Popster- Wicus van der Merwe

PopsterNadat Wicus van der Merwe net meer as twee jaar gelede ‘n versameling van sy grootste treffers uitgereik het, het hy eindelik sy nuwe album vrygestel.

Met die titelsnit, Popster, spot hy eintlik met die grootste kunstenaars in die Afrikaanse musiekbedryf, en die groot aanhang wat hulle onder hul bewonderaars geniet. Dit gaan verseker ‘n groot treffer word! Nog ‘n moontlike treffer vanaf die album is My boetie Bollie, en hierin sing hy van sy “jonger boetie” wat vol planne is en wat kwansuis ‘n klomp bekende mense goed ken. ‘n Mens kan die lirieke natuurlik nie té ernstig opneem nie! In die gholfklub vertel van wat gewoonlik by die “negentiende putjie” van enige gholfbaan gebeur; die manne wat sommer hard kuier en hul vroue se reaksie daarop. Met Klein klein kom ‘n mens agter dat Wicus weet hoe om ‘n storie te vertel. Hy sing hierin van ‘n man van die Wilde Weste wie se pa jonk dood is, en deur sy ma grootgemaak is. Op die ou einde loop hy hom teen ‘n groot cowboy vas en daar is groot moeilikheid. Jy sal lekker lag vir die lirieke van die volgende snit, As jy dom is. Een treffende reël hieruit, is:” Vandag is jy die boom en môre sy skaduwee.” Hêppie song klink dalk oppervlakkig, maar hy sê dat ‘n mens steeds gelukkig moet wees maak nie saak hoe swaar dit gaan nie. Lara Croft was die naam van Angelina Jolie se karakter in die rolprent Tomb Raider; en die liedjie gaan oor ‘n meisie wat hy ontmoet het, maar net vriende wou wees. Wicus maak egter van die eerstepersoonsverteller gebruik; dié lirieke is beslis nie outobiografies nie.

Sewe tarentale is ‘n lekker snit met ‘n rock-klank wat ‘n groot treffer kan word. Stickertjie is die teenoorgestelde, en weer eens vertel Wicus ‘n storie van ‘n ou en ‘n meisie wat mekaar op skool ontmoet het. Sy het egter aanbeweeg in die lewe en hy verlang nog na haar. Ek wonder is ‘n lekker saamsing-snit en hopelik sal dit een van die treffers vanaf die album word. Wicus maak geen geheim daarvan dat hy die Westelike Provinsie ondersteun nie, en en in Nuweland vertel hy van die geskiedenis van dié span se bekende tuisveld. Shake soos Timberlake het ‘n lekker rock-and-roll-klank, en hierin sê hy dat hy wens hy kan soos bekende mense kan dans. Die laaste snit op die album is die enigste een wat nie oorspronklik is nie. Wicus sing die Cat Stevens-treffer Father and son saam met Danie Niehaus. Danie was die komediant van die Alabama-studentegeselskap voordat hy met sy suksesvolle sangloopbaan begin het, en hy was die persoon wat Wicus sy eerste kans op die verhoog gegee het. Hier bewys hy dat hy nie net grappige liedjies kan sing nie, maar dat hy ook ‘n baie goeie sangstem het.

Tydens vanjaar se Ghoema-toekenningsgeleentheid was daar glad nie ‘n wenner in die kategorie vir die beste komedie-album nie, maar in 2015 gaan dit ‘n ander storie wees. Hierdie album is seker die beste album in daardie kategorie wat in ‘n baie lang tyd verskyn het; dit is glad nie platvolers nie en Wicus bewys weer eens dat hy ‘n uiters talentvolle sanger en liedjieskrywer is. Laat ek eerlik wees: ek het elke oomblik van hierdie album sommer baie geniet en die meeste liefhebbers van Afrikaanse musiek behoort ook so te voel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.