Resensie: Alles wat mal is – Die Heuwels Fantasties

Gewoonlik behaal musiek wat op ‘n “alternatiewe” gehoor gemik is, nie kommersiële sukses nie.

Die Heuwels Fantasties is egter ‘n uitsondering op die reël; hul gelyknamige debuutalbum het dalk nie die amptelike trefferslys gehaal nie, maar ‘n snit vanaf daardie album, Klein tambotieboom, is by die nuwe FAK-sangbundel ingesluit. Met hul tweede album, Wilder as die wildtuin, het hulle egter groot sukses behaal en sowaar die eerste plek op RSG se Top 20, gebaseer op werklike albumverkope, losgeslaan. Nou is hulle terug met hul derde album, Alles wat mal is, en dit lyk of hulle op hierdie sukses gaan voortbou.

Die eerste snit, Beloofde land, word op omtrent alle radiostasies gehoor. Dit is maklik om te verstaanomdat dit tot ‘n baie groter gehoor spreek as wat ‘n mens sou dink. Die tweede snit, Deesdae, kan maklik ook ‘n radiotreffer word. Die tweede treffer op die album is Rofstoeigreep, weer eens ‘n skitterende liedjie wat gaan maak dat die album net nog beter sal verkoop.

Baie mense sal hulle van rymelary beskuldig na aanleiding van die lirieke van Ek sou wou, maar in werklikheid is dit nie te sleg nie. Die kitaarwerk op Jonk tot môre is baie goed, maar dit is dalk nie kommersieel genoeg vir die radio nie. ‘n Baie interessante samewerking kan op Koolstofdrome gehoor word; die Gugulethu Tenors sing saam met hulle, en dit alleen is genoeg rede om te verseker dat dit ‘n radiotreffer word. Die titel van die album kom uit ‘n reël van hierdie snit. Die volkslied is allesbehalwe Nkosi sikelel ’iAfrica, maar eerder ‘n baie goeie nuwe snit.
Die akoestiese kitaarwerk op See alleen is uitstekend, en hoewel dit effens rustiger as die meeste ander snitte op die album is, is dit ‘n moontlike treffer. Warrelwindsaadjie is nog ‘n goeie snit, en die kitaarwerk is beslis deur die 1960’s beïnvloed.

Die Heuwels Fantasties is ‘n bewys dat ‘n mens jou nie tot vrot lirieke, oorsese wysies me Afrikaanse lirieke of ander bemarkingsfoefies te wend om sukses te behaal nie; in hul geval is goeie musiek waarvoor jy nie sommer moeg sal word nie, genoeg. As jy hierdie album nog nie by jou versameling gevoeg het nie, moet jy dit so gou moontlik doen!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.