Pure Coenie: ʼn Tapisserie van klank en teksture

Album_COVER_PureCoenie-f-002.jpgEk meen dit was die Engelse dramaturg Harold Pinter wat sy aandpak aangetrek het en ʼn glasie port geskink het voordat hy in ʼn leunstoel gaan sit het om ʼn dramateks te lees. ʼn Mens moet immers die teater-ambience kan aanvoel om reg te laat geskied aan die woorde op papier.

Om reg te laat geskied aan Coenie de Villiers se jongste CD, Pure Coenie, hoef ʼn mens nie op te dress nie, maar dit is ʼn CD wat stip luister vereis. Juis omdat ʼn klein drama ontvou in die 14 snitte – dié van besinning oor kronkels, weerloosheid en die lewe se verniel.

Gewis is dit pure Coenie dié: soos wat ʼn mens deur al die jare gewoond geraak het aan sy musiek en lirieke; aan sy orkestrasie en aanbieding. Maar dit is ook gepuurde Coenie, gestroop in die sin dat hy in dié album selfs meer as in die vorige een uiting gee aan sy gevoel, sonder om oor die skouer te kyk.

In onderhoude het hy daarna verwys dat hy met Pure Coenie, sy 21ste album, terugkeer na sy wortels as liedjieskrywer, na die eerlikheid van dekades gelede. Dit mag so wees, maar die eerlikheid wat nou blyk is dié van ʼn mens wat geleef het, wat skaafplekke opgedoen het en nou met wysheid gelouter ʼn greep kry op eerlikheid.

“Liedjie vir Luca”, geskryf vir Lucas Maree se kleindogter wat nooit haar oupa teëgekom het nie, bied dalk ʼn blik op die eerlikheid wat hy in die oog het. Dit is ʼn liedjie met “min woorde”, met “eenvoudige akkoorde” en “ewe min harmonie”. Maar dit is ʼn liedjie wat “fyn-fyn luister” verg. Juis omdat die liedjie van ver kom: “oor die sterre, oor die wolke en die maan”.

Slaapliedjie wat dit is en wat ten doel het om die donker te besweer, vergestalt dié liedjie dalk iets van die kreatiewe proses, dié van gedagtes “anderkant die Melkweg” gaan haal en dit vertaal in woorde en musiek. ʼn Gedagte wat hierby aansluit is dié in “The Heart” waarin gesê word: “Take the pieces of your broken heart / Ignore the hurt, and make it art.”

In “Die laaste maal” is hy eerlik oor sy onsekerheid. Met andante as tempo-aanduiding voel ʼn mens die reisiger se looppas en in dalende sekwense raak jy bewus van die onsekerheid op die kronkelpad sonder kompas. Maar dié snit wat getuig van “sukkel om te glo” het die suiwerste akkoordprogressie wat met geen ander stem praat nie as dié van sekerheid.

coenie-de-villiers-2017

Coenie de Villiers. Foto: Verskaf.

Dít is die gepuurde, pure Coenie wat ʼn mens in dié album teëkom.

Dit is ʼn album wat die wêreld van die sanger Rodriguez en die digters Pablo Neruda en Charles Baudelaire (“Julie, Kaap St. Francis”) oproep, maar eweso dié van die saxofoonspeler John Coltrane, die trompetspeler Miles Davis en die sangeres Billie Holiday (“The Dinner”) – stemme uit die verlede wat ʼn mens nie durf ignoreer nie. Soos dié van Martin Luther King.

Soos in “Desert Conversation”, ʼn snit van Emoji, De Villiers se album van 2016, waarin hy na die mens se vergrype en geweld, na oorlog verwys het, hunker na vrede en die afbreek van mure (“Walls”), na die droom “… that we shall overcome” (“The Dinner”).

En soos met Emoji is insluit eerder as uitsluit ʼn leidende motief in die keuse van mense met wie hy saamwerk: die rocker Francois van Coke, die Odeion-strykkwartet, die sangers Vicky Sampson, Leon Gropp, Josua na die Reën, Brandon October en die akteur John Kani met sy praatstem in “The Dinner”.

Die tapisserie van klank en teksture wat op dié manier tot stand kom gee aan Pure Coenie ʼn gelaagdheid wat vir die luisteraar wêrelde buite die gewone ontsluit en talente saamsnoer.

Juwele is volop: Dink maar aan die “unplugged” en gestroopte weergawe van Johannes Kerkorrel se “Hillbrow” en “Thando” met die Marcus Wyatt (trompet), Maritz Lotz (kitaar), Werner Spies (kontrabas) en David Klassen (perkussie) se gevoelige bydrae. Maar daar is meer, wat met elke luister ander fasette in woord en klank laat blink. Daar is melodieë wat in jou kop bly draal; daar is woorde wat jou laat nadink.

Steek ʼn kaggelvuur aan, skink ʼn glas en draai die volume op. En luister aandagtig na dié Pure Coenie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae