Resensie: Afrikaanse meisies – Gerhard Steyn

Gerhard-Steyn

Gerhard Steyn se nuwe album, Afrikaanse meisies, bevat ‘n hele paar treffers. Foto: Facebook.

Hoewel die Suid-Afrikaanse publiek eers in 2009 van Gerhard Steyn begin kennis neem het met die vrystelling van sy treffer “Baby tjoklits”, het hy reeds vyf jaar tevore tot die musiektoneel toegetree.

Nou is hy terug met sy jongste album, Afrikaanse meisies, wat nie net uit nuwe snitte bestaan nie, maar ook sy grootste treffers van die afgelope dekade bevat.

Die titelsnit is reeds ‘n treffer en die video, wat onderaan verskyn, is gereeld op televisie te sien.  Die 7de Laan-akteurs Werner Coetser en Hennie Jacobs, wat onderskeidelik die rolle van Bernard en Diederik vertolk, is in dié video te sien en Hennie speel ook kitaar in die video.

“Verlief op ‘n dief” en “Natalie” is baie goeie nuwe komposisies wat treffers kan word. Die hoogtepunt onder die nuwe snitte is “Bosveldbloed”, wat hy ook self geskryf het en saam met Richard van der Westhuizen sing. Daar is nog ‘n snit waarop hulle twee saam sing, maar meer hieroor later.

“Ma se woorde” is iets besonders. Gerhard sê hy wou nog altyd ‘n liedjie vir sy ma geskryf het. “Breek vry” is nog ‘n moontlike treffer, veral as gevolg van die positiewe lirieke.  “Hier is my hart” is die voorlaaste nuwe snit en weereens ‘n moontlike treffer. Soos die meeste snitte op die album is dit Gerhard se eie komposisie.

Die volgende snit is ‘n keurspel van treffers van die 1970’s en 1980’s. Dit bestaan uit Clout se treffers “Save me” en “Substitute”, “Mamma Mia” van ABBA, “Gypsy girl” van David Scobie, “(Simply) The best” van Tina Turner en “Don’t stop believin’” van Journey.  Dit sal ‘n mens laat saamsing en dit sal goed werk met konserte, maar of dit regtig op ‘n CD moet voorkom, is ‘n ander vraag.

Die eerste snit wat Gerhard al voorheen opgeneem het, is “In vir ‘n pond, in vir ‘n pennie”, van sy album Liefdesoorlog saam met Anaïs.  Dit is jammer dat hul gesamentlike treffer, “Wie’t gesê liefde is blind”, nie ook ingesluit is nie.

“Jy’s my hartklop” was seker een van Gerhard se grootste treffers en die musiekvideo is gereeld op televisie te sien.  “Diamante vir jou” was nog een van Gerhard se grotes en dit is ‘n skande dat ‘n groot radiostasie die belaglike besluit geneem het om die sopraan-inleiding uit te sny en die liedjie net te begin speel van waar Gerhard begin sing. Hulle moes die liedjie aanvaar het soos dit is of dit algeheel afgekeur het.

As daar een uiters twyfelagtige treffer op dié album is, is dit “Rooi roos”, wat Nadine saam met hom sing. Die rede daarvoor is dat dit ‘n dialoog eerder as ‘n duet is, en dat hulle nooit saam sing nie. “Parfuum” het vanaf Gerhard se CD Brood en melk gekom en dit was die enigste treffer wat dié album opgelewer het.

Gerhard het reeds twee albums vrygestel toe hy “Baby tjoklits” op ‘n niksvermoedende publiek losgelaat het. Dit was die tweede treffer van sy derde album. “Breekbaar”, die eerste een en “Pennies en ponde”, kom later op hierdie versameling voor.

“Een man army” was seker Gerhard se laaste solo-treffer voordat hierdie versameling verskyn het; dit is nog ‘n snit van sy album saam met Anaïs. Die volgende twee snitte is nie noodwendig swak nie, maar ‘n mens wonder waarom dit treffers was. Die musiekverwerking van “Sexy vere” herinner hier en daar aan dié van Bon Jovi se treffer “It’s my life” en daar is darem net van te veel ateljeetruuks gebruik gemaak.

Die lirieke van Dimpels is belaglik. Enige liriekskrywer is sekerlik tot beter in staat as “ek like jou dimpels, dit maak my simpel”. Geen verdere kommentaar nie!

Die oudste snit op die album is “Katryn my meisiekind”, van sy debuutalbum Teen die berg.  Gerhard het die album Tydloos saam met Richard van der Westhuizen opgeneem en een van die snitte van daardie album was “Tussen treine”, wat Richard natuurlik oorspronklik saam met Lochner de Kock gesing het. Hierdie snit kom ook op Richard se nuwe versamelalbum voor. Die laaste snit, “Stealing stars”, is ‘n bewys dat Gerhard ewe goed in Engels as Afrikaans kan skryf.

Hierdie album laat ‘n mens ‘n bietjie met gemengde gevoelens. Gewoonlik besluit ‘n kunstenaar om net een of twee snitte by te voeg as hy of sy ‘n trefferversameling vrystel. Gerhard het egter besluit om byna die helfte van die album nuwe snitte te maak en dit is onrealisties om te verwag dat al die nuwes radiotreffers gaan word.  Daar is minstens vier wat gereelde radiolugtyd sal kry, maar die res sal mettertyd in die vergetelheid verdwyn. Hoe dit ookal sy, as jy geen ander liedjie van Gerhard as “Baby tjoklits” ken nie, moet jy dalk hierdie album by jou versameling voeg. Hoewel nie al die treffers daarop as sodanig beskou kan word nie, is daar genoeg goeie snitte om dit die moeite werd te maak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.