[Resensie] Blackie Swart – ‘Gemaak om te dans’

blackie-swart

Blackie Swart. Foto: Facebook.

Ter viering van Blackie Swart se debuutalbum 20 jaar gelede is ’n versameling van sy treffers pas uitgereik as Gemaak om te dans.

Die eerste snit in die album is weliswaar nie ʼn bestaande treffer nie. Dit is die nuwe “Hello my mater”, maar wat beloof om net so ’n groot treffer as die meeste snitte in die album te wees.

“Armgat” is Blackie se siening van mense wat onder moeilike omstandighede lewe en nogtans op ’n manier regkom.

“Pappot” sal ’n mens sommer gou op die dansvloer kry; dis trouens ’n baie lekker snit en “Liewe Lulu” was natuurlik die een liedjie wat Blackie in die Afrikaanse musiekbedryf gevestig het. Ongelukkig is ’n nuwe opname hiervan ingesluit eerder as die oorspronklike.

“Jy kielie my” is nog een van Blackie se grootste treffers. Nietemin is dit een van daardie liedjies waarvan ʼn mens óf hou óf jy kan dit glad nie verdra nie. Dieselfde geld “Pers kombers”, die titelsnit van een van Blackie se gewildste albums.

“Lig jou glas” is ’n lekker geesvangliedjie wat eintlik ’n groter treffer moes wees as wat dit is. “Langpad-medley” bestaan uit “Visvang”, “Gysie”, “Stupid liedjie” en “Toe word ons dors”. Dankie tog laasgenoemde twee liedjies is nie in hul geheel ingesluit nie.

Die kitaarwerk op “Windgat bakkie” is knap en dié liedjie vertel van mans wat maak of hulle geld het terwyl hulle aankope op skuld maak. “Dis winter” is ’n baie goeie komposisie wat ook deur Dozi opgeneem is. Die volgende twee snitte, “Is daar nog wyn?” en “Laat hy val” sal byval vind vir manne wat daarvan hou om lekker te kuier.

“Sit af jou foon” klink ’n bietjie anders as die meeste ander snitte in die album, hoofsaaklik as gevolg van die trekklavier en die sterk boodskap.

Blackie is ook deel van die Johnny Black Band, en “Saam met die wind”, wat hy saam met hulle opgeneem het, is volgende in die album. “Daar’s ’n lewe na vyf” was die titelsnit van Blackie se debuutalbum van 20 jaar gelede. “Kerkstraat” was die titelsnit van nog een van Blackie se albums en hierin sing hy van die ironie dat daar soveel plekke in ons land is waarin daar ’n Kerkstraat is, maar dat nie almal kerkmense is nie.

In die laaste snit, “In Afrika”, kom ’n mens agter dat Blackie nie net opgewekte musiek kan sing nie; dit is ’n skitterende snit met ’n baie mooi boodskap. Daarby is die kitaarwerk baie goed.

Blackie het al meer as een keer in die verlede gewys dat hy ’n uiters talentvolle sanger, liedjieskrywer en musikant is. Hy is nie net deel van die Johnny Black Band nie, maar ook van Ses snare, saam met onder meer Mathys Roets, Mel Botes en Thean Kotze.

Daarby was sy album saam met wyle oom Manie Bodenstein een van die beste instrumentale albums wat in ’n lang tyd verskyn het. Daar is al voorheen ’n dubbele versameling van sy treffers uitgereik, en daarop kom sy ware talent na vore.

Daarmee probeer ’n mens nie sê dat hierdie versameling nie die moeite werd is nie. As jy ’n aanhanger is, kan jy dit gerus by jou CD-versameling voeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Marianne ·

Sing my baby sing!!!! Jy is my held, ‘n mooi man met ‘n mooi persoonlikheid en pragtige stem.
Ek love Blackie. Het altyd, Sal altyd.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.