Resensie: ‘As jy weet dis liefde’ – Charlize Berg

as-jy-weet-dis-liefdeCharlize Berg het omtrent drie jaar gelede haar debuutalbum uitgereik. Dit was ʼn album wat verskeie treffers opgelewer het, onder meer “Waar is jy Romeo?”, “Jy’t belowe” en “Sit my net saggies neer”. Dié album is later heruitgereik nadat sy ’n treffer met “Hallo hallo” gehad het.

Nou is sy terug ná ’n lang stilte met haar nuwe album, As jy weet dis liefde. Die vraag is of sy dieselfde soort sukses as met haar eerste album gaan behaal.

Die titelsnit is ’n komposisie van Johan Oberholzer, en dit behoort een van die treffers op dié album te wees. “Asof liefde nie seermaak nie” is ’n oorsese melodie met Afrikaanse lirieke, en dis ’n jammerte dat hierdie neiging steeds sy kop in Afrikaanse musiek uitsteek.

Charlize het die treffersnit “Braaf” saam met Roux Cloete en Bouwer Bosch geskryf, en dit het dadelik gemengde reaksie ontlok. Hoewel dit besig is om die trefferslyste van die meeste radiostasies uit te klim, is daar mense wat nie daarvan hou nie.

“My hart myne” is eintlik al ’n rukkie gelede uitgereik en in dié snit kom ’n mens agter dat Charlize as kunstenaar gegroei het. Hierdie snit is ook geskryf in samewerking met Roux Cloete en Bouwer Bosch.

“Hartseer hart” is ’n oorspronklike en nuwe komposisie van Vaughan Gardiner, en weer eens is dit ’n snit met trefferpotensiaal.

Die woorde van “Ontbreek” maak nie eintlik sin nie, want jy kan nie “Unbreak my heart”, soos wat Toni Braxton gesing het, met “Ontbreek my hart” in Afrikaans vertaal nie. “Kry my in die middel” het Charlize saam met Johan C. Venter en Joe Foster geskryf en dit is dalk een van die beste snitte op die album.

“Losbreek” is ’n goeie snit wat Roux Cloete en André Scheepers saam geskryf het, en hierin verwoord sy baie mense se versugting om net weg te kom uit ’n ongelukkige verhouding.

Johan Oberholzer se tweede bydrae tot dié album is “Nooit weer is te vroeg”, wat ook dalk ’n treffer kan word. “Breek” is nog ’n oorsese melodie met Afrikaanse lirieke. Daar word nie gesê wie vir die Afrikaanse woorde verantwoordelik was nie.

Die laaste snit op die album is ’n verrassing. Charlize het met Joe Foster saamgespan vir “Before I knew”, wat Johan C. Venter saam met hulle geskryf het.

Met hierdie album kom ’n mens agter dat Charlize meer volwasse is, nie net as kunstenaar nie, maar dalk ook as mens. Daar is wel ’n paar snitte wat kritiek verdien, maar oor die algemeen is dit ’n album wat baie gewild behoort te word.

Musiekvideo van “My hart myne”, een van die snitte op die album:

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.