[Resensie] Aardklop: Franse vioolmusiek net vir uitsoekgehoor

Foto: cloveraardklop.co.za

Foto: cloveraardklop.co.za

Clover Aardklop Nasionale Kunstefees bied vanjaar ʼn verskeidenheid musiekproduksies wat ʼn wye gehoor sal bekoor. Minder bekende en “swaarder” musiek het egter ook ʼn plek by dié fees.

Franse vioolmusiek is gemik op ʼn baie spesifieke gehoor met die werk van vier Franse komponiste, naamlik Gabriel Fauré, Claude-Achille Debussy, Francis Poulenc en Charles-Camille Saint-Saëns, wat uitgevoer word deur Zanta Hofmeyr op viool en Elna van der Merwe wat haar op die klavier begelei. Musiek in die produksie is hoofsaaklik afkomstig uit die klassiek moderne era met ʼn dramatiese en soms romantiese aanslag.

Aanhangers van dié komponiste en era sal waardering vir die produksie hê, maar indien ’n mens nie oor die nodige agtergrondkennis beskik nie, kan dit dalk as te swaar ervaar word. Die komponiste is dalk bekend aan die algemene feesganger, maar die werk wat tydens die produksie uitgevoer word, sal nie noodwendig deur Jan Alleman herken word nie.

Die twee musikante kwyt hul uitmuntend van hul taak, en ’n mens kan net hul lof besing. Zanta se viooltegniek is onoortreflik en ’n mens word meegevoer deur haar talent en passie. Elna toor met die klavier. Dié twee musikante vorm ʼn goeie span en vul mekaar baie goed aan.

As dié era se musiek met jou hart praat, is Franse vioolmusiek reg in jou kraal, maar aanhangers van ligte, “kommersiële” of bekende klassieke musiek moet liefs dié produksie vermy.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.