Resensie: ‘100 duisend perde’ – Touch of Class

Album Cover-Touch Of Class

Foto verskaf aan Maroela Media

In die vroeë 1990’s het Deon van der Merwe en Ronell Erasmus die groep Touch of Class gestig en hoofsaaklik lawwe oorspronklike liedjies, asook weergawes van bekende liedjies, opgeneem.

Twee jaar gelede het Ronell egter besluit om haar uitsluitlik op Christelike musiek toe te spits en Ruhan du Toit het hom by Deon aangesluit. Hulle het groot sukses met “Dans in die reën”, met Lieb Bester in die hoofrol in die musiekvideo, behaal en dit was so gewild dat hul eerste album saam, Koffiefontein, heruitgereik is met “Dans in die reën” as titelsnit.

Nou is hulle terug met hul nuwe album, 100 duisend perde, en weer eens bou hulle voort op hul wenresep van oorspronklike en bekende liedjies. Dit is ’n dubbel-CD; op die eerste CD is daar, op een uitsondering na, niks anders as oorspronklike liedjies nie, terwyl die tweede een bekende treffers bevat.

Die titelsnit is beslis ’n moontlike treffer; dit is geskryf deur Michael de Lange, wat met die sangeres Rinel Day getroud is. Arri Opperman was verantwoordelik vir “Dans in die reën”, en hy het die meeste snitte op die album geskryf. Een daarvan is die eerste enkelsnit vanaf die album, “Ek steek my hand op”, ’n patriotiese liedjie wat aanklank sal vind by dié wat hulself as trotse Afrikaners beskou, en dit word reeds ’n treffer. “RSA” sluit hierby aan; dit is ’n komposisie van Elben Schutte en Hennie Kotzé. “Grondpad” is ’n lekker komposisie van Arri Opperman met ’n country-gevoel; weer eens is dit ’n moontlike treffer. “Dis nooit te laat” is nog ’n komposisie van Arri Opperman wat ’n treffer kan word.

Die eerste van twee Engelse snitte op die album is “Heroes of yesterday”, nog ’n komposisie van Elben Schutte en Hennie Kotzé. Pierre Rossouw se bydrae, “Roep die waarheid”, is ’n hoogtepunt, want dit spreek die verkeerdhede in ons samelewing baie goed aan. Dit MOET ’n treffer word! “Old school liefde” is ’n komposisie van Elben Schutte en Lisa-Marie Blignaut wat veral byval sal vind by mense wat nog in outydse waardes glo. “Liefdesbeker” is ’n lekker rock and roll-snit wat deur Arri Opperman geskryf is, en wat radiolugtyd verdien.

Dis moeilik om te glo dat daar hoegenaamd nog liedjies is waarvan die komponis onbekend is, maar “Give me your love” is een daarvan. Tanya Vilance sing dit saam met hulle, en as dit bekend klink, is dit omdat “Gee my jou hart” van Tiro die Afrikaanse weergawe daarvan is. Die volgende snit, “Wat jou hart in glo”, is nog een waarop ’n gaskunstenaar gehoor kan word; hierdie keer sing Jasmyn saam met hulle. Dis hoog tyd dat sy ’n volgende album vrystel!

“Wagon wheels” is ’n komposisie van Jay Secor en Bob Dylan; hierop bewys Ruhan dat hy country baie goed kan sing. “Briefie in ’n bottel” is ’n komposisie van Rudi Claase, en Deon het dit al saam met Ronell opgeneem. Op daardie opname het Deon voorgesing, maar hierdie keer is dit Ruhan se beurt en dit behoort van voor af gewild te word. Die laaste snit op die album is “Sal ek jou ooit weer sien?”, geskryf deur Chris Britz, en hoewel dit die laaste snit is, behoort dit radiolugtyd te kry.

Die tweede CD bestaan uit bekende snitte en drie keurspele. Die eerste hiervan is een van Neil Diamond se treffers, met vyf van dié legendariese kunstenaar se grootste treffers. In 1964 het die destyds 19-jarige Gene Rockwell tot die plaaslike musiekbedryf toegetree met “Heart”, wat ’n reusetreffer geword het. Die oorspronklike weergawe is deur oordrewe emosie gekenmerk, en gelukkig het Touch of Class hiervan weggebly.

“Grassade in die wind” was ’n groot treffer vir Dozi, en Touch of Class se weergawe is enige tyd so goed soos die oorspronklike een. Daarna volg twee keurspele; een met vyf van Creedence Clearwater Revival se treffers en ’n Afrikaanse een, met liedjies wat almal toevallig deur Theuns Jordaan opgeneem is. Een snit waaroor enigiemand in hul middel tot laat veertigerjare opgewonde sal wees, is “Live is life”, wat in 1985 ’n groot treffer vir Opus was. Een van Bon Jovi se grootste treffers was “Bed of roses”, en Deon se kitaarwerk op Touch of Class se weergawe is uitstekend. Mike and the Mechanics se treffer “The living years” sal seker altyd mooi wees, en soos op die oorspronklike weergawe is daar ’n kinderkoor wat saamsing. Die meeste mense ken net een liedjie van Journey, naamlik “Don’t stop believing”, en daarom is dit goed dat hulle een van dié groep se ander treffers, “Open arms”, ingesluit het. Nog ’n snit wat altyd mooi sal wees, en wat op dié album ingesluit is, is “Will you be there?” van Michael Jackson.

Hierdie album versterk my mening dat die vertrek van Ronell Erasmus die heel beste ding was wat met Touch of Class kon gebeur. Ruhan is ’n uiters talentvolle sanger, en hy kan enigiets sing, van rock en country tot klassieke musiek. Hierdie album word baie sterk aanbeveel!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

2 Kommentare

Mien ·

Stem saam dat Ruhan ‘n talentvolle en veelsydige kunstenaar is. Kan nie wag vir ‘n volgende reeks van “My taal is Musiek” nie.

Lorraine ·

Hierdie is ongelooflike Cd veral nommer een geniet ons die meeste. Veral die lied Roep die waarheid. Ons luister dit kliphard en my sewentien jarige staan amper op aandag. Ons het sommer een van die vorige Cd’s ook gaan koop.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.