Ray Dylan laat steeds die voete jeuk

Aanhangers wat al lank uitsien na ʼn Ray Dylan-treffer van ouds kan gerus naderskuif vir sy splinternuwe enkelsnit “By jou voete lê”.

Dylan het die lied tydens die inperking saam met Piet Farrell geskryf. Dit is geïnspireer deur een van sy vriende se ervarings in die buiteland en gaan oor Suid-Afrikaanse boere wat in ander lande werk en huis toe verlang.

“Ek het gevoel dat ek ná 14 jaar vir my ondersteuners moet wys dat ek steeds by my klank en musiekstyl hou,” verduidelik Dylan (42).

“Dit is belangrik om jou aanhangers te ken en te weet wat hulle verwagting is. Ek is doodseker dat ek hulle nie gaan teleurstel met my jongste uitreiking nie.”

ʼn Musiekvideo, wat in Parys, Vrystaat, geskiet en deur Wian van der Walt van Vonk Musiek vervaardig is, is Donderdag uitgereik. Die video het reeds byna 40 000 kykbeurte op YouTube.

Die video vertel die verhaal van ʼn paartjie wat al lank saam is en die man het terugflitse van goeie herinneringe wat hulle saam gehad het.

“Ons wissel tussen optredeskote en terugflitse van die paartjie wat saam iets lekker doen, soos piekniek hou of bootry,” vertel Van der Walt. Samantha Maritz en Antonio Abreu is te sien as die paartjie in die terugflitse.

“Ek het dit die meeste geniet om die boot- en motorfietstonele te skiet, omdat dit ʼn vars en dinamiese element tot die video voeg.”

Ray Dylan. (Foto: Tarien Laubscher)

“By jou voete lê” volg in die suksesvolle voetspore van Dylan se vorige treffer, “Torrabaai”, wat in 2020 uitgereik en baie goed ontvang is. Volgens hom was hy so verras oor hoe mense op hierdie enkelsnit gereageer het dat hy dadelik aan die volgende een wou begin werk.

Dylan het op die ouderdom van drie begin kitaar speel. Hy was 12 jaar oud toe hy saam met die Suid-Afrikaanse ikoon Bles Bridges begin toer en optree het.

Hy is ʼn Sama-bekroonde musikant wat oor die jare verskeie goue en dubbelplatinumstatus-albums en -liedjies uitgereik het en is veral bekend vir treffers soos “Hokaai stoppie lorrie”, “Dis verby”, “Jessica”en “Hier binne klop ’n Boerehart”.

Dylan woon op Vredefort in die Vrystaat en werk tans aan ʼn splinternuwe album waarmee hy binnekort op toer gaan. ʼn Samewerking met Juanita du Plessis gaan ook binnekort die lig sien.

“By jou voete lê” is op alle digitale platforms beskikbaar.

Kyk hier na die musiekvideo:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Cathy ·

Ek is ‘n groot aanhanger van Ray en vir my kan hy nie ‘n voet verkeerd sit nie. Ek hou baie hiervan.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.