Polisiekarre maak geskiedenis

Fokofpolisiekar

Fokofpolisiekar. Foto: Henno Kruger/Running Wolf’s Rant.

Die bekende rock-groep Fokofpolisiekar, ook bekend onder aanhangers as Die Bende, se Thundafund-skarefinansieringsveldtog om hul nuutste album die lig te help sien, het die R1 miljoen-kerf behaal.

Dit is ʼn eerste vir Afrikaans én vir Suid-Afrika, sê Thundafund se uitvoerende hoof, Patrick Schofield. “Dit is vir ons ʼn groot voorreg om die gasheerplatform vir die suksesvolste Suid-Afrikaanse skarefinansieringsveldtog nóg te wees. Die bedrag staan tans op R1 010 000 en styg steeds. Mense vra ons of skarefinansiering in Suid-Afrika kan werk. Wel, die antwoord is ʼn beduidende ‘ja’,” het hy gesê.

Met slegs vier dae van die veldtog wat oor bly, het ongeveer 1 300 aanhangers van die groep reeds die oorspronklike doelwit van R500 000 help verdubbel. Die Lush-fees wat jaarliks in Clarens in die Vrystaat plaasvind, sowel as die slenterskoenhandelsmerk Converse, het elkeen R100 000 aan die veldtog belowe.

Die groep begin in Junie die album opneem. Wynand Myburgh, baskitaarspeler en bestuurder van die groep, sê die hoofdoel nou voor oë is om die musiek klaar geskryf te kry vir die album. “Dit gaan alles oor die musiek. Ons skryf musiek waarvan ons hou en waarna ons graag wil luister. Dit is hoe ons dit nog altyd gedoen het,” verduidelik hy. “As ons al vyf daarvan hou, dan is dit goed genoeg om verder daarmee aan te gaan. Dit is hoe ons die liedjies kies wat ons op die album gaan sit.”

Die voorlopige vrystellingsdatum vir die album is op 3 Oktober.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.