Resensie: Alice in Nashville – Zandré

Omtrent drie jaar gelede het die musiekbedryf, en veral luisteraars na Radio Rippel, vir die eerste keer met Zandré kennis gemaak.

Sy het ‘n merkwaardige prestasie behaal deur met haar heel eerste treffer, Jy’s beautiful, die eerste plek op Rippel se Top 20 te behaal, en dit nogal sonder dat sy ‘n kontrak by ‘n gevestigde platemaatskappy gehad het. Haar tweede album, Somersoene, is ook onafhanklik uitgereik, mar sy het eindelik wel ‘n CD-kontrak losgeslaan.

Haar eerste CD sedertdien, Alice in Nashville, is intussen uitgereik, net betyds om vir ‘n benoeming vir ‘n Ghoema-toekenning in die kategorie vir die beste Afrikaanse country-album in aanmerking te kom. Die blote feit dat daar hoegenaamd so ‘n kategorie bestaan , was die laaste tyd die onderwerp van groot omstredenheid.

Die eerste snit vanaf die album is ook die eerste treffer. Wag-wag is deur Dennis East en Chrizaan geskryf, en as hiedie liedjie haar nie as kunstenaar in die Afrikaanse musiekbedryf gaan vestig nie, weet ek nie so mooi nie. Dit is ‘n lekker saamsingliedjie en die video, at op You Tube te sien is, is beslis die kyk werd. Zandré het die titelsnit saam met Dennis East geskryf. Dennis is ‘n legende van die Suid-Afrikaanse musiekbedryf vir wie jy niks van plaaslike musiek kan vertel nie, en dis goed dat hy dié album vervaardig het. Anton Botha het homself al gevestig as Afrikaanse kunstenaar, en hy het My gedagtes geskryf. Weer eens is dit ‘n baie goeie snit.

Zandré sing nie net Afrikaans op dié album nie, en Hello it’s over is ‘n lekker country-snit wat sy saam met Dennis East geskryf het. Zandré het Julle en ek, geskryf deur Derick Lennox, al verlede jaar op Aardklop gesing, en dit behoort ‘n treffer te word. ‘n Mens wonder of sy so lief vir skoene is soos wat sy hier sing, maar die meeste vroue kan hiermee vereenselwig. Jy weet jy wil is deur die a capella-groep Overtone geskryf, en weer eens is dit ‘n moontlike treffer. Beautiful crazy is nog ‘n goeie country-snit wat Dennis East geskryf het. Oppi radio is nog ‘n komposisie van Anton Botha en, as ek reg onthou, het hy dit ook al opgeneem. Op December rtain wys sy haar veelsydigheid; sy kan ook pragtige ballades soos hierdie een sing. Old days (ek verlang) is een van Zandré se eie komposisies, wat ook ‘n treffer kan word. Sal jy is ‘n komposisie van Rudi Claase, en dit bewys dat Rudi enige tipe liedjie kan skryf. Dit is ‘n lekker saamsingliedjie wat radiolugtyd verdien.

Een snit verdien spesiale vermelding. Zandré het haar broer , Marcel, aan die dood afgestaan, en sy het dit saam met haar ma, Lorraine en haar kêrel, Dewald Jordaan (Arno se broer) geskryf. Dit is ‘n pragtige huldeblyk. Die laaste snit op die album is die enigste een wat nie splinternuut is nie. Zandré het Little bird, wat oorspronklik ‘n treffer vir The Eurythmics se hoofsangeres, Annie Lennox was, ingesluit, en sy gee dit ‘n heeltemal nuwe klank.

Dit is ‘n volstrekte skande dat Zandré nie die toekenning waarvoor sy benoem is, gewen het nie. Die wenners, Heuning, het met ‘n album vorendag gekom wat dalk meer na country klink, maar hulle het onder meer bekende wysies ingesluit waarvoor daar Afrikaanse woorde geskryf is. Dankie tog dat Zandré nie hierdie misdaad teen musiek gepleeg het nie, en dat sy met ‘n heltemal oorspronklike album vorendag gekom het. Daarom het sy eerder die toekenning verdien. Hoe ook al, dit is seker een van die lekkerste verrassings van die jaar, en hopelik sal sy die erkenning kry wat sy van die begin af verdien het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.