Ray Dylan sing Roy Orbison

Ray Dylan sing Roy OrbisonIn Desember 1988 is die legendariese sanger, liedjieskrywer en kitaarspeler Roy Orbison in die ouderdom van 52 jaar aan ‘n hartaanval oorlede nadat hy sy solo-album Mystery girl en Volume One saam met The Traveling Wilburys opgeneem het.

Nou het Ray Dylan besluit om ‘n huldeblyk-album vry te stel. Roy se stem kan beskryf word as dié van ‘n kontra-tenoor, seker die hoogste mansstem wat daar is, en dit is eintlik moeilik om sy stemkwaliteit na te doen. Die vraag is of Ray Dylan dit reggekry het, en of hy eerder sy eie ding gedoen het. Die eerste snit op die album is You got it, die eerste treffersnit wat na Roy se dood vrygestel is. Hierop kom ‘n mens al agter dat hierdie twee kunstenaars se stemkwaliteite nie met mekaar vergelyk kan word nie, maar die vraag is of dit regtig saakmaak.

Only the lonely was seker een van Roy se grootste treffers, en dit is al in 1959 vrygestel. Weer eens probeer Ray Dylan nie om soos Roy Orbison te sing nie, en die musiekverwerking is baie getrou aan dié van die oorspronklike opname. Seker die heel bekendste snit wat Roy Orbison ooit opgeneem het, was Pretty woman, wat ‘n internasionale treffer was en opnuut gewild geword het toe dit by die klankbaan van die gelyknamige rolprent met Richard Gere en Julia Roberts in die hoofrolle ingesluit is. Roy het selfs ‘n Grammy-toekenning postuum vir hierdie liedjie gewen. Ray het ‘n baie goeie opname van hiedie groot treffer gemaak. Blue Bayou is seker een van die min liedjies wat Roy geskryf het maar vir iemand anders ‘n treffer geword het. Linda Ronstadt se opname was seker gewilder as Roy s’n. Ray sing hierdie liedjie in ‘n lae register en dit klink baie goed. Roy het self nie gesukkel met die lae note nie, en dit was seker die een snit waarop hy sy vokale reikwydte die beste ten toon gestel het. Weer eens kan Ray hom nie nadoen nie, maar dit maak nie regtig saak nie.

She’s a mystery to me was nog een liedjie wat ‘n treffer na Roy se dood geword het, en ‘n mens wonder hoeveel mense weet dat Bono en The Edge van U2 dit geskryf het. Ray se opname is dalk een van die bestes op die hele album. Gelukkig het Ray nie probeer om daardie hoë noot aan die einde van die oorspronklike opname by te kom nie. Op Working for the man klink Ray baie na Roy Orbison, maar weer eens probeer Ray nie om soos hy te sing nie.

Crying was wel een van Roy Orbison se komposisies, maar Don Mc Lean het ‘n groot treffer in Suid-Afrika daarmee gehad. Na Roy se dood het sy opname van hierdie liedjie saam met k.d.lang (alles in klein lettertjies) ook ‘n treffer. Dit is seker hoekom Ray besluit het om Monique te kry om dit saam met hom te sing. California blue was nog ‘n snit wat op die album Mystery girl voorgekom het en na Roy se dood ‘n treffer geword het. Dream baby was een van Roy Orbison se vroeë treffers, en weer eens het Ray ‘n goeie opname daarvan gemaak.

Daar is net een snit vanaf The Traveling Wilburys se album ingesluit, naamlik Handle with care. Hoewel Roy, soos die ander lede van die groep, op ‘n deel van hierdie snit voorgesing het, is die insluiting daarvan ‘n verrassing. Die een liedjie waarop Roy die hele tyd voorgesing het, was Not alone anymore, maar dalk is Handle with care ingsluit omdat dit The Traveling Wilburys se eerste groot treffer was. Hoe ook al, Ray se opname daarvan is uitstekend. Nog twee snitte wat na Roy se dood gewild geword het en op die Mystery girl-album voorgekom het, is A love so beautiful, wat ook deur Michael Bolton opgeneem is, en The only one.Daar is nog ‘n “nuwe” album na Roy se dood uitgereik, naamlik King of hearts. I drove all night was die treffersnit en Roy kan as die oorspronklike kunstenaar beskou word. Hoewel sy opname en dié van Cyndi Lauper omtrent gelyktydig uitgereik is, het Roy dit eerste opgeneem. Celine Dion het ook later ‘n treffer met hierdie liedjie gehad. Die musikale verwerking op hierdie snit is baie dieselfde as dié van die oorspronklike weergawe. Mean woman en Running scared is twee van Roy se vroeë treffers, en veral eersgenoemde klink baie goed. Op laasgenoemde is Ray se kitaarwerk besonder goed. In dreams is nog ‘n snit waarop Roy in ‘n lae register gesing het, en Ray het hom hier baie goed nagedoen. Die lirieke van Claudette is outobiografies; hy was met haar getroud, maar sy is op ‘n jong ouderdom oorlede. Pretty paper is ook een van Roy se vroeë treffers en dalk minder bekend. Die laaste snit op die album is It’s over en op hierdie snit klink hy nogal baie na Roy.

Dit sou baie maklik gewees het om soos Roy te probeer, maar gelukkig het Ray dit nie gedoen nie. Die beste kompliment wat enigiemand hom kon gee, kom op die omslagaantekeninge voor. Roy se seun, Alex, het vir Ray dankie gesê dat hy sy pa se musiek as sy eie beskou het en getrou aan homself gebly het. Dit is die waarheid; gelukkig het Ray sy eie ding gedoen en tog Ry se nagedagtenis eer aangedoen. Ray het ook bewys dat hy ‘n uiters talentvolle sanger en musikant is wat tot baie beter in staat is as die kommersiële Afrikaanse snert wat hy soms in musiekliefhebbers se keelgate afdruk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae