Pretoria hou BoekeJol en FilmRolfees

Foto: Facebook/Boekejol en Filmrolfees

Foto: Facebook/Boekejol en Filmrolfees

Die tweede BoekeJol en FilmRolfees word van 17 tot 21 Augustus by Lynnwood Bridge in Pretoria aangebied. Die Atterbury Trust tree as hoofborg van die fees op, en AfriForum neem stewig hande vir die groeiende inisiatief.

Dia van Staden, eienaar van Milestone Events & Training, oud-onderwyseres, lewensvaardigheidspesialis, televisie-aanbieder, radiopersoonlikheid en joernalis, het die inisiatief in Pretoria kom vestig. “Die klein maar dinamiese groep mense met wie ek my omring, gaan hierdie fees nog ’n taal-en kultuurkrag laat word. Dis voorwaar iets om te koester,” vertel sy.

BoekeJol 2016 word ingelei met ’n feestelike KronkelKuier by Stephnies Restaurant in Lynnwood Bridge.

Die room van Suid-Afrika se skrywers sal deel uitmaak van ’n lekker-lees- en lekker-luister- program. ’n Paar van die skrywers wat die BoekeJol gaan bywoon, is Piet van Rooyen, Carla van der Spuy, Deon Meyer, Sophia Kapp, Keina Swart, Theuns Eloff en Bettina Wyngaard.

Die musikale verskeidenheid sluit Anna Davel, Lize Beekman, Chris Chameleon, Joshua na die Reën, Gisela de Villiers en Robert Brooks in. Daar is behoorlik iets vir elke smaak ingesluit.

Die geleenthede in die Atterbury Teater sluit elke aand ’n sanger-skrywer-kombinasie in. Die BoekeJol bied ’n geleentheid vir Afrikaanse kultuurvrate om hul lekkerkry-tande diep in hul gunstelingboeke te slaan en die skrywers persoonlik te ontmoet. Elkeen wat nog altyd gewens het om deel te neem aan ’n gesprek met skrywers, kuiertyd saam met ’n bekende digter te geniet, ’n ete en geselskans met hul geliefde persoonlikhede te beleef en vele meer sal 17 tot 21 Augustus in hul dagboeke moet omkring.

“Die BoekeJol en FilmRolfees wil waardering kweek vir die krag van woorde in Afrikaans en ’n kultuur van lees en visuele waardering by jonk en oud aanwakker,” sê Dia. Kobus Burger, RSG se uitvoerende regisseur: drama, sal Vrydag 19 Augustus ’n slypskool vir die skryf van radiodramas aanbied.

Maroela Media en Groot FM 90.5 bied ’n werksessie vir aspirant-omroepers tussen die ouderdom van 15 en 25 jaar Donderdag 18 Augustus aan. Hou Maroela Media dop vir ’n kompetisie waarin mense tussen 13 en 22 jaar uitgenooi word om ’n splinternuwe kompliment in Afrikaans saam te stel en in die vorm van ’n plakkaat hul deelname aan te kondig.

’n Eksklusiewe voorskou van die rolprent, Dis koue kos, skat, sal Vrydag 19 Augustus om 14:30 in die Atterbury Teater vertoon word.

Kaartjies vir dié teatergeleenthede is by www.computicket.co.za beskikbaar. Alle ander kaartjies kan in gedrukte vorm by die Computicket-kantoor in Lynnwood Bridge aangeskaf word. Geen telefoniese besprekings kan ongelukkig geneem word nie.

Die webwerf www.boekejol.co.za kondig die program en meer besonderhede aan. Rig navrae aan Dia by 083 726 1180 of [email protected].

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Isabella Carstens ·

BRAVO!! Met merkwaardige inisiatiewe soos hierdie sal Afrikaans nooit as te nimmer sterf nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.