[Resensie] Amanda Strydom: Die verhoog is haar wêreld

Foto: Facebook/Amanda Strydom

Amanda Strydom en Coenraad Rall. Foto: Facebook/Amanda Strydom

Ek geniet ʼn verskeidenheid produksies, veral dié wat jou uit jou gemaksone vat en bietjie laat nadink. Ek hou selfs van dies wat ek nie heeltemal verstaan nie, want dit beteken ek moet met ander mense praat om te hoor wat hulle dink. ʼn Produksie wat jou laat dink én laat praat, is baie goed.

Maar ek moet bieg, ek is versot op produksies wat my laat voel – wat my hart kan raak. Amanda Strydom se vertoning ʼn Rugsak vol robyne is só ʼn vertoning.

Met dié produksie vier Amanda Strydom haar 60ste verjaardag en die saal is stampvol. In die ry voor my sit drie jong meisies en neem ʼn klomp “selfies”. “Ons is 12 en 13, tannie,” sê hulle vir my. “Nee, tannie, dis ons eerste keer,” toe ek vra of hulle al ooit vir Amanda hoor sing het. Ek glimlag by myself want ek weet hulle gaan vandag iets leer.

Ek was al by verskeie Amanda-vertonings en elke keer probeer ek iets nuuts opmerk. Ek het lank al geleer dat sy is ʼn ongelooflike aktrise is en dat sy ʼn gedig kan voordra soos min. Ons almal weet tog sy kan sing, maar in vanjaar se produksie het ek besef wat ʼn ongelooflike storieverteller sy is. Sy deel staaltjies uit haar verlede; sy vertel van haar tuisdorp, Port Elizabeth, en sy gesels oor haar gesin, van ouer word, van jonk wees. ʼn Mens vergeet skoon dat sy een of ander tyd moet sing. Haar vertellings kom eerlik sonder pretensie en haar stories is verweef met mooi en hartseer. Jy gaan ook lekker lag as jy hoor hoekom sy die liedjie “Stoom” geskryf het…

“Ek het vrede met myself,” sing Amanda. Ja, dit het sy beslis. Daar is ʼn gemaklikheid as sy sing, praat en dans. Die “grootste robyn in haar rugsak”, so sê sy, is Coenraad Rall wat haar begelei, en soos altyd is hy ook meesterlik.

Ek het geen kritiek oor die produksie nie, ek het hard gesoek, glo my. Ek het selfs die 12- en 13-jariges voor my gevra wat húlle van die vertoning gedink het. “Ja, tannie, ons het baie daarvan gehou, sy is baie cool.”

Nou ja, daar het jy dit. Amanda Strydom ís cool.

ʼn Rugsak vol robyne is te sien by Aardklop op 6,7 en 8 Oktober. Kaartjies kos R120.00 by Computicket.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.