek.

“Ons moedig ons aanhangers aan om ons te help om ons doel te bereik,” sê Jaco Snakehead Venter, tromspeler vir die groep. “Om R500 000 vir ʼn album in te samel is mal, maar dis wat nodig is om te kan maak wat ons in gedagte het. As ons nie ons doel bereik nie, kry almal hul geld terug en daar is dan geen album nie. Dit is alles of niks,” sê hy.

Rekords

Thundafund, die platform wat die groep gebruik vir die insamelingsinisiatief, het tot dusver al meer as 200 skarefinansieringsveldtogte ter waarde van amper R11 miljoen gefasiliteer. Polisiekar het daarin geslaag om die grootste bedrag binne die eerste 48 uur in te samel. Volgens Thundafund het Polisiekar ook die meeste geld ingesamel vir ʼn musiekalbum in Suid-Afrika.

“Alles in ag genome, is dit baie duur om ʼn album op te neem,” verduidelik Wynand Myburgh, kitaarspeler en bestuurder van die groep. “Selfs die skarefinansieringsveldtog dra baie onkoste. Dis ʼn hartseer saak dat musiek in sy opgeneemde formaat nie veel waarde het nie. Mense laai onwettig musiek af of stroom dit deur die internet.

“Die dae van ʼn wins op ʼn album maak, of selfs om gelyk te breek, is verby, maar dit verander niks aan die feit dat ons voel ons het iets om te bied nie,” sê Wynand. “Dis iets wat ons wil maak om met ons ondersteuners te deel. Deur ons aanhangers te kry om ons te help om die projek te finansier, bied dit ons algehele vryheid om die album te maak wat ons wil maak.”

Die Bende het items op die webwerf beskikbaar gestel waarvoor aanhangers bedrae kan belowe.  Items en ervarings sluit in ʼn private vertoning in ʼn hotelkamer, om Superrugby saam met die groep in ʼn losie te kyk, Wynand Myburgh se baskitaar, geraamde ou plakkate, en soveel meer.

Hunter se brief

Hunter Kennedy, kitaarspeler en liriekskrywer vir die groep, se akoestiese kitaar ter waarde van R25 000 is binne ʼn enkele uur nadat die projek van stapel gestuur is deur ʼn aanhanger opgeraap.

Hy skryf:

“Polisiekar het begin as vyf naïewe laaities van Bellville se drang om weg te breek uit die alledaagse belofte van die goue horlosie aan die einde van jou 45 jaar by Sanlam.

“Ons wou ʼn nuwe pad vir onsself kerf. Dit was ʼn deurskynende platform vir die soort lewe wat ons wou lei. Dit het begin met passie.

“Soos wat die groep aangegaan het, het ons persoonlike vryheid beleef. In die bussie gespring en die land platgetoer. Geen reëls. Geen gesprek was taboe nie. Ons was op soek na bevryding. Vryheid van ons verlede én ons ingebokste stereotiepe Afrikaanse toekoms.

“Ek is Francois. Ek is Wynand. Ek is Snake. Ek is Johnny. Ek is Hunter en ons is Polisiekar.

“Dit voel soos ʼn belediging om ons fans aanhangers te noem. Daar is iets ontasbaars wat Polisiekar en ons gehoor aan mekaar bind.

“Die Polisiekar-ding wil net nie doodgaan nie. Ons het probeer om op te breek, maar ons kon nie. Dis groter as wat ons ooit verwag het dit gaan wees en dit is danksy een ding: Julle.”

Kliek hier as jy ʼn bydrae wil maak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Ya ·

Reeds bygedra, en gaan weer en weer en nog en nog. Beste ding wat met Suid Afrikaanse musiek, veral Afrikaanse musiek gebeur het, nie eentoonige plat, depresiewe, aabb rym nie. Knap gedoen kerels, mag daar nog baie jare en liedjies voorle!

Reinhardt ·

Stem 100% saam.
Kan nie wag vir ordentlike Afrikaanse rock nie!

Jaco ·

Mooi so, Polisiekar! Hou so aan. Ek is nie mal oor die eerste deel van julle naam nie, maar mal oor julle bydrae om die eng, naïewe en bygelowige deel van die bevolking wat onwaarhede en mites glo en oningelig is oor wat waar is en nie en hulle lewens daarop bou en dié wat van hulle verskil verwerp se oë te help oopmaak. Ek maak graag ‘n bydrae.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.