Posduif koer weer met nuwe enkelsnit

Posduif (Foto: Gabriel McCreadie)

Die vyfman-musiekgroep Posduif het Suid-Afrikaners se voete weer aan’t skoffel gesit met hul splinternuwe enkelsnit, “Spinnekop”.

“Dis ’n regtig prettige liedjie, ons is mal daaroor,” het Nick Jordaan, ritmekitaarspeler, sanger en liedjieskrywer, aan Maroela Media vertel.

Jordaan, en James Boland, voorsanger van Posduif, is die flukse manne wat agter die trefferliedjies van die groep staan.

“‘Spinnekop’ is net ’n ‘jol’-liedjie,” vertel Boland.

Die liedjie gaan oor ’n meisie in die Vrystaat wat tog net te bekoorlik vir, dog altyd in beheer van die manne is.

“Jy dink dat jy ’n kans staan en jy sal alles doen om haar aandag te kry, maar sy is in beheer en sy weet dit,” skerts Boland.

Een aand het Jordaan, wat eintlik ’n Engelsman is, en Boland gesit en whisky drink. Die kuiergeleentheid het gelei tot die geboorte van die eerste Afrikaanse liedjie uit die skryfpaar se spreekwoordelike pen.

Die groep het ook talle musikale en sakelesse in die loop van hul loopbane geleer, iets wat hulle tot vandag toe toepas in die manier hoe hulle die waters van die Afrikaanse musiekbedryf trotseer.

“Ons het soveel geleer by mense in die bedryf wat al reusetreffers geskryf het, ons het geleer hoe om ’n onderneming te bou en ons leer by mekaar as musiekgroep. Ons het ook geleer dat ’n musiekgroep ook nie altyd net ’n partytjie is nie,” vertel Jordaan, wat ook die hoofsanger van die Engelse musiekgroep Rubberduc is.

Boland verduidelik ook dat selfs al is die werk wat hulle doen soms iets uit ’n sprokiesverhaal, is daar steeds talle aspekte wat die toonbeeld van ’n sakeonderneming het.

Wanneer die dreunende tromme, musiekinstrumente en jolige stemme oor die vertrekke weerklink waar die groep optree, begin hul harte sommer saam met die ritme bons.

“Wanneer ons optree, is dit werklik nie net ons wat sing nie, dis ’n behoorlike vertoning. Die energie wat ons verhoog toe bring is iets ongelooflik.”

2022 is ’n jaar wat vir die musiekgroep reeds talle nuwe geleenthede op die tafel gesit het. Nie net het hulle pas ’n splinternuwe kontrak by Select Musiek geteken nie, hulle vat vanjaar hande met Spier Wynlandgoed en WP Motors ten doel van ’n reuse-samewerkingsprojek wat van stapel gestuur word.

Aanhangers kan uitsien na ’n hele paar verrassings, interessante geleenthede en opwindende optredes.

Luister na die groep se nuwe enkelsnit, “Spinnekop”, hier:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.