Resensie: Bapsfontein Live – Die Campbells

Die-Campbells

Die Campbells se treffers is nou ook op ‘n DVD beskikbaar. Foto: Die Campbells se Facebook-blad.

Hoewel Tony en Harry Campbell eers in 2002 regtig sukses behaal het met hul tweede album, Rooi rok bokkie, vier hulle vanjaar hul 15de jaar in die plaaslike musiekbedryf.

Ter viering van dié mylpaal het hulle pas ’n DVD uitgereik met hulle 50 snitte, waaronder hul eie treffers en bekende snitte. Dié DVD is opgeneem by die Bapsfontein-hotel, oos van Pretoria, waar daar jare gelede gereeld country-musiekfeeste gehou is.

Die eerste snit op die DVD is “Vlinders”, die eerste enkelsnit op hul jongste album, Fanta en Cola.

In die 1970’s het Tommy Oliver ’n treffer met “’n Honderd jaar” gehad, ’n liedjie wat die Campbells jare later opgeneem en self sukses daarmee behaal het.

Die derde snit is hul eerste groot treffer, “Rooi rok bokkie”, wat in die nuwe FAK-sangbundel ingesluit is.

Die eerste bekende oorsese snit op die album is Kenny Rogers se treffer “The Gambler”.

“Parapapa”, ’n treffer vir Snotkop, is ook op dié DVD ingesluit. Nog ’n bekende Afrikaanse liedjie wat eers ’n treffer vir ’n ander kunstenaar was, is “Drie pikkewyne”, Jakkie Louw se eerste groot treffer.

Pieter Smith en DJ Ossewa het ‘n treffer met “Stukkie van der Merwe” gehad en dit pas goed by die Campbells se styl. “Yvonne” was een van die treffers op die album Voet in die hoek, hul eerste album sedert hulle van platemaatskappy verander het.

“Cotton Eye Joe” was Rednex se enigste treffer en dis maklik om te verstaan waarom hierdie groep nooit weer die trefferlyste gehaal het nie. Dit is die soort liedjie wat country-musiek ’n minder goeie naam gee en maak dat mense nie na behoorlike country wil luister nie.

Die Campbells kan ook rock ’n roll, soos hulle op Bill Haley en Elvis Presley se onderskeie treffers “Rock Around the Clock” en “Blue Suede Shoes” bewys. Harry bespeel die elektriese kitaar en soos ’n mens op die Shadows-treffer “Guitar Boogie” kan hoor, weet hy wat hy doen. Gewoonlik is Tony die voorsanger, maar op “Jaloers-bokkie”, wat ’n treffer vir hulle én vir Thys die Bosveldklong was, is dit Harry wat voorsing.

Dis ’n skande dat oorsese country-liedjies eers gewild word as ’n plaaslike kunstenaar of groep dit uitvoer. Een voorbeeld hiervan is “Hillbilly Rock Hillbilly Roll” wat oorspronklik in die 1990’s deur The Woolpackers opgeneem is, maar eers ’n treffer geword het nadat die Campbells dit opgeneem het.

Tony en Harry Campbell se pa, Harry (senior), sing “Clap Your Hands and Stamp Your Feet” saam met hulle. Dit was ’n groot treffer in Suid-Afrika vir Maria, maar dit was die Nederlandse sangeres Bonnie St. Claire wat dit oorspronklik gesing het.

Nog ’n snit waarop Harry (senior) saam met sy twee seuns sing, is “Cotton Fields”, gewild gemaak onder andere deur die Beach Boys en Creedence Clearwater Revival.

Een van die heel grootste treffers deur ’n Amerikaanse country-kunstenaar in Suid-Afrika is “Rhinestone Cowboy” wat deur Glenn Campbell gewild gemaak is.

“Voet in die hoek” was die titelsnit van die Campbells se voorlaaste album en die musiekvideo van hiedie snit is ook op die DVD te sien. Een uitstaande kenmerk van die musiekvideo, asook van die omslag van daardie album, is die legendariese country-sanger Lance James se pragtige Ford Mustang.

Die volgende snit is Kenny Loggins se temaliedjie uit die gewilde rolprent Footloose.

“Fanta en Cola” was die titelsnit van die Campbells se mees onlangse album en die musiekvideo van hierdie snit is ook op die DVD.

