Resensie: Afrikaans is groot volume 7

Afrikaans-is-groot-volume-7

Die nuwe Afrikaans is groot album is gelaai met treffers. Foto: Twitter.com

Die afgelope tyd is die Suid-Afrikaanse treffersparade wat gegrond is op werklike albumverkope oorheers deur verskeie reekse versamelalbums wat met elke volume die eerste plek inneem.

Hierdie neiging het nie ongesiens by die Afrikaanse musiekbedryf verbygegaan nie, en die suksesvolste Afrikaanse versameling tot dusver is Afrikaans is groot. Die vyfde en sesde volumes was besonder gewild, en die sewende volume is onlangs vrygestel. Die Afrikaans is groot-konserte in Pretoria en Kaapstad lok ook elke jaar groot gehore en kaartjies daarvoor is gewoonlik lank vooruit al uitverkoop.

Die eerste snit op die sewende volume is die temalied van Afrikaans is groot, gesing deur al die kunstenaars wat aan dié reeks konserte deelneem en deur Johan Vorster geskryf is. Eden het verlede jaar hul eerste nuwe album in vier jaar vrygestel en die volgende twee snitte kom daarop voor. Liefde was eers liefde is ‘n komposisie van Johan Oberholzer en behoort een van die treffersnitte vanaf daardie album te wees. Eden span saam met Bobby van Jaarsveld op nog ‘n moontlike trefer, Butterflies, wat ook op Bobby se nuwe album voorkom. Riana Nel het verlede jaar met ‘n skitterende nuwe album vorendag gekom, en Tweede kans, die eerste treffersnit, is volgende op dié versameling. Nog ‘n groot treffer van die afgelope jaar of wat, was Land van melk en heuning van Bok van Blerk. Lianie May het verlede jaar weer ‘n terugkeer gemaak nadat sy lank stil was; haar eerste bydrae tot hierdie versameling is Naweeklyfie, wat Jay saam met haar sing. Dit was ‘n treffer, maar baie mense het niks daarvan gehou nie. Bobby van Jaarsveld se nuwe album, Maak ‘n wens, is besig om vinnig gewild te word, en die titelsnit is die volgende snit.

Hoewel Dewald Wasserfall se jongste album, Ek en jy, verlede jaar vrygestel is, is ‘n snit vanaf sy vorige album, naamlik Sewentien, hier ingesluit. Karlien van Jaarsveld se album, Uitklophou, het nog net twee treffers opgelewer, onder meer Ek wil nie kwaad gaan slaap nie, wat hier ingesluit is. Nadat Corlea se treffer Swart koffie op Afrikaans is groot Vol. 6 ingesluit is, het ‘n mens begin wonder wanneer haar volgende solo-album vrygestel sou word. Dit het nog nie gebeur nie, maar sy het Dozi se treffer Grassade opgeneem en dit is hier ingesluit. Soos wat ‘n mens van Corlea kan verwag, is dit iets besonders, en sy sing die refrein ‘n oktaaf hoër as die res van die liedjie. Dit maak nie saak of sy in ‘n lae of hoë register sing nie, sy klink fantasties. Ampie du Preez se solo-album SOS is heruitgereik onder die titel Niks en niemand en dit het onmiddellik gewild geword. Die rede daarvoor is Plain Jane, wat seker een van die heel beste Afrikaanse liedjies van verlede jaar was. Juanita du Plessis en Theuns Jordaan is twee van ons land se beste en gewildste kunstenaars. Hul onderskeie bydraes tot die eerste CD op die versameling, Sterrelose hemel en Moenie, onderskeidelik, was nie juis van hul grootste treffers nie, maar dit maak nie regtig saak nie. Een van die groot hoogtepunte van verlede jaar was die terugkeer van ‘n legende van Afrikaanse musiek. Laurika Rauch se eerste album in vier jaar, Wals wals Willemien, is verlede jaar vrygestel en As ek eendag oud is, het verdien om ‘n groot treffer te word.

Jay se mees onlangse solo-album, Dis hoe ons rol, is al in 2013 uitgereik, en Twee was een van ‘n aantal treffers wat die album opgelewer het. Leah het in die rolprent, As jy sing, haar debuut as aktrise en sangeres gemaak, en Ek moes jou gesoen het, het ‘n groot treffer vir haar geword. Hierdie snit is wel nie ingesluit nie, maar eerder Perfeksie, ‘n nuwe komposisie van Johan Vorster en Christoph Kotze. As dit ‘n voorsmakie van haar debuutalbum gaan wees, gaan Afrikaanse musiekliefhebbers iets hê om na uit te sien. Arno Jordaan se eerste album in drie jaar het ook verlede jaar verskyn, en Richterskaal was een van die treffers wat dit tot dusver opgelewer het. Robbie Wessels se All Blacks teen die All Blacks is sekerlik deur die meeste radiostasiea afgekeur, maar die musiekvideo word nou en dan op televisie gewys. Nadine se album Skildery is besig om gewild te word, en In die manier kan moontlik een van die treffers word. Die laaste snit op die eerste versameling is Wie’t gesê liefde is blind van Gerhard Steyn en Anaïs, vanaf hul album Liefdesoorlog.

