[Resensie] Carike, Ghoempie en Ghoeghoe se vakansie Vol. 11

carike-ghoempie-en-ghoeghoe-se-vakansie

Carike se jongste Ghoempie album en DVD is propvol oorspronklike kinderliedjies. Foto: Verskaf.

Nadat Carike Keuzenkamp verlede jaar haar volwasse aanhangers met ʼn volledige trefferversameling bederf het, is sy terug met ʼn album wat weer op ʼn jonger gehoor gemik is.

Die eerste snit op die elfde album saam met Ghoempie is “Somervakansie” (Vakansietyd), ʼn nuwe komposisie van Neil Schoombee, Sean Butler en Linda Korsten. Carike weet presies waarvan haar jonger aanhangers hou en gee dit op hierdie snit vir hulle.

Neil en Sean het ook “Die dieretuin” geskryf en enige kind wat al ʼn dieretuin besoek het, sal hierdie snit geniet. Noudat ʼn werklikheidsreeks vir kinders wat kan kook aangekondig is, sal Estie Griesel se komposisie “Bak en brou” ook groot byval vind. Gewoonlik is dit groot pret vir kinders om saam musiek te maak, sommer met enigiets wat hulle in die huis kan kry en daarom behoort “Ons eie orkes” baie gewild te word onder dié album se teikengehoor.

“Ons gaan kamp”, nog ʼn oorspronklike komposisie van Estie Griesel, sal veral by die avontuurlustiges byval vind. Op “Jellie en vla” sing Carike van ʼn siek maatjie wat in die hospitaal is en by wie almal gaan kuier. Baie van vandag se kinders is so besig met televisie en rekenaars dat hulle omtrent nie lees nie. Met “Boekies lees” word hulle egter aangemoedig om meer  in stories belang te stel.

Daar is min kinders wat deesdae die voorreg het om op ʼn plaas te kuier, maar “Kuier op die plaas” sal hulle dalk lus maak daarvoor. “Kleure wat God ons gee” is ʼn baie mooi snit en dit is ʼn bietjie ernstiger as die meeste ander snitte op die album.

Net een snit op die album is nie ʼn oorspronklike komposisie nie, naamlik die bekende Kerslied “Al was ek nie daar nie” en dit bly darem mooi. Die laaste snit, “Sonskynkersfees”, sluit tot ʼn mate daarby aan en dis goed dat die onvanpaste Kersfees-tradisies van oorsee nie hier ter sprake kom nie.

Een punt van kritiek wat ek soms teen kinderalbums lewer, is die min oorspronklike komposisies daarop. Gelukkig is dit nie met hierdie album die geval nie, want op een uitsondering na is elke snit oorspronklik. Daarby gaan elke snit oor iets wat kinders na aan die hart lê en daarom kan dit sterk aanbeveel word vir enigiemand met kleuters of jong laerskoolkinders.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Moegviraldiebeloftes ·

dis a wonderlike cd – ook te kry in dvd – my kleinkind is baie lief vir hom. Een van haar gunstelinge – kan gerus met die grootste liefde vir enige kind aangekoop word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.