[Resensie] Adam – ‘Hoogtevrees’

adam-hoogtevrees

Adam met hulle jongste album getiteld, ‘Hoogtevrees’. Foto: Verskaf.

Nadat Adam verlede jaar die kort album Young and wild vrygestel het, is hulle terug met hul vierde Afrikaanse album, Hoogtevrees.

Adam bestaan uit Reynhardt Hugo, wat die rol van dr. Tertius Jonker in Binnelanders vertolk, Hugo Ludik, wie se broer Stefan die leier van die groep Elvis se Seun is en die nuwe lid van die groep, Kyle Grant, wat met hul vorige Afrikaanse album, Goud, by Reynhardt en Hugo aangesluit het.

Die album begin met die pragtige a cappella-snit, “ʼn Nuwe seisoen” en die volgende snit is die titelsnit, wat die eerste enkelsnit van die album is. Dit is reeds besig om ʼn groot treffer te word, maar die probleem daarmee is aksente op verkeerde lettergrepe.

“Plak jou hart vas” is nog ʼn goeie snit wat ʼn treffer kan word. “Vergifnis” is ʼn snit waarmee die meeste mense hulle kan vereenselwig, want ons almal was al in so ʼn situasie. “Hartaanval” is een van die lekkerste snitte op die album en dit behoort baie gewild te word.

Enigiemand wat nie eintlik veel het om vir iemand anders te gee nie, sal van die woorde van “Al wat ek het” hou. “Diep ingekerf” is nog ʼn goeie snit wat by ʼn groot gehoor byval behoort te vind.

Daar is twee snitte op die album waarop hulle met ander kunstenaars saamspan. Op “Hel of hoogwater”, sing Die Heuwels Fantasties saam met hulle en dit is ʼn kombinasie wat baie goed werk.

Die kitaarwerk op “Dagdroom” is uitstekend. Dié snit herinner ʼn bietjie aan Justin Bieber se treffer “Love yourself” en dit word in die beste sin van die woord bedoel. Vaughan Gardiner is een van ons land se beste liedjieskrywers en hy sing saam met hulle op “Wat nou?”. Dié snit was ook op Vaughan se laaste album, Sit vanaand op herhaal en daarom was dit ʼn rukkie gelede al ʼn treffer. Dis egter goed dat dit ook op hierdie album ingesluit is.

“Die idee wat tel” is nog ʼn snit wat bekend sal klink, want hulle het dit geskryf en opgeneem vir verlede jaar se Afri-Visie-liedjiekompetisie vir kykNET. Die voorlaaste snit, “Nostalgie (Soet September)” is nog een van die moontlike treffers op die album.

Hulle het egter die grootste verrassing vir die einde van die CD gehou. Tot dusver was al die snitte op die album nuwe en oorspronklike komposisies, maar die laaste snit is ʼn skitterende verwerking van Koos du Plessis se komposisie “As jy my kon volg”.

Die kanse is goed dat hierdie album nie net hul gewildste een tot dusver kan wees nie, maar ook met ʼn paar toekennings kan wegstap.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.