Resensie: Afri-Visie – Hoor my lied

Afri-Visie-Herman-Kleinhans

Joe Niemand en Anna Davel saam met die wenner van die Afri-Visie-kompetisie, Herman Kleinhans. By hulle is Maria Rademan en Pierre Greeff. Foto: Afri-visie.co.za

Deur die jare was daar al verskeie kompetisies waarin daar na die volgende superster in Afrikaanse musiek gesoek is, onder meer Debuut, Ons soek die sanger en Afrikaanse Idols.

Nou is daar egter iets heeltemal anders: kykNet het besluit dit het tyd geword om die volgende groot Afrikaanse trefferliedjie te probeer opspoor, en die Afri-Visie-Skryf ’n Treffer-kompetisie van stapel gestuur. Daar is meer as 1 500 liedjies ingestuur en op die ou einde is daar 26 semifinaliste en tien finaliste gekies. Die Top 26 is pas op CD en DVD uitgereik.

Die eerste snit op die CD is “36 woorde”, wat gesing word deur die uiters talentvolle Anneke Hanekom. Anneke se eerste album het verlede jaar verskyn, en hoewel haar musiek nie noodwendig op die kommersiële mark gemik is nie, behoort hierdie liedjie gewild te word.

Antonie de Jager se komposisie “Landpad na later”, gesing deur Laudo Liebenberg, was een van die tien finaliste en hoe meer ’n mens daarna luister, hoe makliker is dit om te verstaan hoekom. Carlé van Deventer het met Joe Foster, wat voorheen lid van Adam was, saamgespan vir die pragtige “Sing my aan die slaap”.  Die kompetisie het al ’n aantal treffers opgelewer; die eerste daarvan is “As hy vir jou nog  lief was” van Christiaan Baartman.

Emil Struwig was die komponis van die volgende snit wat al ’n treffer geword het, naamlik “Hemel in jou oë”. Emil is saam met Jacques Ceronio en Rinel deel van die groep Janeduke, wat dit sing, en hoewel Rinel reeds ’n gevestigde solokunstenaar is, gaan sy ook deel van hierdie groep bly en dit klink asof hulle binnekort ’n album gaan vrystel.

Lazyboy van Pieter Mohr is een van daardie liedjies waarvan jy baie hou, of wat jy nie sal verdra nie. Dis eintlik skerp sosiale kommentaar oor mense wat heeldag voor die televisie sit en kyk wat om hulle aangaan en ’n mening oor alles het.

Een van die hoogtepunte is ’n liedjie wat eintlik die kompetisie kon gewen het. Gera Phielix  se komposisie “Reën” is een van die heel beste Afrikaanse liedjies wat die afgelope tyd verskyn het, en Loyiso Bala (een van die Afri-Visie-beoordelaars) het tereg gesê dat Gera ’n “classic” geskryf het.  “Verlangebaan” van Heidi van Wyk was nog een van die tien wat die eindronde gehaal het, en weereens is dit maklik om te verstaan hoekom.

Die wenliedjie van die kompetisie was Herman Kleinhans se komposisie “Ek sweer”, gesing deur Twee, en dit is reeds besig om gewild te word. Adam is natuurlik al ’n gevestigde groep, en “Die idee wat tel” was sy inskrywing vir die kompetisie. Dit laat ’n mens wonder; moet gevestigde kunstenaars toegelaat word om in te skryf?

Nog ’n snit wat baie gewild gaan word, is “Na na hey” van Lokka Vox; nog een wat die eerste tien gehaal het. Lokka Vox se regte naam is Anki Delport, en haar broer en skoonsuster is Wynand en Lindi Delport, die twee lede van die sangpaar Anders. “Ons het die funk” van Maresa en Morné is ’n lekker positiewe liedjie wat dié wat moedeloos is oor Suid-Afrika weer sal laat dink. Nog ’n liedjie met ’n sterk boodskap is “Iets om in te glo”, wat ook op Len Muller se debuutalbum voorkom.

Pieter Krugel se komposisie “Laat dit reën”, gesing deur Louis Fivaz, was ongelukkig om nie die eerste tien te haal nie, maar dit is ’n uitstekende liedjie wat gereelde radiolugtyd verdien. ShoNeill is besig om haar as kunstenaar te vestig en haar komposisie “Vas dans” is een van die lekkerste snitte op die album. Johnny Davids het bekendheid verwerf as aanbieder van Kwêla en as krieketkommentator, maar in “Die vure van Du Noon” wys hy dat hy ook ’n baie goeie sanger is.

Die feit dat daar soveel liedjies is wat die eerste tien kon gehaal het maar dit nie reggekry het nie, is ’n bewys dat die standaard besonder hoog was en dit voorspel goeie dinge vir die toekoms. Daarby het dit lanklaas gebeur dat beoordelaars met ware integriteit in hierdie soort kompetisie te sien was: Joe Niemand, Loyiso Bala en die hoofsanger van die Heuwels Fantasties, Pierre Greeff, weet waarvan hulle praat. Dit is ook goed dat die liedjies wat nie die eerste tien gehaal het nie, ook op die CD voorkom en ’n regverdige kans kry om treffers te word.

Hierdie CD kan sterk aanbeveel word; dit bevat ’n groot verskeidenheid musiek wat by die meeste mense byval sal vind en dit gaan ’n spul treffers oplewer!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.