Die tweede snit begin met Bobby van Jaarsveld se Totaal finaal, wat hy in die rolprent, As jy sing gesing, het. Riana Nel se tweede bydrae tot die album is By my, maar dit kom nie op een van haar Afrikaanse albums voor nie. Dewald Wasserfall se volgende bydrae is Kerk van teer, wat een van die treffers vanaf sy jongste album kan wees. Theuns Jordaan het tot dusver groot sukses met sy Tribute to the poets-album behaal, maar sy laaste album, Roeper, is twee jaar gelede vrygestel. Die tweede snit van Jay wat hier voorkom, is nog een van sy onlangse treffers, Halwe beker. Bok van Blerk het onlangs ‘n groot treffer met Koue voete warm liefde gehad, en Lianie May se Noodlanding is tans besig om gewild te word. Sedert Willem Botha se Iemand as jou hart breek verlede jaar verskyn het, was dit ‘n gesukkel om dit op CD in die hande te kry; daarom is dit goed dat dit eindelik op ‘n versamelalbum beskikbaar is.

Robbie Wessels se tweede bydrae tot dié versameling is Gym of all nations. Elvis Blue is een van twee voormalige Idols-wenners wat in Afrikaans begin sing het, en een van sy grootste treffers, Spore, is hier ingesluit. Joe Foster het groot sukses met die temaliedjie van die rolprent Pad na jou hart behaal, maar dit is nog nie bekend wanneer sy eerste solo-album vrygestel gaan word nie. Intussen is sy nuwe treffer, Bly net nog so bietjie, ingesluit. Dit is reeds besig om ‘n groot treffer te word. Pieter Koen se sangloopbaan het verlede jaar ‘n nuwe rigting ingeslaan, en die titelsnit van sy jongste album, Wat die hart van vol is, het een van sy grootste treffers tot dusver geword.

Eden se bydrae tot die twee CD is Ai ja jaai, een van hul vroeëre treffers. Juanita du Plessis het twee jaar gelede haar mees onlangse oorwegend Afrikaanse album vrygestel, en Om jou pinkie was een van die treffers wat dit opgelewer het. Die Campbells se musiek het verbeter vandat hulle van platemaatskappy verwissel het, en Vlinders was die eerste treffer vanaf hul jongste album, Fanta en Cola. Jak de Priester het lank laas ‘n nuwe album vrygestel, en Skrif teen die muur het op sy vorige album, Die liefde los ‘n spoor voorgekom. Joshua na die Reën is een van die belowendste nuwe kunstenaars wat die afgelope jaar of wat op die toneel verskyn het, en Lig op die horison het ‘n groot treffer geword. Van nuwelinge gepraat; Stadsboer is ‘n uiters talentvolle nuwe groep en Meer as genoeg behoort baie gewild te word. Hopelik sal hul debuutalbum binnekort verskyn. Die Heuwels Fantasties is een van die min “alternatiewe” groepe wat kommersieel gewild geword het; Die volkslied was een van die treffers vanaf hul vorige album. Die laaste snit is die titelsnit vanaf Hennie Jacobs se album Dit is die land. Hennie is dalk eerder bekend vir sy rol as Diederik in 7de Laan, maar hy is ook ‘n uiters talentvolle liedjieskrywer en sanger.

Daar is geen twyel dat hierdie volume van Afrikaans is groot net so gewild as sy voorgangers sal wees nie. Dit bevat iets vir almal, en daar is ook genoeg nuwe snitte om selfs die kundigste liefhebber van Afrikaanse musiek tevrede te stel.

Hier is die musiekvideo van Ampie se liedjie, Plain Jane:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Tina ·

Dit is vir my so jammer dat ‘Afrikaans is groot’ nie hulle musiek op itunes beskikbaar stel nie. Ek koop glad nie meer cd’s nie, en ek vind al hoe meer mense koop hulle musiek net digitaal. As hulle dan nie gebruik wil maak van itunes nie waarom dan nie hulle eie digitale platform skep om musiek so beskikbaar te stel nie. Maar asb moet dit nie moeilik maak nie, itunes se kaart stelsel werk so lekker, jy hoef nie bang te wees vir internet bedrog nie. Jammer nou maar vir hulle maar as dit nie op itunes is nie koop ek dit nie. Ek hoop hulle lees hier. (Juanita du Plessis se musiek is ook nie op itunes nie). Hierdie mense moet wakker skrik en by hou met die tye!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.