Resensie: As jy hier is – Arno Jordaan

Arno-Jordaan-As-jy-hier-is

Arno Jordaan se nuuste album, As jy hier is. Foto: Arno Jordaan se Facebookblad.

Soms gebeur dit dat ‘n mens ‘n bietjie langer moet wag vir ‘n nuwe CD van ‘n kunstenaar wanneer sy persoonlike omstandighede verander het.

Arno Jordan se vorige CD is omtrent drie jaar gelede vrygestel. Intussen is hy getroud en het hy pa geword, maar sy jongste album, As jy hier is, is onlangs vrygestel. Johan Oberholzer het die titelsnit geskryf, en dit het die eerste enkelsnit vanaf die album geword. Laat die wiele rol is die jongste treffer en dalk die beste snit op die hele album. Ewald Coleske en Christoph Kotze het dit geskryf, en dit gaan byna verseker een van Arno se heel grootste treffers ooit word. Arno het Richterskaal in 2013 vir die eerste keer op Afrikaans is groot gesing, en intussen het dit ook ‘n treffer geword. Johan Oberholzer het verskeie liedjies op die album geskryf, en Wat ons twee het, is een daarvan. Dit is effens rustiger as die meeste ander snitte, maar dit is goed genoeg om vir radiolugtyd oorweeg te word. Niks is nog ‘n spanpoging van Ewald Coleske en Christoph Kotze; dit het ‘n lekker ritme en dit behoort ‘n treffer te word. So maklik om jou lief te hê is nog ‘n komposisie van Johan Oberholzer, en hierop wys Johan weer eens dat hy ‘n goeie liedjieskrywer is.

Kan nie langer wag nie is nog ‘n goeie snit, weer eens geskryf deur Ewald Coleske en Christoph Kotze. Vinniger sal veral by die jonger geslag byval vind. Op Herhaal sing hy van twee mense wat mekaar nie kan verdra nie maar ook nie sonder mekaar kan klaarkom nie. Ongelooflik is weliswaar deur Johan Oberholzer geskryf, maar Arno dra dit aan sy seuntjie op. Rudi Claase het vier snitte tot die album bygedra; die eerste een is Bly stil soen my. Rudi het al vir die meeste kunstenaars in die bedryf liedjies geskryf, en hy ken elke kunstenaar se teikengehoor goed genoeg om te weet watter liedjies hy vir wie moet skryf soos hy hier bewys. Arno het Draai om al voorheen opgeneem, maar dit is weer as ‘n bonussnit ingesluit. Rudi kan selfs ‘n rugbyliedjie skryf soos hy op Spring Bokke bewys. Arno het self rugby gespeel voordat hy begin sing het, en dit was seker onafwendbaar dat hy een of ander tyd ‘n rugbyliedjie sou sing. Die laaste snit is sy groot treffer Engele, maar hierdie opname is die een wat hy by Afrikaans is groot in 2012 gemaak het.

Arno se aanhangers moes lank wag vir hierdie CD, maar dit was die moeite werd. Die feit dat daar in ‘n kort tydjie reeds drie treffers vanaf die album was, vertel ‘n eie storie; Arno is terug met mening, en hoewel daar een of twee snitte is wat dalk kritiek verdien, is dit heel moontlik sy beste album tot dusver.

Hier sing Arno Jordaan sy treffer, Richterskaal, by Afrikaans is Groot se 2013-konsert:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.