Resensie: Corné Pretorius se musiekglas is ‘halfvol’ met debuutalbum

Op ʼn vlug tussen Kaapstad en Johannesburg besluit ek dit is die gulde geleentheid om Corné Pretorius se debuutalbum getiteld Halfvol vir die eerste keer deur my oorfone te luister. Sonder enigiets wat my aandag kan aflei, kan ek op die musiek konsentreer en net agteroor sit en dit geniet.

Tussen die wolke op ʼn helder somersdag het dié album, wat tien oorspronklike snitte bevat, my siel behoorlik verkwik.

Corné, wat ʼn nuweling op die alternatiewe musiektoneel is, het die album saam met Francois van Coke, Richard Onraet, Hunter Kennedy, Fred ten Hartog, Loki Rothman en Johnny de Ridder geskryf. Dié manne is almal groot name in die musiekbedryf en het vir Corné net die regte hupstoot gegee wat hy nodig gehad het om ʼn unieke album te maak wat bydra tot alternatiewe rockmusiek.

Die album skop af met die titelsnit “Halfvol” en dit gee die pas aan vir die res van die album. Daarna volg “Liefde is ʼn werkwoord” en Hunter sing saam met hom op dié snit.

In die liedjie “Werk toe en terug” sing Corné en Loki Rothman oor ʼn tema wat deurlopend in die album aangeraak word – die alledaagse agt-tot-vyf-werkslewe, iets waarmee Corné as sakeman, eggenoot en pa van drie dogtertjies kan vereenselwig en waarby luisteraars beslis ook aanklank sal vind.

Hunter se stem is ook in die liedjies “Skree”, “Ek wil glo” en “Tyd hardloop uit” te hoor. Die album eindig op ʼn hoë noot met die treffersnit “Biertjies”, waarop Die Heuwels Fantasties en Ampie te hoor was en wat ook ʼn treffer op die Maroela Media Afrikaanse Top-20 was.

Corné Pretorius. (Foto: Verskaf)

Die laaste snit, “Sal dit jou gelukkig maak”, se lirieke is uit die pen van Jani Greeff, vrou van Pierre Greeff, voorsanger van Die Heuwels Fantasties. Loki se suster, Margot Rothman, se sielvolle stem is saam met hom in dié snit te hoor en rond die album perfek af.

Die album is net 33 minute lank en soms kan dit voel asof die temas van die liedjies baie dieselfde is, maar as ʼn mens in ag neem dat dit dieselfde span is wat agter al die liedjies sit, verstaan jy waarom.

Dit sal interessant wees om te sien waarheen Corné se musiekloopbaan hom lei, veral as hy in die toekoms op sy eie of saam met ʼn ander span musikante sou skryf.

Ouens wat hou van harde rockmusiek en gewoond is aan Francois van Coke en Hunter Kennedy se musiek as deel van die Polisiekarre, sal miskien dié album té rustig vind.

Die album is egter geskik vir enigiemand wat om die braaivleisvuur na goeie, Afrikaanse rockmusiek wil luister en dit kan selfs hoog tussen die wolke goeie luistergenot verskaf.

Halfvol is op alle digitale platforms beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
AW

Album Cover laat dink aan n 60′ 70’s album cover…

En my opmerking is gkad nie kritiek nie.