Resensie: ‘Beautiful Beautiful Hymns’ – Rocco de Villiers

Rocco-de-Villiers-03

Rocco de Villiers. Foto: Facebook.

Die afgelope paar jaar het Rocco de Villiers hom gevestig as een van ons land se gewildste klavierspelers, veral met albums soos Stunning en Country Keys.

Nou het hy ʼn heel nuwe rigting in sy loopbaan ingeslaan met sy jongste album, Beautiful Beautiful Hymns, waarop hy van die bekendste kerkliedere ter wêreld speel. Soos Rocco in ʼn onlangse radio-onderhoud gesê het, het hierdie musiek die toets van die tyd goed deurstaan, veral omdat die meeste daarvan al ʼn paar honderd jaar oud is.

Die eerste snit is die bekende ‘Amazing Grace’, wat natuurlik in Afrikaanse kerke as ‘Genade onbeskryflik groot’ bekend is. Op hierdie snit word ʼn doedelsak-orkes ook gehoor en dit pas besonder goed by hierdie lied.

Die volgende snit, ‘Abide with Me’, is net so bekend; Afrikaanse kerkgangers sal dit ken as ‘Bly by my, Heer’, wat gereeld op begrafnisse gesing word.

Franz Schubert se bekende ‘Ave Maria’ het vroeër jare groot omstredenheid veroorsaak. Enigiemand wat die rolprent Lied in my hart gesien het, sal onthou hoe die karakter wat Gé Korsten verolk het, dié van ʼn predikant, dié lied op ʼn troue gesing het en byna uit die kerk geskop is omdat dit beskou is as ’n Roomse lied.

‘Blessed Assurance’ is ʼn lied waarmee almal grootgeword het; vroeër jare was dit die Halleluja-lied ‘Blye versekering’, maar deesdae staan dit in Afrikaans bekend as ‘Ek weet vir seker’. Rocco het die ritme wel effens aangepas.

Met Kersfees wat nader kom is dit dalk nie ʼn verrassing nie dat ‘The First Noël’ ingesluit is; dit is immers een van die bekendste Kersliedere. Ouer luisteraars sal dit onthou as die Halleluja-lied ‘By Bethlehem in winterkou’.

Een van die beste snitte op die album is ook een van die grootste verrassings, ‘An American Trilogy’, wat bestaan uit ‘Dixieland’, ‘All my Trials’ en ‘Battle Hymn of the Republic’. Hierdie snit het in die 1970’s opnuut gewild geword toe Elvis Presley dit gesing het.

Nog ʼn bekende Kerslied wat Rocco ingesluit het, is ‘Hark the Herald Angels Sing’, wat ons as ‘Hoor die blye eng’lelied’ ken. Dit is die oudste snit op die CD, en dateer van 1739.

‘Holy Holy Holy’ is een van die bekendste liedere in die Liedboek van die kerk en ons ken dit as ‘Heilig heilig heilig’, ’n lied wat gereeld tydens eredienste gesing word.

Geen versameling van bekende kerkliedere sal volledig wees sonder ‘How Great Thou Art’ nie, en Rocco se vertolking daarvan is besonder goed.

‘Nearer my God to Thee’ is nog ʼn snit waarop ʼn doedelsak-orkes gehoor kan word.

‘Oh Holy Night’ is seker een van die heel mooiste Kersliedere en Rocco se weergawe daarvan is treffend.

As daar een snit wat almal ken en ʼn mens dadelik wil laat saamsing, is dit ‘Onse Vader’, wat natuurlik ook in die Liedboek voorkom.

‘Onward Christian Soldiers’ is nog ʼn snit wat ouer luisteraars goed sal onthou; dit het die Halleluja-lied ‘Voorwaarts Christenstryders’ geword. ‘The Holy City’, ook bekend as ‘Jerusalem’, is nog een van die hoogtepunte op die album.

Nog ʼn snit waarsonder ʼn album soos hierdie een nie volledig sou wees nie, is ‘Silent Night’, sonder twyfel een van die bekendste en mees geliefde Kersliedere.

Hoewel Rocco een van ons land se gewildste instrumentaliste is, het hy hierdie keer vorendag gekom met ʼn album wat nog groter byval gaan vind as enige van sy vorige albums. Soos hy tereg sê: “Die musiek is tydloos.”

Mense wat nog glo dat ʼn mens op ʼn Sondag rustig moet verkeer sal veral baie hiervan hou. Miskien sal dit ook byval vind by diegene wat nie gewoonlik na Rocco se musiek luister nie, maar tog van iets met ʼn meer klassieke aanslag hou. Dit is beslis een van sy beste albums nog en dalk een van die heel beste instrumentale albums van die jaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.