[Resensie] Bok van Blerk – ‘Van De la Rey tot nou’

bok-van-bler-van-de-la-rey-tot-nou

Bok van Blerk se jongste album getiteld ‘Van De la Rey tot nou’. Foto: Facebook.

Dit is nou al tien jaar sedert die Afrikaanse musiekbedryf kennis gemaak het met Bok van Blerk, wie se eerste treffer “De la Rey”, seker een van die mees omstrede Afrikaanse liedjies tot nog toe was.

Hoewel ’n mens sou verwag dat Bok hierdie mylpaal met ’n trefferversameling sou vier, het hy eerder ’n splinternuwe album, Van De la Rey tot nou, vrygestel. Die titelsnit gaan weer eens ’n enorme treffer word; Bok het dit saam met Johan Vorster en Christoph Kotze geskryf. Daar is ’n verwysing na “Die lied van jong Suid-Afrika”, wat by baie mense aanklank sal vind. Die boodskap is dat hy ’n trotse Afrikaner is, en dat ’n mens die beste uit die geskiedenis moet haal en daarop moet voortbou.

Die liriek van “Datsun-bakkie” is baie pittig; dit vertel die storie van ’n doodgewone ou wat ’n meisie gekry het wat hy gedink het hy nie verdien nie. In “Bloedbroers” sing hy van vriende wat soms baklei het, maar mekaar in alles ondersteun het. In “Moeder-Afrika” sing hy van die verskillende kulture van Suid-Afrika wat saam woon en saam moet werk. “Holte van jou hand” is een van die hoogtepunte; dit is ’n komposisie van Peter Mitchell.

Vroeër vanjaar het Bok die temaliedjie van die rolprent Modder en bloed gesing, en dit is vir die eerste keer op ’n CD van Bok beskikbaar nadat dit voorheen net op ’n klankbaan beskikbaar was.

“Goeie hout” is ’n komposisie van Christoph Kotze, en nog ’n hoogtepunt op die album. “Dating game” vertel die storie van ’n meisie wat amper te hard probeer om die manne te beïndruk, en ’n ou wat dieselfde probeer doen. Die twee kom egter by mekaar uit. “Bosveld-vastrap” is nog ’n lekker snit wat mense gou op die dansbaan sal kry. “Winterkind” is een van twee komposisies van Koos Kombuis op die album, en die kitaarwerk op hierdie snit is uitstekend. “Deur ’n boer se oë” is nog ’n komposisie van Christoph Kotze, en hierin word die verhaal vertel van ’n vrou wat met respek deur haar man hanteer word. Bok het die skreeusnaakse “Lemoene” saam met Johan Vorster en Christoph Kotze geskryf. Hierdie liedjie vertel van ’n vroueboer wat die manne se aandag trek.

“Reënspinnekop” is ’n komposisie van Valiant Swart, en weer eens lag ’n mens lekker vir die liriek. “Atlantis in jou lyf” is nog ’n baie goeie komposisie van Koos Kombuis. Die laaste snit is een van die grootste Afrikaanse treffers van die jaar. Ricus Nel het “Hardekole” aanvanklik alleen opgeneem, maar toe het sy platemaatskappy gevra of daar nie dalk ’n paar kunstenaars is wat saam met hom kon sing nie. Bok en Ricus is jare lank al vriende en hy was die eerste kunstenaar wat Ricus gevra het om saam te sing. Adam Tas en Refentse het ook bygekom en die eindresultaat is een van die lekkerste saamsingliedjies wat in ’n lang tyd verskyn het. Daarom is dit goed dat dit ook op hierdie album ingesluit is.

Met hierdie album gee Bok sy aanhangers presies wat hulle wil hê. Daar is ’n goeie balans tussen humoristiese en ernstige snitte en daarom sal dit nie net by hulle nie, maar ook by ’n groter gehoor byval vind. Hierdie album is dalk te laat vrygestel om een van vanjaar se gewildstes te word, maar dit gaan vir seker een van die topalbums van die nuwe jaar wees!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Marianne ·

WEL GEDAAN MY BOK!
Ek hoop dat hierdie CD vir Bok en sy bedryfspan ‘n REUSE SUKSES sal wees.
Ek is mal oor die MAN en SY stem.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.