Posduif tref weer met nuwe musiekvideo

Posduif (Foto: Verskaf))

Die opwindende nuwe musiekgroep Posduif het pas hul jongste musiekvideo vir hul enkelsnit “Een vir my” vrygestel.

Dít volg op hul eerste musiekvideo vir die groep se eerste liedjie, “Brandy Special”, wat reeds meer as 10 000 kyke op YouTube gekry het.

Posduif is in 2018 gestig en het vroeër vanjaar hul verskyning op Afrikaanse verhoë gemaak. Dié groep bestaan uit ses mans wat uit verskillende kultuurgroepe kom en hulself as ʼn moderne multikulturele musiekgroep bestempel.

Hul tweede enkelsnit en musiekvideo, “Een vir my”, kom uit die pen van die groep se kitaarspeler, Nick Jordaan, en voorsanger, James Boland.

Die liedjie, wat deur hulle beskryf word as Afrikaanse pop met ’n tikkie “brass”, gaan daaroor om die tipe liefde te vind wat die moeite werd is om voor te baklei.

“Dit gaan daaroor om die één te vind en alles wat daarmee gepaard gaan; van die oomblik wat julle mekaar sien en hoe julle die lewe saam visualiseer, tot waar julle uiteindelik regtig aan mekaar se sy is,” sê Boland.

Jordaan vertel dat dié lied eintlik per toeval een aand geskep is, maar dat dit so goed ontvang is deur radiostasies dat hulle besluit het om ook ʼn musiekvideo daarvan te maak. “Ons was een aand by James se huis en het besluit dat ons ’n Afrikaanse liedjie wil skryf. Daardie aand het ons tot 03:00 die oggend wakker gebly en die resultaat daarvan was ‘Een vir my’,” sê Jordaan.

Posduif (Foto: Verskaf)

Posduif wou graag met die musiekvideo van “Een vir my” nie net die liefde tussen twee mense uitbeeld nie, maar hulle wou ook die geleentheid gebruik om die groeplede aan die publiek voor te stel.

Dié groep bestaan uit lede van die musiekgroep Rubber Duc, plus ʼn nuwe voorsanger. James Boland is die voorsanger en kitaarspeler van die groep, Nick Jordaan speel ook kitaar en sing saam met Boland. Brendon Campbell is die groep se vervaardiger en hoofkitaarspeler. Sheldon Sham speel die saksofoon, en Leeroy Sauls is agter die tromme.

Posduif het sy unieke naam gekry omdat die vars musiekgroep wou hê dat hul musiek ʼn boodskap moet oordra.

“Posduif se vars en energieke klank, positiewe lirieke en unieke verwerkings gaan beslis aanhou om aanklank te vind by gehore van alle ouderdomme en kulture,” lui ʼn verklaring.

“Ons is ’n sesstuk-groep met musiekinvloede wat wissel van gospel tot pop en jazz en dit alles word op ’n unieke manier gekombineer om die unieke klank van Posduif vas te vang. Ons wil luisteraars op ’n musiekervaring neem, van die lirieke en melodie tot die verwerking van elke liedjie,” meen Boland.

“Wat dit interessant maak, is dat ons almal verskillende voorkeure en idees het as gevolg van ons verskillende kulturele agtergronde. Ons is waarlik ’n multikulturele groep in elke sin van die woord.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.