Resensie: Die eggo van jou oë – Jannie du Toit

Jannie-du-Toit

Jannie du Toit. Foto: Facebook.

Sedert Jannie du Toit se eerste album, ʼn Liedjie vir jou, in 1981 vrygestel is, het hy homself gevestig as een van net ʼn handjievol kunstenaars wat met musiek met ware integriteit vorendag gekom het.

Aangesien daar geen platemaatskappy was wat hom aan Jannie se musiek gesteur het nie, het Jannie die album self gefinansier en versprei; nogtans het sy musiek radiolugtyd gekry en het ʼn aantal snitte op daardie album treffers geword. Jannie het vier jaar gelede sy veertigste jaar in die musiekbedryf gevier met die vrystelling van die omvattende versamelalbum, Onderweg. Vir diegene wat hierdie moeilik verkrygbare versameling misgeloop het, is daar goeie nuus. Die eggo van jou oë is ʼn nuwe versameling waarop 25 van Jannie se treffers, of “sy mooiste opnames”, soos dit op die albumomslag gestel word, voorkom.

Jannie het die titelsnit al twee jaar gelede opgeneem, maar dit is nou eers vrygestel. Gisela de Villiers het dit reeds in 1979 geskryf, maar omdat sy op daardie stadium ʼn koorleier was en al haar aandag daaraan gegee het, het die publiek nooit daarvan kennis geneem nie. Nou het dit egter ʼn kans om ʼn treffer te word. As Gisela se naam dalk bekend klink, is dit omdat haar komposisie “Voel jy soms of die Here te ver is?”, in die Liedboek van die Kerk ingesluit is. “Volgende winter” was die titelsnit van die album wat Jannie in 1996 vrygestel het, maar volgens Jannie het hierdie snit nie die radiolugtyd gekry wat dit verdien het nie. “Drie-uur in die môre” was die titelsnit van Jannie se tweede album, en weer eens is dit ʼn snit wat beter moes gevaar het. “Vlieg hoog” is ʼn komposisie van wyle Christa Steyn waarvoor Jannie dié woorde geskryf het. “‘n Liedjie vir jou” was waar alles vir Jannie begin het. Dit was die titelsnit van sy debuutalbum en het sommer dadelik baie gewild geword.

Jannie sing egter nie net in Afrikaans op hierdie album nie, maar ook in Nederlands, onder meer op die twee hoogtepunte van die album. Jannie se kritici beskuldig hom daarvan dat hy ernstig en introspektief is, maar die feit is dat hy ook ʼn skerp humorsin het. Die een snit waarop ʼn mens dit veral agterkom, is “Madeleine”, ʼn komposisie van die legendariese Belgiese sanger en liedjieskrywer Jacques Brel. Jannie sing dit op só ʼn manier dat ʼn mens niks anders kan doen as om te lag nie! Dit was een van twee Nederlandse snitte op die album Palet wat gewild geword het. Die ander een is die introspektiewe en aangrypende “Achter de horizon”. Jannie is ʼn groot aanhanger van die oorlede blinde Nederlandse sanger Jules de Corte wat, volgens Jannie, baie meer van die lewe gesien het as wat ʼn mens van ʼn blinde persoon sou verwag. Die lirieke van Jules de Corte se komposisie “Ik zou wil eens willen weten” laat ʼn mens dink. Die laaste Nederlandse snit is “Liefde van later”, nog ʼn Jacques Brel-komposisie. Jannie verdien volpunte omdat hy besluit het om dit in Nederlands te sing, omdat daar al ʼn paar uiters swak Afrikaanse vertalings daarvan was. “Westewind” was ʼn snit vanaf Jannie se tweede album; Jannie sing net ʼn klein gedeelte en die kitaarwerk op die grootste gedeelte van hierdie snit is baie goed. “Leeuspruit” was die titelsnit van een van Jannie se mees onlangse albums, en weer eens is dit ʼn hoogtepunt van hierdie versameling.

Koos du Plessis het ʼn groot invloed op Jannie se loopbaan en lewe gehad, en “Eenvoud” is ʼn kort gedig wat Koos geskryf het, en deur Laurinda Hofmeyr getoonset is. Daar is vier Christelike snitte op die album ingesluit. Christa Steyn het “Nogtans sal ek juig” na aanleiding van Habakuk 3 vers 17 tot 19 geskryf. “Somerkersfees” was een van Koos du Plessis se bekendste komposisies en is in die Liedboek van die Kerk ingesluit. Jannie het die derde vers daarvan geskryf. “Gee ons vrede” was dalk die grootste Afrikaanse treffer vanaf die album Palet; dis jammer dat die serenadegroep Fortukssimo, wat saam met hom op hierdie opname gesing het, uitmekaar is. Die laaste snit is Andrew Lloyd Webber se bekende “Pie Jesu”, waarop Coenie de Villiers en Chris Chameleon saam met hom sing.

Jannie is een van ʼn handjievol kunstenaars vir wie integriteit nie onderhandelbaar is nie, en hy het nog nooit toegelaat dat enigiemand aan hom voorskryf wat hy moet sing nie. As jy Jannie se musiek nog nie so goed ken nie, moet jy hierdie album by jou versameling voeg. Dit sal jou speen van die kommersiële gemors wat radiostasies en platemaatskappye in mense se keelgate afdruk en jy sal na hierdie album luister lank nadat jy daarvan vergeet het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae