Resensie: 4 Warm – 4 Werke

Foto verskaf aan Maroela Media

Foto verskaf aan Maroela Media

Een van die beste maniere waarop ’n platemaatskappy seker kan wees van sukses, is om vier solokunstenaars bymekaar te bring en ’n supergroep te stig.

Dit is presies wat ’n paar jaar gelede gebeur het toe Nicholis Louw, Elizma Theron, Ray Dylan en Monique hul talente saam gevoeg het en 4 Werke tot stand gekom het. Hulle het twee albums saam opgeneem, en nadat ’n groot verandering in die groep plaasgevind het, is hulle terug met hul derde album, 4 Warm.

Monique het die groep verlaat nadat sy van platemaatskappy verander het, en Liezel Pieters het haar plek ingeneem. Liezel het al twee radiotreffers gehad, en haar eerste soloalbum behoort binnekort te verskyn. Die eerste snit op hierdie album is die eerste enkelsnit, “Jy slaan die wind in my seile”, wat reeds besig is om opgang op die meeste trefferslyste te maak. Rudi Claase het al treffers vir verskeie kunstenaars geskryf, en sy bydrae tot die album, “Sê wat jy wil sê”, is nog ’n moontlike treffer. “As is verbrande hout” is dalk een van die beste snitte op die album. As daar een snit is wat mense vinnig op die dansvloer gaan kry, is dit “Die wilde wilde weste.” Emil Struwig en Neil Schoombee het die lekker snit “Draai en draai en draai” geskryf. “Wintersliefde”, wat Nicholis Louw geskryf het, en die lae register waarin Nicholis hier sing, klink baie goed.

Een kenmerk van al 4 Werke se albums tot dusver, was dat hulle nog altyd ook bekende snitte ingesluit het. Die eerste een op hierdie album is Belinda Carlisle se treffer “Leave a light on”. Die volgende snit “My kompas” het ’n lekker country-gevoel, wat ’n mens nie behoort te verbaas as jy in aanmerking neem hoe goed Ray en Elizma country kan sing nie. “This time” is nie so bekend nie; dit is dalk ’n Europese snit wat hulle opgeneem het omdat die liedjieskrywers nie so bekend is nie. Anders as wat mense dalk mag dink, is “’n Bietjie meer tyd” nie die Sonja Herholdt-treffer nie, maar ’n splinternuwe komposisie. Hulle gee die bekende “Kinders van die wind” ’n heeltemal nuwe klank; jy moet self besluit of jy daarvan hou of nie. “Joyride” van Roxette was een van die grootste treffers van die 1990’s, en 4 Werke se weergawe daarvan is baie goed. Die laaste Afrikaanse snit, “Vir ewig lief vir jou”, is baie mooi, en sal hopelik nie ’n weggooisnit wees nie. Die laaste snit op die album is ’n uitstekende weergawe van Sting se treffer “Fields of gold”, wat heeltemal anders as die oorspronklike een klink.

Aangesien ek nie regtig die geleentheid gehad het om na 4 Werke se eerste twee CD’s te luister nie, behalwe natuurlik die treffers, is dit moeilik om te sê of hierdie CD hul beste een tot nog toe is. Aan die ander kant was dit ’n baie goeie idee om vier solokunstenaars saam te voeg en ’n groep te vorm.   Hierdie album behoort baie gewild te word en ’n spul treffers op te lewer!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.