Resensie: 5 dekades van Carike Keuzenkamp

Carike-Keuzenkamp-5-dekades

Vyf dekades van Carike Keuzenkamp. Foto: Verskaf.

In 1967 het ʼn twintigjarige onderwysstudent die Suid-Afrikaanse musiektoneel soos ʼn bom getref toe sy die liedjie “Timothy” in die rolprent Die professor en die prikkelpop gesing het.

Sedertdien het Carike Keuzenkamp ʼn legende in Afrikaanse musiek geword en nadat sy heeltemal té lank stil was, het sy pas ʼn dubbele versamelalbum met die meeste van haar treffers en vyf nuwe snitte vrygestel.

Dit is heel gepas dat een van die nuwe snitte die eerste een op die eerste CD is. “Ek sing my liedjies net vir jou” is ʼn komposisie van Michiel Roets en som haar loopbaan baie goed op. Hoewel “Lang maer blonde man” deur Anton Goosen geskryf is, is dit geen geheim dat dié liedjie oor haar man, die gewese parlementslid en burgemeester van Randburg, Olaus van Zyl, gaan nie.

Toe Carike in 1987 haar veertigste verjaardag gevier het, het sy een van haar grootste treffers tot nog toe, “Dis ʼn land”, opgeneem. Johan Stemmet het die woorde geskryf, en daar is seker geen Afrikaanse liedjie waarvan daar meer uiteenlopende opnames bestaan nie. Snotkop het ʼn “rap”-deel bygvoeg en die refrein behou, terwyl Van Coke Kartel met ʼn meer alternatiewe weergawe vorendag gekom het.

Die volgende snit is die een waarmee alles begin het. Carike se rol in Die professor en die prikkelpop was die gevolg van haar vriendskap met Jamie Uys se dogter. Jamie was die regisseur en draaiboekskrywer van die rolprent en hy het ook die hoofrol vertolk. “Timothy” was ʼn komposisie van die  destydse teologiestudent Dopper Erasmus, wat Olaus en Carike in die huwelik bevestig het nadat hy predikant geword het.

Four Jacks and a Jill se weergawe kan ook in die rolprent gehoor word en dié twee weergawes het in opeenvolgende weke tot Springbok Radio se Top 20 toegetree. Hulle het mekaar gedurende November en  Desember 1967 afgewissel in die eerste plek en albei weergawes was lank saam onder die eerste vyf.

Nog ʼn groot treffer, maar ʼn liedjie wat ongelukkig nie op Springbok Radio se Top 20 was nie, is Anton Goosen se skitterende komposisie “Byeboerwa”. “Die swerwer” is ʼn nuwe snit wat ʼn treffer kan word.  Nog ʼn liedjie wat Anton Goosen vir haar geskryf het, is “Kimberley se trem”, een van die treffers vanaf die album Ek sing….

Jan de Wet het hom die afgelope tyd op Christelike musiek, waarvan hy ʼn pionier in Suid-Afrika was, toegespits, maar sy komposisie “Sarah de Jager” is ʼn ware verhaal wat ʼn groot treffer vir Carike was. Sarah de Jager is ʼn paar jaar gelede oorlede.

“Dit reën in Tsitisikamma” was een van die eerste liedjies waarvoor Jurie Els die woorde geskryf het  en dit het verdien om ʼn treffer te word.  “Heidi” was een van Carike se grootste treffers, veral onder kinders, maar anders as wat mense mag dink, was dit nie haar weergawe wat Springbok Radio se Top 20 gehaal het nie.

Lucille Starr het met “The French song” tot Springbok Radio se Top 20 toegetree toe Carike twintig jaar oud geword het en Carike het dit kort daarna ook opgeneem. Daar is niks met Carike se Franse uitspraak verkeerd nie.  Die laaste snit op die eerste CD is “Saam met jou wil ek lewe”, ʼn pragtige treffersnit vanaf die album Ek sing...

“Jy laat die aap uit die mou” is nog ʼn nuwe snit wat trefferpotensiaal het. Neil Schoombee het die woorde daarvoor geskryf.  Carike het “Bartholomeu Dias”, op die wysie van die Beach Boys-treffer “Sloop John  B” opgeneem net voordat die Dias-fees in 1988 plaasgevind het.  Hierdie snit, asook die volgende een, die pragtige “As die suidoos gaan lê”, was albei vanaf die uiters suksesvolle album Ek sing….

“Dis net ons twee” is nog ʼn nuwe snit waarvoor Neil Schoombee die woorde geskryf het.  Ongelukkig het Carike net met een Afrikaanse snit tot Springbok Radio se Top 20 toegetree, naamlik die lekker Anton Goosen-komposisie “Hoeka toeka”. Hierdie snit het ongelukkig net die sewentiende plek gehaal en twee weke op die Top 20 gebly; dit moes beslis beter gevaar het!

Nog ʼn Anton Goosen-komposisie is die ware verhaal van die konsertinaspeler Silver de Lange. Anton het hierdie snit oorspronklik opgeneem, maar Carike het ook ʼn treffer daarmee gehad. Anton het ook die laaste nuwe snit, “Die laaste tango”, geskryf. Dit is iets baie besonders en ʼn mens hoop regtig dat dit ʼn baie groot treffer gaan word.

“Onthou jy nog” was die titelsnit van een van Carike se albums van die 1980’s en is deur Koos du Plessis geskryf. “Slamaaierwinkel” is ʼn gedig van C. Louis Leipoldt wat deur Jan de Wet getoonset is.

“Johannesburg”  is een van Carike se vergete treffers en dis goed dat dit hier ingesluit is. Anton Goosen het dit geskryf en die woorde laat ʼn mens nogal dink. “Wilgelied” was ʼn treffer vir Carike in die laat 1970’s, maar dit word nie meer so gereeld gehoor nie. Die laaste snit op die tweede CD is Carike se Portugese weergawe van “Kinders van die wind”.

Dis regtig wonderlik dat ʼn dubbele versameling met baie van Carike se treffers eindelik weer beskikbaar is en dat ʼn paar liedjies waarvan ʼn mens amper vergeet het, ingesluit is. Dit sou net beter gewees het as dit ʼn versameling van drie CD’s was; daar is ʼn aantal van haar vroeë treffers van die 1960’s en vroeë 1970’s wat half verlore geraak het en dit is regtig moeilik om die CD Carike: die vroeë jare, waarop baie van hierdie snitte voorgekom het, in die hande te kry. Nogtans is hierdie versameling die moeite werd vir enigiemand wat met Carike se musiek grootgeword het. Welkom terug, Carike en dankie vir die herinneringe!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae