Resensie: Breek die stilte – Cordelia

Cordelia

Cordelia. Foto: Facebook.

Tydens die afgelope Afri-Visie-kompetisie het Cordelia ʼn sterk indruk gemaak met haar vertolking van Vicky-Ann Serfontein se komposisie “Petrol en vuur”.

Cordelia is allesbehalwe ʼn nuweling op die musiektoneel en haar derde album, Breek die stilte, is onlangs vrygestel. Die eerste snit op die album is ook die eerste treffer, “Mal in jou kop”, wat deur Rudi Claase geskryf is. Hiermee bewys Rudi dat hy ʼn baie goeie liedjiekskrywer is en dat hy feitlik enige tipe liedjie kan skryf. Hierdie snit het eintlik lank al verskyn, maar dit gaan opnuut ʼn treffer word.

“Eindelose liefde”, Cordelia se eerste eie komposisie op die album, is ʼn snit wat beslis trefferpotensiaal het. “As dit reën” het spesiale betekenis vir Cordelia. Haar pa is in ʼn tref-en-trapongeluk dood en sy het hierdie liedjie ter nagedagtenis aan hom geskryf.

Cordelia het die titelsnit geskryf en soos sy tereg sê, is dit ʼn liedjie wat lekker sal wees om op te dans. Dit gaan die volgende treffer op die album wees. “Maak ‘ie saakie” is ʼn komposisie van Marius Brouwer en weereens is dit ʼn snit wat ʼn treffer kan word.  “Eerste woorde” is Rudi Claase se tweede bydrae tot die album; dit is weereens ʼn goeie komposisie.  “Verlang jy my” is ʼn komposisie van Johan Oberholzer en Cordelia sê dit is een van haar gunstelinge op die album.

Die kitaarwerk op Cordelia se eie komposisie “Maak toe jou oë” is baie goed; dit is nog ʼn snit wat ʼn treffer kan word.  Cordelia het “Net soos ek is” ook self geskryf en  die woorde laat jou dink. Hierin sing sy van onvoorwaardelike aanvaarding en liefde, wat ongelukkig deesdae baie skaars is.

“Petrol en vuur” is die volgende snit. Ongelukkig het dit nie die eerste tien op Afri-Visie gehaal nie, maar dit kan nogtans ʼn treffer word want die publiek is reeds bewus daarvan.  Vaughan Gardiner het die afgelope tyd groot indruk as sanger en liedjieskrywer gemaak. Hy en sy vrou, Nerine, het “Spel van liefde” saam geskryf.

“Wat jou hart wil hoor” is nog een van Cordelia se eie komposisies en weereens is dit ʼn snit wat ʼn treffer kan word.  “Een uit ʼn miljoen” was die titelsnit vanaf haar vorige album, maar dit is weer hier ingesluit.  “Is daar engele” is ʼn mooi snit en ʼn mens wonder of sy nie ook hierop van haar pa sing nie.

Die laaste snit “ʼn Nuwe begin” is dalk effens rustiger as die meeste ander snitte op die album, maar dit is allesbehalwe ʼn weggooisnit.  Dit kan ʼn baie gesogte liedjie by troues wees en dit behoort daarom heelwat radiolugtyd te kry.

Cordelia het werklik met ʼn puik album vorendag gekom en daar is ʼn hele aantal redes waarom die Suid-Afrikaanse publiek lief vir haar kan word. Sy het alles wat nodig is om suksesvol te wees; al wat nog moet gebeur, is dat haar musiek baie meer gereeld oor die radio gehoor moet word!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Francois ·

Cordelia is so blessing, ek is mal oor haar musiek Sy het ‘n besonderse stem, Sy gan dit nog groot maak, ek bid dat God jou sal seen van krag tot krag en van oorwinning tot oorwinning, maak gereet Goemas en Afrikaans is Groot, Aardklop en Skouspel hier kom ‘n meisie #Cordelia

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.