Resensie: Afrikaanse volksmusiek met Beeskraal en vriende

afrikaanse-volksmusiek-saam-met-beeskraal-en-vriende

Foto: Verskaf.

Ons almal het iewers in die verlede, of dit nou onlangs of lank gelede is, kennis gemaak met Afrikaanse volksmusiek, veral dié wat deur die jare in die verskillende FAK-sangbundels voorgekom het.

Nou het die FAK met ʼn nuwe projek vorendag gekom, wat daarop gemik is om hierdie musiek aan ʼn nuwe gehoor bekend te stel. Beeskraal is al jare lank bekend vir hul vermenging van rock- en boeremusiek en hulle het saam met ʼn groep ander bekende kunstenaars ʼn aantal gewilde volksliedjies in ʼn moderner styl verwerk.

Die CD bestaan uit drie dele. Die eerste daarvan is bekende saamsingliedjies wat al volksbesit geword het, maar in die meeste gevalle die afgelope vyftig jaar die eerste keer verskyn het. Die eerste snit is Beeskraal en Gerhard Steyn se verwerking van Groep 2 se lekker saamsing-treffer “Die oukraalliedjie.”

Een van die bekendste volksliedjies is “Blinkvosperd”, wat deur Beeskraal opgeneem is.  Beeskraal het ook ʼn stukkie bygeskryf. “Lied van die Boland” was ʼn treffer vir die A Capella-koor en James en André, wat byna as die moderne Groep 2 beskryf word,  het dit vir hierdie album opgeneem.

“Ver in die ou Kalahari” is nog ʼn lekker saamsingliedjie waarmee die meeste mense grootgeword het.  Beeskraal sing dit saam met Richard van der Westhuizen. Die volgende twee snitte is keurspelle, een van volksliedjies deur Beeskraal en ʼn kampvuur-keurspel deur Lukas de Kock en Danete Smith. Lukas is ʼn mediese dokter en was jare lank ʼn lid van die gebiedsdagbestuur van die Transvaalse Voortrekkers. Dié keurspel sal gewese en huidige Voortrekkers lekker laat saamsing.

Die tweede deel van die CD bestaan uit vaderlandsliedere wat uiteraard meer patrioties van aard is. “O Boereplaas”  is vir hierdie album opgeneem deur Jannie Moolman en dit pas baie goed by hom. Die getroude sangpaar Wynand en Cherée is verantwoordelik vir die bekende saamsingliedjie” Ken jy die land?”, wat deesdae nog gereeld in die Voortrekkers gesing word.

“Die lied van jong Suid-Afrika” is vroeër jare gereeld gesing, nie net in die Voortrekkers nie, maar ook in Afrikaanse skole en Chris Chameleon se weergawe daarvan, saam met die koor A-Minere, is uitstekend.

Een van die vaderlandsliedere wat dalk effens vergete geraak het, is “Dierbaar Suid-Afrika”, wat deur Helene Bester vir dié album opgeneem is.  Chris Chameleon en A-Minere se tweede bydrae tot hierdie deel van die CD is “Afrikaners, landgenote.”  “Uit die chaos van die eeue” word soms op die wysie van “Die stem van Suid-Afrika” gesing, maar Corlea Botha hou by die oorspronklike wysie.

Daar is een baie groot verrassing op die album. Cordelia is besig om haarself te vestig as ʼn uiters talentvolle sangeres . Sy het heeltemal uit haar gemaksone beweeg met die Vrystaatse volkslied, haar bydrae tot hierdie album. Sy het dit in die oorspronklike Nederlands opgeneem. Mens kan byna nie haar stem herken nie en daar is niks met haar uitspraak verkeerd nie. Al wat ʼn mens kan sê, is welgedaan Cordelia!

Die Transvaalse volkslied, “Kent gij dat volk?”, is die volgende snit op die album. Jannie du Toit sing gereeld in Nederlands en daarom kan daar ook geen fout met sy uitspraak gevind word nie.

Die volgende snit verdien ook spesiale vermelding. Die Voortrekkers is vanjaar 85 jaar oud en Jak de Priester het “Sporelied” ter viering daarvan geskryf en opgeneem.  Dit is ʼn maklike lied om te sing, hoewel dit dalk vir sommige mense in ʼn effens hoë toonaard is. Dit sal hopelik ook ʼn groot radiotreffer word.

Die derde deel van die CD bestaan uit vyf Christelike liedere, wat op Voortrekkerwysies gesing word. Linda Malan se eerste bydrae is “Jesus neem ons klein kind hier.” Die Voortrekkerwysie van “Psalm 130” was jare lank omstrede, omdat daar geglo is dat ʼn mens nie jou skuld op ʼn walsmaat mag bely nie.  Nogtans het dié wysie vasgesteek en is dit ook in die Liedboek van die Kerk ingesluit. Linda Malan en Anneke Louw sing dit op hierdie wysie, maar met die oorspronklike Totius-beryming.

Een van die bekendste Voortrekkerwysies is beslis dié van “Psalm `146”. Hannes van der Walt het dit vir hierdie album opgeneem. Rudi Muller het al drie Christelike albums vrygestel en sy bydrae is “Aan U,  O God, my dankgesange”, wat ook as die “Aandgesang” bekendstaan. Weereens word dit op die Voortrekkerwysie gesing. Dié wysie is ook in die Liedboek van die Kerk ingesluit saam met die oorspronklike een.  Die laaste snit is een van die heel mooiste Christelike liedere wat in ons land ontstaan het, naamlik die “Magaliesburgse aandlied”, wat deur Steyn de Wet opgeneem is.

Daar was al verskeie pogings om Afrikaanse volksliedjies aan ʼn jonger gehoor bekend te stel, sommige meer suksesvol as ander.  Met hierdie album het Beeskraal en vriende egter die kol getref. Dit sal jou van voor af na liedjies laat luister wat jy gedink het jy ken, terwyl dit ook ʼn paar vergete liedere aan ʼn nuwe generasie bekendstel. Daarom kan hierdie album sonder voorbehoud aanbeveel word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.