Radio Kalahari Orkes terug met splinternuwe album

Radio-Kalahari-Orkes-foto

Die Radio Kalahari Orkes. Foto: www.radiokalahariorkes.co.za

Die Radio Kalahari Orkes (RKO) se splinternuwe album, MAMBA! is gisteraand amptelik by ʼn stampvol Atterbury-teater in Pretoria vrygestel. Dit is hul eerste album in vyf jaar.

Die album is oor die afgelope paar jaar geskryf en opgeneem deur Dan Roberts by StoepStudios in Johannesburg.

MAMBA!

Friso Woustra, kitaarspeler van die groep, en Wynand Davel wat bekoor op viool, het by Maroela Media gekuier om te gesels oor die allernuutste mylpaal in die groep se loopbaan.

“Ons het nog al die pad optredes gedoen en ʼn baie lekker vertoning gelewer met die vorige albums se materiaal. Ons het gevoel dit was nog nie tyd vir nuwe dinge nie, maar terwyl ons getoer het, het ons gewerk aan nuwe liedjies. Dit was nóú die regte tyd om alles aanmekaar te sit en ʼn nuwe album uit te bring,” vertel Friso.

Wynand beaam dit: “Die proses is die proses en jy kan dit nie ryp druk nie.”

RKO is ’n roots-musiekgroep en word deur hul aanhangers beskryf as “opwekkingspredikers wat delf in die verlede en rondom die wêreld vir inspirasie”, hoewel die woorde oor die algemeen gewortel is in die hede. Hulle mik vir musiek wat begin in jou voete en deur jou hart reis tot in jou kop. Die musikale progressie van RKO is organies; elke album is ’n testament van waar die skrywers hulle bevind ten tyde van die opname, met die oog daarop om musiek te maak wat weergee waar ons op die oomblik is.

Luister hier na Friso en Wynand se beskrywing van RKO se musiek.

Skrywers en digters

Rian Malan, Dan en Ian Roberts het die meeste liedjies op die album geskryf. Jaco van der Merwe, sanger en digter van die groep Bittereinder, het ook sy skrywershand aan MAMBA! verleen. Die album bevat liedjies wat handel oor mites, historiese staaltjies, politieke insigte, die sondes van ons vaders, liefdesverhoudinge van die Moot en ook tussendeur ’n bietjie komiese vermaak. Musikaal gesproke, glo RKO indien ’n liedjie jou nie laat dans of glimlag nie, moet dit jou laat huil – en natuurlik is dit ’n bonus indien al drie terselfdertyd gebeur.

“Ons musiek en lirieke is tong-in-die-kies, en bring dit op ʼn vol-in-die-gesig-manier na vore,” vertel Wynand. “Dit ry baie op die rûe van stories en dinge wat gebeur het, as jy byvoorbeeld Dawie de Lange se goed wat verwerk is deur Rian Malan vat. Al is dit eintlik maar net dansmusiek, is daar nog steeds iets daarin wat jou tuis laat voel,” sê hy.

Die titel van die album is warm en wild en daar is ’n skop in die klank van die woord. Dis die onmiskenbare klank van Afrika, en natuurlik is dit ook ’n baie skrikwekkende maar pragtige slang. MAMBA! bevat ook meer tale as net Afrikaans (Engels en Xhosa), en gypsy-musiek is ook meer teenwoordig in vergelyking met hul vorige albums.

Friso vertel ʼn staaltjie wat gebeur het tydens die opname van die album. “Die mite is dat die groep kom van ʼn klein radiostasie in Slangfontein. Terwyl ons opneem, kom daar ʼn mamba deur die venster geseil, deur die kamer en weer uit by die deur! Ons het almal net daar verstar gesit en gekyk. Ons het gedink sjoe, dit moet ʼn teken wees, toe gaan ons vir die mamba!” lag hy.

Bobbejaanvlei

Die musiekvideo vir die groep se eerste enkelsnit van die album af, Bobbejaanvlei, is ook onlangs bekendgestel. Die lied is gebaseer op die danse en settees van boeremusiek terwyl dit terselfdertyd terugreik na die Europese en Amerikaanse style wat boeremusiek beïnvloed het. Dit is ʼn dansliedjie en herinner aan ’n Ierse viooldeuntjie.

Die video, ’n eenvoudige konsep vir ’n tydlose liedjie, wys ’n jongman wat graag saam met die meisie, Minnie, na die dans toe wil gaan. Dit is geskiet in die styl van Norman Rockwell se skilderye wat vanaf ’n soortgelyke era kom as waaruit die liedjie kon ontstaan het.

“Wanneer jy die liedjie hoor, is daar ’n verre stem wat die refrein van die liedjie sing, asof op Radio Kalahari. Dit is die stem van Rian Malan, die skrywer van die liedjie wat sy oorspronklike weergawe sing,” sê Wynand.

“Ons het hard gewerk om getrou te bly aan ons missie om die voete, die hart en die kop te vermaak en terug verslag te lewer en te skryf oor ons algemene ervaring hier aan die Suidelike Punt,” vertel die groep. “Luister na die album meer as een keer en die liedjies sal jou bekruip; dit is die teenoorgestelde van pop doef-doef. Kry vir jou ’n lekker stuk biltong, ’n goeie mes en ’n bottel rooiwyn en sit dan terug en geniet die album.”

MAMBA! is beskikbaar by al ons optredes, en ook te koop by uitgesoekte Musica-handelaars landwyd. Daar is ook ʼn toergids op ons Facebook-blad en webwerf,” sê Friso.

Kyk hier na die video vir Bobbejaanvlei.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Wessel Ebersohn ·

Maroela is sowaar die enigste “koerant” wat ek nog lees………Mooi, skoon, interessant en in Afrkaans. Lekker!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.