Resensie: ‘15 Jaar Spesiale Uitgawe’ – Jennifer Zamudio

Jennifer-Zamudio

Jennifer Zamudio. Foto: Facebook.

Dit is nou al 15 jaar sedert Jennifer Zamudio op die musiektoneel verskyn het met haar eerste album en treffersnit, Leef.

Sedertdien het sy al nege albums vrygestel, en om hierdie mylpaal te vier, het sy pas haar jongste album, 15 Jaar Spesiale Uitgawe, vrygestel. Dit is egter nie ʼn trefferversameling nie; sy het vyf jaar gelede laas een uitgereik. Op hierdie album is daar wel ʼn aantal bekende snitte, maar ook nuwe treffers.

Die eerste snit op die album is die nuwe treffer, “Sê dit harder”, wat Rudi Claase vir haar geskryf het en reeds gewild word. Die titelsnit van haar vorige album, “Hart en siel”, is volgende, maar hierdie keer sing Rudi, wat ook hierdie snit geskryf het, saam met haar. Daarom behoort dit weer van voor af gewild te word. “Wind van verlange” is ʼn baie lekker nuwe snit, weer eens ʼn komposisie van Rudi Claase. Dit gaan beslis ʼn treffer word, veral omdat dit vir seker die dansbaan gou vol sal kry.

“Ek sal berge klim vir jou” is ʼn snit wat vir Jennifer ʼn deurbraak was. Dit het die speellys gehaal van ʼn radiostasie wat nie gewoonlik in haar musiek belangstel nie en dit alleen is al ʼn merkwaardige prestasie. Daarom is dit goed dat dit weer op hierdie album ingesluit is. “Ek staan op my knieë” is een van Jennifer se eie komposisies; weer eens kan dit ʼn radiotreffer word. “Die lewe is ʼn liedjie” was die titelsnit van een van Jennifer se vorige albums. Dit is goed om te sien dat dit ook op hierdie album ingesluit is.

Die kitaarwerk op Jennifer se eie komposisie, “Jammer”, is uitstekend en behoort vir seker een van die treffers van dié album te wees. Benewens die kitaarwerk is die woorde iets besonders, omdat dit ʼn mens laat dink. “Gee my net ʼn bietjie liefde” is nog ʼn baie goeie snit wat Jennifer self geskryf het. Die woorde van “Bly aan glo” sal enigiemand wat moedeloos is met die lewe nuwe hoop gee, maar die titel moes eerder “Hou aan glo” gewees het.

As daar een snit is wat ongelukkig kritiek verdien, is dit “ʼn Ster vernoem na jou”. Dit is op dieselfde wysie as Ray Dylan se bekende treffer “Dis verby”. Dit laat ʼn mens wonder: Is dit nodig om meer as een stel Afrikaanse woorde vir dieselfde wysie te skryf? “Sal jy ooit weet” is egter weer een van Jennifer se eie komposisies.

Die laaste oorspronklike Afrikaanse snit op die album is “Maak oop jou hart”, wat Jennifer self geskryf het. Die laaste Afrikaanse snit op die album is “My hart klop vir jou”, wat deur Dieter Bohlen, een helfte van die Duitse sangpaar Modern Talking, gekomponeer is.

Daar is vier bonussnitte op die album ingesluit; almal deur internasionale komponiste. “Eyes wide open” is ʼn snit met die potensiaal om ʼn treffer te word op radiostasies wat nie gewoonlik Afrikaanse musiek speel nie. “Bitter pill” is iets heeltemal anders as wat ʼn mens van Jennifer gewoond is, en daarom behoort dit ook radiolugtyd te kry. Die laaste snit, “Pure light”, is van internasionale gehalte en behoort beslis ʼn radiotreffer te word.

Jennifer was nog altyd een van daardie kunstenaars wat baie gewild op gemeenskapsradiostasies is, maar nog nie heeltemal ʼn deurbraak op stedelike radiostasies kon maak nie. Dit is moeilik om te verstaan hoekom; sy is al gevestig as kunstenaar en oor haar talent kan daar geen twyfel bestaan nie. Hopelik sal hierdie album die hupstoot wees wat sy nodig het; sy verdien dit beslis!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.