Prophet sing oor menslikheid in nuwe uitreiking

Theo Geyser en Koos van der Merwe van Prophet. (Foto: Facebook)

Sestien jaar nadat die musiekgroep Prophet sy laaste album uitgereik het, is dié duo terug op die musiektoneel met ʼn splinternuwe aflewering getiteld Die Kolonie.

Koos van der Merwe en Theo Geyser maak sedert 1982 saam musiek en het sedertdien honderde vertonings gelewer en 10 albums uitgereik waarvoor hulle twee SAMA (South African Music Awards)-benoemings en sewe ATKV-Liertoekennings ingeoes het.

Prophet het in 2005 sy laaste album uitgereik. Intussen het Geyser hom in Stellenbosch in die Wes-Kaap gevestig, waar hy spanleier van die geestesgemeenskap InVia is.

Van der Merwe is bekend vir sy Afrikaanse verwerkings van Leonard Cohen se musiek en is ook ʼn skrywer en digter.

Geyser en Van der Merwe maak nie net saam musiek nie, maar is ook met twee sussies getroud en bestee baie tyd saam as familie. Hulle is verlede jaar, kort voor die inperking, genooi om tydens die US Woordfees op te tree voor die Johnny Cash-vertoning en daar het die gogga om weer saam te sing gebyt.

Die Kolonie is tydens die inperking geskryf en voltooi en volgens die duo lewer elkeen van die 12 snitte met titels soos “Strate van goud”, “Huil maar nou” en “Ek kuier vanaand by Rachel de Beer” kommentaar oor kolonialisme.

Die album word vandag (Dinsdag), 6 April, uitgereik. Dit is ook die datum waarop Jan van Riebeeck in 1652 op Suid-Afrikaanse bodem aangeland het.

“Elke snit het subtiel met kolonialisme te doen, maar die tema van die album is dat ons as mens altyd op die riskante plek is waar ons kan uitbuit of uitgebuit word, selfs al is dit net deur die pyn van die lewe,” sê Van der Merwe.

“Daar is ʼn wye genre van liedjies: vertroostende liedjies oor pyn en hartseer, liefdesliedjies, liedjies oor dankbaarheid. Die album is dus nie ʼn donker, diep politieke stelling nie, maar gaan meer oor menswees en dat jy kan seerkry, hetsy in liefde, die kerk of politiek.”

Die album praat ook soms “kru en eerlik” oor die politieke landskap van Suid-Afrika. Volgens Geyser lewer die eerste uitreiking vanuit die album, getiteld “Jy kan nie sommer vir my sê nie”, kommentaar oor “die belaglikhede wat gebeur het tydens die inperking”.

Hy noem die verbod op sekere kleredrag tydens die vroeëre inperking verlede jaar as voorbeeld. “Ons almal weet ook van die ‘when people zol’ toe sigarette verban is, en ons kan nou daaroor lag, maar eintlik is dit verskriklik, blatant en voor die hand liggend hoe korrup sekere maatreëls is,” sê hy.

Theo Geyser en Koos van der Merwe van Prophet. (Foto: Facebook)

“Op ʼn kol moet daar stemme wees wat sê ‘jy kan nie sommer net dit vir my sê nie’ en die lied het daaruit ontstaan.”

Die musiekvideo vir die snit is in ses minute geskiet. “Ons wil onsself nie te ernstig opneem nie. Die meeste van ons musiek is eintlik maar geskep uit gesprekke en deur net satiries na dinge vanuit ʼn ander hoek te kyk.”

Loekie de Beer het die albumomslagontwerp gedoen. “Ek is mal daaroor. Dit trek die aandag en lewer goeie kommentaar.”

Van der Merwe skerts dat “Jy kan nie sommer vir my sê nie” reeds hulle verwagtinge vir die album verwesenlik het.

“Ons het reeds gehoor daar is min radiostasies in Suid-Afrika wat voel hulle kan daai liedjie op hulle stasie speel,” lag hy.

Die album het egter reeds die no. 1-posisie op die Suid-Afrikaanse Apple-treffersparade vir Christelike musiek gehaal.

Die Kolonie is op alle digitale platforms beskikbaar.

Kyk hier na die musiekvideo vir “Jy kan nie sommer vir my sê nie”:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Stof ·

DIe beste nuus in mudiek in ‘n lang tyd. Hierdie manne mag maar die Evangelie bring. Hulle styl maakdit ook aantreklik vir diegene wat nie hou van die tradisionele Gospel styl nie. Hierdie album, moet ek aanskaf.
Mag Theo en Koos GROOT guns op hierdie album ontvang,

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.