Pretoria Buitelug Ekspo en Fees is waar jy einde April wíl wees!

Dié veelsydige fees beloof pret en vermaak vir die hele gesin. (Foto: Verskaf)

As jy lus is om te smul aan lekker feeskos, jou adrenalien te laat pomp in ʼn 4×4-rit, top- Afrikaanse vermaak te geniet óf selfs in ʼn see van proteas te verdwyn, dan is die Pretoria Buitelug Ekspo en Fees 2022 die plek vir jou.

Dié veelsydige fees, wat pret en vermaak vir die hele gesin beloof, word deur KykNET, MTN, Pretoria FM, Maroela Media en die Waterpump Groep van 22 tot 24 April by die Legends MX-avontuurplaas aangebied.

Dié fees spog vanjaar met ʼn ongelooflike buitelug-uitstalling wat feesgangers die geleentheid bied om onder meer die nuutste luukse woonwaens, waterponies, jagtoerusting, sonpanele, elektriese motorfietse en vele meer te besigtig.

Stalletjie-liefhebbers kan alles van die beste tuisgemaakte brandsous tot mooi kunswerke vir daardie leë kol teen die eetkamermuur aankoop.

Vir die groenvingers is daar meer as 100 000 vetplante en 40 000 proteas, asook ʼn verskeidenheid van tuingereedskap om van te kies.

Legends Sky sorg vir opwindende vlieggeleenthede, maar diegene wat veiliger op die grond voel, kan ook die Nissan GTR-sportmotor toetsbestuur of hul eie 4×4-voertuie in ʼn reeks kompetisies inskryf. Daar is selfs landloopgeleenthede vir die langasems en joga vir diegene wat hul spiere wil verslap en hul senuwees wil laat bedaar.

Feesgangers tydens dié geleentheid in 2019. (Foto: Verskaf)

Meer as 30 van die land se topsangers, onder wie Refentse, Bernice West, Francois van Coke en vele meer, gaan op die fees se hoofverhoog te sien wees terwyl van Suid-Afrika se beste opkomende talent op ʼn tweede verhoog feesgangers gaan vermaak. Diegene wat alternatiewe en rock-musiek geniet, kan hul skoene uitskop en hul tone in die sand by die Collion Festival-verhoog indruk terwyl hul kunstenaars soos Bittereinder en Black Cat Bones geniet.

Die jongspan het ook ʼn magdom aktiwiteite om van te kies, waaronder kameelritte, ʼn pretpark met knortjorre en demonstrasies met regte slange, spinnekoppe en skerpioene. Die fees spog verder ook met ʼn gemengdegevegskuns-boksring (MMA), vuurdansers én sirkuskunstenaars.

Feesgangers kan ook uitsien na smullekker kos vir elke sak en smaak asook ʼn verskeidenheid van “verversingstuine”, wat alles van tee tot wyn sal bedien.

Om te sorg vir ʼn veilige feesomgewing sal Covid-19-maatreëls ingevolge die jongste wetgewing nagekom word.

Vir meer inligting, feesprogramme en om kaartjies te bespreek, besoek die fees-webwerf hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.