Resensie: ‘Alle paaie lei na Rome’ – Jannie Moolman en Corlea Botha

Jannie-Moolman-en-Corlea-Botha

Jannie Moolman en Corlea Botha se jongste album “Alle paaie lei na Rome” word beslis aanbeveel. Foto: Facebook.

As daar een musiekgenre is wat altyd byval sal vind by Suid-Afrikaanse musiekliefhebbers, is dit ʼn kombinasie van ligte musiek en operamusiek.

Twee kunstenaars wat al groot sukses daarmee behaal het, is Jannie Moolman en Corlea Botha. Jannie het reeds op skool as tenoor in die Natalse Jeugkoor gesing en ook die hoofrol in verskeie operas vertolk, terwyl Corlea al van jongs af sing en veral groot sukses saam met Rudi Claase behaal het. Nou het hulle saamgespan vir ʼn duet-album, Alle paaie lei na Rome, waarop hulle saam en afsonderlik sing.

Die titelsnit gaan ʼn reusetreffer word. Dit is ʼn uitstekende nuwe komposisie deur Johan Vorster, Ewald Coleske en Christoph Kotze en gaan vir seker die grootste Afrikaanse treffer van die laaste kwartaal van die jaar wees. “Requiem” is nog ʼn nuwe Afrikaanse duet met trefferpotensiaal. Dit is ʼn oorsese komposisie en daar word nie gesê wie die Afrikaanse woorde geskryf het nie, maar vir ʼn verandering maak dit nie saak nie.

Jannie se eerste solo-bydrae tot die album is “Wie kan nie”, wat weer eens ʼn treffer kan word. Die volgende snitte is baie bekend, en albei is oorspronklik deur onder andere Andrea Bocelli gesing. “Time to say goodbye” was Andrea Bocelli se groot deurbraak in die musiekbedryf, en hy het dit oorspronklik saam met Sarah Brightman gesing. Jannie en Corlea se weergawe vergelyk baie goed met die oorspronklike een. “The prayer” is oorspronklik deur Andrea Bocelli en Celine Dion gesing. En weer eens het Jannie en Corlea ʼn pragtige opname daarvan gemaak.

Jannie en Corlea sing “Jerusalem” saam; dis goed om te sien dat iemand bereid is om iets nuuts met hierdie bekende lied te doen. Hulle sing ook nie die liriek wat Gé Korsten geskryf het nie, maar dit maak glad nie saak nie. Op “Queen of the night” wys Corlea waartoe sy in staat is; sy het ʼn ongelooflike sopraanstem, en net sy weet hoe sy daardie hoë note bykom. Jannie sing “O sole mio” op ʼn tango-ritme, en Corlea sing in die agtergrond. Dit maak dat ʼn mens van voor af na hierdie oorbekende lied luister.

Nog ʼn bekende snit waarin pop en opera gemeng word, is “Barcelona”, wat Freddie Mercury saam met die operasangeres Montserrat Caballé gesing het. Daarom is die feit dat Jannie en Corlea dit op dié album ingesluit het, geen verrassing  nie. Miskien is Jannie en Corlea se opname beter as die oorspronklike een. “Libiamo” is ʼn komposisie van Guiseppe Verdi, wat oorspronklik uit die opera La Traviata kom. Die Belgiese tenoor Helmut Lotti het Engelse woorde daarvoor geskryf; Jannie sing die oorspronklike Italiaanse woorde en Corlea die Engelse woorde, maar hulle sing ʼn deel in Italiaans saam.

Tydens die Afrikaans is groot-konsert twee jaar gelede het Corlea met die treffer “Swart koffie” vorendag gekom, en dis wonderlik dat dit eindelik op ʼn oorspronklike CD, eerder as ʼn versameling, voorkom.

“Jy vat my hoër” is ʼn oorspronklike komposisie van Ewald Coleske en Johan Vorster. Dit gaan byna vir seker een van die treffers van die album word. Met verlede jaar se Afrikaans is groot-konsert het Corlea die Dozi-treffer “Grassade in die wind” gesing; dit is net ongelooflik hoe sy dit regkry om die refrein ʼn oktaaf hoër as die versgedeelte te sing. Dit wys maar net wat haar vokale reikwydte is.

“Herders op die ope velde” is seker een van die heel bekendste Kersliedere, en Jannie en Corlea het ʼn uitstekende opname daarvan gemaak. Dit sal ʼn mens sommer gou aan die sing kry, mits jy eers die musikale verwerking daarvan verstaan. Hulle sing eers die eerste twee verse en daarna die refrein. Dit maak nie saak wat jou musieksmaak is nie, jy sal mal wees hieroor!

Die laaste drie snitte is tydens die afgelope drie Afrikaans is groot-konserte opgeneem, en dis goed dat dit hier ingesluit is. “Volg net jou hart” is ʼn pragtige snit waarop Jannie en Corlea saam sing. Die laaste twee snitte is baie bekend: “Nessun dorma” is deur Giacomo Puccini gekomponeer en kom oorspronklik uit die opera Turandot. Luciano Pavarotti het ʼn groot treffer daarmee gehad toe hy dit tydens die Wêreldbeker-sokkertoernooi in 1990 in Italië gesing het. Jannie en Corlea sing dit saam, en ʼn mens hoef nie te sê dat dit fantasties klink nie. Die laaste snit op die CD is “Caruso”, wat ter nagedagtenis aan die Italiaanse tenoor Enrico Caruso gekomponeer is. Caruso is in 1921 oorlede.

Dit gebeur nie sommer dat ʼn CD ʼn mens só oorrompel dat jy dit sonder voorbehoud kan aanbeveel nie, maar in Jannie en Corlea se geval kan jy nie anders nie. Daar is iets hierop vir liefhebbers van ligte sowel as meer ernstige musiek en ʼn mens kom vinnig agter dat hulle twee van die beste stemme in die musiekbedryf het en werklik kán sing. Gaan voeg hierdie album sommer dadelik by jou versameling!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.