“Loslappie” is seker een van Kurt Darren se eerste groot treffers, maar nie almal het daarvan gehou nie. Dieselfde geld Blackie Swart se groot treffer “Liewe Lulu”. Fredi Nest is al jare lank in die musiekbedryf, maar “Getoor” is een van die liedjies waarmee hy tien jaar gelede sy groot deurbraak as sanger gemaak het.

“Bietjie bietjie lam” is een van die Campbells se oorspronklike treffers wat hulle saam met die grootbase van hul destydse platemaatskappy geskryf het, en hulle het destyds (hoofsaaklik geregverdigde) kritiek vir hierdie snit gekry. Dit was nie die laaste keer wat dit sou gebeur nie.

“Karate-water” is een van die nuwe snitte van hul jongste album, Fanta en Cola, maar dit het nog nie so ’n groot treffer geword nie.

Die Campbells het drie van Worsie Visser se treffers ingesluit: “Lekker ou Jan”, “Boesmanland” en “Wikkel daai boude”.

Een van die belaglikste snitte wat die Campbells tot nog toe opgeneem het, is “Burger dans”. So iets werk goed in ’n konsertopname soos dié, maar dit het geen sin om op CD daarna te luister nie.

“I Just Can’t Get Enough” was een van Depeche Mode se eerste treffers, maar dit het eers jare later gewild geraak en deesdae word dit deur baie kunstenaars tydens konserte (en op CD) gesing. Die ander twee liedjies wat saam met dié een as ’n keurspel ingesluit is, is “I Gotta Feeling” van Black Eyed Peas en “Gangam Style” van Psy.

“500 Miles” is eintlik niks anders nie as The Proclaimers se holrug geryde “I’m Gonna Be”. “You’re My Mate” was ’n treffer vir Right Said Fred, maar ook die titelsnit van die Campbells se heel eerste album.

Een van die minder goeie snitte op die DVD is “Sjoe sjoe”, op die wysie van die 1980’s-treffer “My Toot Toot”.

“Stoutgat” is ook een van die snitte op hul nuwe album, en weer eens is dit ’n snit wat baie kritiek tot gevolg gehad het. Daar is ook ’n lyndans op die maat van hierdie snit uitgewerk en dié video is ook op die DVD te sien.

“Meisie sonner sokkies” is ’n komposisie van David Kramer wat hy ook oorspronklik opgeneem het, maar waarmee die Campbells ook ’n treffer gehad het. “Bikini” is’n komposisie van Anton Myburgh  en dit was een van die Campbells se oorspronklike treffers.

“Mamma Maria” is die titelsnit van een van die Campbells se vorige albums, maar dieselfde wysie is in die 1980’s vir ’n liedjie deur die sangpaar Innes en Franna gebruik. Was dit nodig om meer as een stel Afrikaanse woorde vir dieselfde wysie te skryf? Daar is nóg ’n liedjie waarvan dieselfde gesê kan word, maar meer daaroor ’n bietjie later.

Creedence Clearwater Revival se musiek is nog altyd gewild en daarom is dit seker nie snaaks nie dat die Campbells twee van hul treffers, “Midnight Special” en “Bad Moon Rising”, ingesluit het.

Een van die verrassings op die DVD is ’n goeie weergawe van Gé Korsten se groot treffer “Liefling”.

Hoe minder ’n mens egter van die titelsnit van die album Daar’s iets inni water sê, hoe beter.

“Sewe soene” is die ander snit op ‘n wysie waarvoor daar reeds ander Afrikaanse woorde bestaan. ’n Paar jaar gelede het Gerrie Pretorius en Sindy Claassens ’n liedjie met die naam “Sewe sondes” op dieselfde wysie gesing.

Die laaste snit op die konsert-gedeelte van die DVD is Bryan Adams se treffer “Summer of ’69”. Benewens die konsert is die musiekvideo’s van “Voet in die hoek”, “Fanta en Cola”, “Stoutgat”, “Vlinders” en “Yvonne” ook op dié DVD.

Op die ou end hang dit af van wat jy van die Campbells se musiek dink. As jy daarvan hou, gaan jy hierdie vertoning geniet. Indien nie, sal jy sommer gou geïrriteerd raak. Jy moet maar self besluit wat jy daarvan gaan maak.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Pierre Celliers ·

Verbasend, die Afrikaans sprekende aanhang van hierdie twee!
Maar, kyk jy na die Afrikaanse musiek gehoor se musiek smaak in die algemeen,
is dit seker te wagte.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.