Reën se Nolene sprei vlerke met sokkietreffer

Nolene Spinks is reg om haar vlerke as solokunstenaar te sprei. (Foto: Jhua-Nine Wyrley-Birch/Maroela Media)

Dit is moeilik om te glo dat byna twee jaar reeds verby is sedert die Nolene Spinks as nuweling saam met Boer soek ʼn vrou se Richann Brüssow as een helfte van die sangduo Reën aangesluit het.

Nou sprei die donkerkopsangeres opnuut haar eie vlerke met die bekendstelling van haar eerste lied as solokunstenaar, “Hou bene hou”.

“Dit was onvermydelik dat my en Richann se paadjies eendag sou skei, maar ons sal altyd goeie vriende bly en wou elkeen die waters self toets en ander drome najaag. Dit is terselfdertyd opwindend én vreesaanjaend,” vertel sy in die Maroela Media-ateljee.

Maroela Media het vroeër berig dat Nolene in 2022 by die groep aangesluit het nadat René de Klerk, wat Richann deur Boer soek ʼn vrou ontmoet het, die groep verlaat het om haar loopbaan in politieke wetenskap na te jaag.

(Foto: Jhua-Nine Wyrley-Birch/Maroela Media)

Saam het Richann en Nolene ʼn kortalbum met treffers soos “Ek kan nie wag nie” en “Skobbejak” uitgereik en die land plat getoer.

Nolene benadruk dat daar nie ʼn spesifieke rede vir die duo se besluit was om aparte loopbane na te jaag nie. “Ek sal altyd so dankbaar vir Reën wees en ek het soveel geleer, maar ek gun dit vir hom en myself en ek sien uit om te sien wat ons albei gaan doen.”

Die Port Elizabeth-boorling skerts dat al Afrikaanse musiek wat sy voor haar tyd by Reën geken het, dié van die duo die Campbells was.

“Ek het grootgeword met Queen en The Beatles se musiek. My sienswyse oor Afrikaanse musiek het verander nadat ek Pretoria toe getrek het. Ek het toe eers mooi besef hoe diep en divers Afrikaanse musiek kan wees.”

Toe die geleentheid vir haar kom om ʼn sololoopbaan te volg, wou sy juis graag die sokkiemark betree, maar skerts dat sy self twee linkervoete het. Daarom die naam “Hou bene hou.”

“Hoe skryf mens ʼn sokkie as jy nie eens kán sokkie nie? Ironies genoeg het dit sommer as die perfekte inspirasie gedien, want selfs dié van ons wat nie goed skoffel nie, verdien ʼn lekker sokkieliedjie,” terg sy.

Nolene vertel voorts dat musiek nog altyd haar tuiste was en dikwels die enigste plek was waar sy “ingepas” het.

Nolene en haar ouers, Sonja en Noël. (Foto: Jhua-Nine Wyrley-Birch/Maroela Media)

“Ek het as kind gedink dat musikale families die norm is. Die wat nie sing of instrument speel in my familie nie, is bobaas met die tegniese aspekte daarvan. Ek ken nie ʼn lewe sonder musiek nie en is bereid om baie hard te werk om seker te maak dat musiek altyd deel van my lewe bly.”

Aanhangers kan uitsien na nog twee enkelsnitte ná “Hou bene hou”, maar die jong engelstemsanger droom verder van ʼn vollengte-album en sal selfs die waters van musiekteater wil toets.

Ook Reën se waters het volgens haar nie noodwendig vir altyd opgedroog nie.

“Ek dink my loopbaanreis is juis getuienis van wat vermag kan word as daar aan die Here se tyd en planne geglo word. Hy het deure vir my oopgemaak waar ek nie eers gedink het daar ʼn deur is nie, so ek wil nie myself ooit inperk nie. Wie weet wat die toekoms sal inhou?”

  • Luister na die volledige onderhoud boaan die berig.
  • Kyk die musiekvideo vir “Hou bene hou” hier:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.