Pyporreliste skitter in Paul Roux

Pyporreliste wat aan ‘n orrelkonsert in Paul Roux deelgeneem het, is van links Ferdi la Grange, Helena Kriel, Theunis Marais en Connie van Niekerk. Foto: Verskaf.

Deur Susan Maré

Die beste deel van 100 konsertgangers het op Saterdagaand 19 Januarie ’n pyporrelkonsert van betekenis in die NG kerk Paul Roux bygewoon. Iets buitengewoons soos ’n orrelkonsert op ’n Saterdagaand kan net in dié klein dorp langs die N5 in die Oos-Vrystaat gebeur – ʼn dorp wat lank reeds bekend is vir entoesiastiese gemeenskapsaktiwiteite.

Die konsertorreliste was Connie van Niekerk, orrel-leermeester en aflosorrelis van Reitz, Helena Kriel, aflosorrelis van Bethlehem, Theunis Marais, orrelis van die NG moedergemeente in Reitz en Ferdi la Grange, van Gauteng.

Die konsert was die geesteskind van Ferdi la Grange wat hom dikwels in Paul Roux bevind. Gou is ’n program saamgestel wat die klanke uit die Hill, Norman & Beard-instrument se 812 orrelpype sou uitdaag tot nuwe hoogtes.

Die kerk se akoestiek is besonders met ʼn nagalm van sowat twee sekondes en die orrel spog selfs met ’n verstelbare orrelbank.

Ferdi het aan die gehoor ’n kort oorsig gegee oor die Hill, Norman & Beard-orrel en sy pneumatiese werking en ook vertel hoe kosbaar die geskiedenis van dié orrel is. Lidmate van die kerk het opnuut besef dat hulle met ’n goeie instrument geseënd is.

Die orrel het knopregisters (wat uitgetrek word) en is geklank met vyf registers op die hoofmanuaal (genoem Great), 11 registers op die boonste manuaal (Swell) en vier op die pedale. Slegs die trompetpyp (8 voet – verwysend na die lengte van die pyp) was verlede Saterdagaand aan die nukkerige en vals kant, wat aan Saterdag se droë, warm klimaat toegeskryf kan word. Dit was waarskynlik minder hoorbaar vir die gewone as musiek geoefende oor in die gehoor.

Connie van Niekerk het die program begin met Johann Sebastian Bach se gewilde “Toccata in d-mineur”, gevolg deur Albert Troskie se “Kersfeessuite”. Beide komposisies verg vingervernuf en intellek waarvan Connie duidelik met oormaat geseën is. Verdere bydraes was voordragte van die “Halleluja-koor” van Georg Friedrich Händel en Charles-Marie Widor se sprankelende “Toccata” wat veral as troumusiek gewild is.

Connie se bydrae in die pyporrelwêreld is merkwaardig omdat sy ook mentor en onderwyser in dié instrument is. As verteenwoordiger en lid van die Suider-Afrikaanse Kerkorreliste-Vereniging (SAKOV) leef sy ’n lewenslange roeping uit om die pyporrel as voordrag- en begeleidinginstrument in kerke te bevorder.

Helena Kriel was volgende op die program met Albert Troskie se loflike Psalm 146 – inderdaad loflik uitgebeeld met haar keuse van registers. Sy het ook die koraalvoorspele “Herzlich tut mich verlangen” (Gesang 387) van Johann Kirnberger en W. de Villiers se “Middelpunt van ons verlange” (Ges. 393) gespeel. As pyporrelis wat haar steeds as aflosorrelis en leerling van Connie van Niekerk vernuwend uitleef, het sy besonderse spel gelewer. Sy het Ps. 146 se loflikheid met goeie vingervaardigheid gespeel. Dit was veral haar sensitiewe vertolkings van “Herzlich tut mich verlangen” en “Middelpunt van ons verlange” wat die luisteraars se aandag opnuut op dié melodieë gevestig het – geliefd by mense wat daarmee grootgeword het. Helena het onlangs eksamen gespeel wat aan haar ’n SAKOV-beurs besorg het.

Theunis Marais, nog ’n SAKOV-beurswenner se “Air on the G String” van Johann Sebastian Bach en die “Groot Mars” uit Aïda van Guiseppe Verdi het groot byval gevind. Hierdie toegewyde kerkorrelis van Reitz het in Bethlehem grootgeword en is ook ’n leerling van Connie van Niekerk. Sy voordragte was voortreflik en sy keuse van registers was, soos altyd, in die kol om die musiek so stylvol moontlik uit te beeld.

Ferdi la Grange het die vernuftige “God het ek lief” van Chris Lamprecht voorgedra en afgesluit met Wim Viljoen se fanfare, “Kom almal laat jul stem verrys”.

paul-roux-kerk

Orreluitvoering in die NG kerk Paul Roux op Saterdagaand 19 Januarie. Die orrelis hier voor die orrel is Connie van Niekerk. Foto: Verskaf.

Wat merkwaardig is van die pyporrelkonsert in Paul Roux, is nie net dat só ’n konsert ’n rare gebeurtenis op ’n Saterdagaand in Suid-Afrika is en dat dit nogtans met waardering deur soveel mense bygewoon is nie, maar dat dit deur mense van so ver as Senekal en Bethlehem bygewoon is. Die waarheid is dat die pyporrel en goeie kerkmusiek ’n Aspoester in tradisionele kerke geword het en die knie al meer moet buig voor charismatiese kerkmusiek met ’n meer sekulêre en elektroniese aanslag.

Pyporreliste is aan die uitsterf. Die meeste susterskerke (NG, Hervormd en Gereformeerd) beskik oor noemenswaardige pyporrels van dermiljoene rande. In talle gemeentes is die orrels egter instrumente wat stof opgaar en ’n stille dood sterf. Die susterskerke het die afgelope eeu waarskynlik nie genoeg gedoen om jong musiektalent in gemeentes te identifiseer en na die pyporrel met studiebeurse en geleentheid vir opleiding aan te moedig nie – om nie eens van oefengeleentheid te praat nie. Orrels wat nooit gespeel word nie, is tot nadeel van die instrument.

Is die uiteinde vir pyporrelmusiek dan ’n kerkmusiekkeuse ten gunste van klawerbordinstrumente (keyboards), kitare en tromme?

As dit van Connie van Niekerk, Helena Kriel, Theunis Marais en Ferdi la Grange en ander toegewyde pyporreliste afhang? Néé.

En as dit van Paul Roux afhang – daardie klein Nasaret langs die N5? Ook néé.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Ben ·

Bravo ! Dit was nou n lekker berig om te lees. Wens ek was ook in die gehoor.

karen ·

in my opinie kan geen keybord of kitaar of dromme die kwaliteit en statigheid van ‘n pyporrel klank vasvang of vervang nie. daar is net “iets” aan ‘n pyporrel se klank.

Hans ·

Ek stem saam . Vir my is die orrel die instrument van alle instrumente. Die klank gryp mens aan die hart( is dit die regte uitdrukking?)

Saartjie ·

Wat ‘n slim idee! Miskien moet al die susterskerke in hulle kringe (as dié term steeds gebruik word) begin om beurtelings by een van die kerke so ‘n uitvoering te hou. En nooi almal uit – nie net die lidmate nie.

Krummel ·

Dit klink na ‘n feestelike program. Kan KYKNET nie so ‘n reeks vervaardig met konserte in die verskillende kerke deur die land nie en dit dan op ‘n Sondagaand beeldsend nie.

Peet Schabort ·

Jammer dat dit nie weier geadverteer word. Ek was verlede jaar by ‘n begrafnis op Reitz waar ‘n soortgelyke orrel deur my suster Christine van Niekerk bespeel was. Dis reeds 60 jaar plus wat sy kom met haar gawe. Sy het op ‘n stadium orrel gespeel by 11 verskillende kerke in die Secunda/Eendracht/Kriel-gebied wat onrusbarend aandui die skaarsste van opgeleide orreliste.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.