Posduif se nuwe enkelsnit: ‘Ons moet onthou wat regtig saak maak’

Posduif. (Foto: NDW Photography)

“Dit gaan oor die mense in jou lewe en om elke dag te waardeer wat jy het. Dit is belangrik om te onthou wat regtig saak maak in die lewe en om dankbaar te wees.”

Só sê die musiekgroep Posduif oor sy jongste enkelsnit, “Herinner my”, wat onlangs uitgereik is. Die groep bestaan grotendeels uit lede van die gewilde musiekgroep Rubber Duc – Nick Jordaan (kitaarspeler), Amiel Gopal (baskitaarspeler), Sheldon Sham (saxofoonspeler), Leeroy Sauls (tromspeler) en Brendan Campbell (vervaardiger en hoofkitaarspeler) met die toevoeging van James Boland as voorsanger.

Campbell het ook die liedjie vervaardig en Hugo Ludik van Muse Studios het die vermenging behartig.

“My suster se dood was die oorspronklike inspirasie vir die liedjie, maar dit is vir ons elkeen geskryf en is veral in hierdie tye van toepassing op almal,” sê Boland.

“Om elke dagbreek te waardeer is iets wat ons soms vergeet om te doen wanneer ons so gefokus is op al die moeilike en swaar tye. Die idee is om luisteraars te herinner om dankbaar te wees vir diegene wat nog by hulle is, asook om die mense te onthou wat nie meer hier is nie en dankbaar te wees vir die tyd wat jy wel saam met hulle gehad het.”

Hoewel hierdie popsnit in die styl en voetspore volg van sy inspirerende voorgangers, is dit daarop gefokus om met aanhangers se harte te praat, dieper te laat nadink oor die lewe en troos te bring in hartseer tye.

“Wanneer jy ‘Herinner my’ luister, is dit jou liedjie, jou storie, jou geliefdes – en ons hoop dat almal betekenis daaruit sal put. Dit gaan oor dankbaarheid en liefde en dit is iets wat elkeen van ons nodig het.”

ʼn Musiekvideo van die snit sal ook binnekort beskikbaar wees. “Herinner my” is die groep se vierde enkelsnituitreiking en volg kort op die hakke van “Laat val die water”, waarvan die musiekvideo reeds bykans 40 000 trefslae het. Die liedjie is ook benoem vir Bok Radio se Bokkie-toekennings as liedjie van die jaar.

Die sestal het ondanks die Covid-19-krisis en die afsondering ʼn paar nuwe liedjies voltooi en hoop om dit later vanjaar in hul debuutalbum in te sluit.

“Ons is almal so besig soos wat ons kan wees en tussen musiek skryf, beplanning, bemarking en ander werk deur, bring ons ook tyd saam met ons geliefdes deur,” sê Boland.

“Ons werk ook hard aan projekte en planne vir die volgende paar maande waartydens regstreekse optredes nie moontlik gaan wees nie.”

“Herinner my” is op alle digitale platforms beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.