Radio Kalahari Orkes vereer vir bevordering van volksmusiek

Die Radio Kalahari-orkes (Foto: Verskaf)

Volgens oorlewering het die legendariese Afrikaanse sanger David de Lange, ʼn myner van die Oos-Rand, op ʼn dag ʼn advertensie van ʼn platemaatskappy in ʼn koerant gesien voordat hy by ʼn ateljee ingestap en gesê het hy wil Afrikaanse musiek maak, en daarna oornag een van die grooste Afrikaanse kunstenaars van sy tyd geword het.

Eric Gallo, die man verbonde aan dié platemaatskappy wat vir De Lange ʼn forum gegee het, het later opgemerk: “Dié myner het ʼn goudmyn ontdek, maar nié in die beroep waarmee hy jare lank ʼn inkomste verdien het nie.”

De Lange was volgens Gallo as’t ware ʼn optimis, en ook die sanger wat later die platemaatskappy van ondergang gered het met liedjies soos “Kalfiewals”, “Daisy-polka” en “Liewe Goudstad-polka”.

Later jare het die joernalis en skrywer Rian Malan ná ʼn gesprek met die argivaris Rob Arlingham oor De Lange se musiek gesê: “Die musiek van David de Lange wat hy toe aan my gespeel het, het my kop skoon van my skouers af geblaas. Ek was nooit bewus van die bestaan van sulke Afrikaanse musiek uit daardie jare nie. David was sy tyd 30, 40, selfs 50 jaar vooruit. Die boeremusiek van daardie tyd was alles musiek wat dinge mooi toegedraai het, maar hier kom hierdie ou en sy musiek gaan oor die werklikhede, selfs bitter werklikhede van die werkersklas in die stede.”

Vandag leef De Lange se musiek steeds voort en die Radio Kalahari Orkes sing steeds talle van sy gewilde liedjies. Ian Roberts, akteur en hoofsanger van die groep, het die rol van De Lange ook ʼn tyd gelede op die verhoog vertolk in ʼn Aardklop-verhoogproduksie.

Die Radio Kalahari-orkes tydens die oorhandiging (Foto: Verskaf)

Die Radio Kalahari Orkes is Donderdagaand deur die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) by die Pierneefteater in Pretoria vereer met ’n FAK-Prestigetoekenning vir die uitnemende bevordering van Afrikaanse volksmusiek deur die liedjies van De Lange.

“Die Radio Kalahari Orkes sing vandag nog die musiek van De Lange en daarom word die orkes met dié toekenning vereer,” het Johan Jansen van Vuuren, FAK-woordvoerder, gesê.

Roberts het gesê dié toekenning is ʼn eer vir die groep.

“Dawid was een van die eerste groot skrywers van Afrikaanse lirieke,” het hy gesê. “Hy het humoristiese lirieke geskryf wat ’n spieëlbeeld was van Afrikaners in die 1900’s en dit is ironies, maar daardie humor is vandag steeds van toepassing op Afrikaners.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.