Resensie: ‘Country-hartland’ – verskeie kunstenaars

Country-Hartland

Foto: Verskaf.

In die 1970’s en 1980’s was country een van die gewildste musiekgenres in Suid-Afrika, en verskeie kunstenaars wat hierdie tipe musiek gesing het, het supersterre geword.

Die afgelope tyd het country se gewildheid egter geweldig afgeneem, hoewel plaaslike kunstenaars sukses behaal met albums waarop hulle country sing. Aan die ander kant stel niemand belang in oorspronklike country-musiek uit Nashville nie, en dit is onmoontlik om te verstaan hoekom. Nogtans het een van ons land se voorste platemaatskappye ’n versameling uitgereik waarop country-treffers van plaaslike en oorsese kunstenaars voorkom.

Die eerste snit op die album is “I run to you” van Lady Antebellum, een van die min internasionale country-groepe wat die afgelope tyd sukses in Suid-Afrika kon behaal. Nog ’n kunstenaar wat in dieselfde kategorie val, is Shania Twain. Sy het haar deurbraak gehad met die album Come on over, wat onder meer die treffers “You’re still the one”, “From this moment” en “That don’t impress me much” opgelewer het. “Any man of mine” is egter meer van ’n country-liedjie as enige snit van daardie album en het op haar debuutalbum, The woman in me, voorgekom.

The Woolpackers het “Hillbilly rock hillbilly roll” in die laat 1990’s opgeneem, maar tipies van Suid-Afrikaanse musiekliefhebbers het dit eers gewild geword toe die Campbells dit opgeneem het. Daarom is dit goed dat die oorspronklike weergawe vir ’n verandering ingesluit is. Alan Jackson is lankal een van die wêreld se voorste country-sangers, en hy is een van die min kunstenaars wie se musiek as rasegte country beskou kan word. Die feit dat hy al twee trefferversamelings vrygestel het, is ’n bewys van sy gewildheid. “Little bitty” het op sy tweede trefferversameling voorgekom en is nou nog gewild.

Een Suid-Afrikaanse kunstenaar wat groot sukses met ’n country-album behaal het, is Ricus Nel, wie se Don Williams-huldeblykalbum besonder goed verkoop het. “I recall a gypsy woman” was een van Don Williams se grootste treffers en Ricus se weergawe is hier ingesluit. Nog ’n kunstenaar aan wie ’n plaaslike kunstenaar onlangs hulde gebring het, is John Denver. Fredi Nest het sy huldeblykalbum kort voor sy dood voltooi, maar die oorspronklike weergawe van “Some days are diamonds” is hier ingesluit.

As ’n mens aan Billy Ray Cyrus dink, is “Achy breaky heart” gewoonlik die een wat die meeste mense onthou. “Could’ve been me” was egter nog ’n treffer wat dieselfde album opgelewer het, en dis goed dat dit eerder ingesluit is. Martina McBride is een van daardie country-kunstenaars wat nie so gewild hier is as wat sy behoort te wees nie en op “Independence day” kan ’n mens agterkom dat sy weet hoe om ’n storie te vertel. Lonestar het ongelukkig nog net een treffer in Suid-Afrika gehad, naamlik “Amazed”, maar “Tequila talkin’” is dalk nog beter.

Pam Tillis is nog ’n country-kunstenaar wat baie gewild in Amerika is, maar nog nie regtig so bekend in Suid-Afrika is nie. Op “Shake the sugar tree” kan ’n mens egter agterkom hoekom sy as een van die voorste country-sangeresse beskou word. Brooks and Dunn is ’n groep wat al jare lank op die country-toneel is en sy bydrae tot hierdie versameling is “Only in America”. Blackbyrd se musiek kan as kruising tussen country en folk beskou word, en op “Still not over you” kan ’n mens hoor dat hulle enige tyd met die bestes uit Nashville kan saamgesels.

Jessica Simpson het aanvanklik bekendheid as popsangeres verwerf, maar op “Might as well be making love” wys sy dat sy ook country kan sing. Vir diegene wat nie so bekend is met die nuwe country-kunstenaars se musiek nie, is daar baie om na uit te sien. Dolly Parton is een van die country-kunstenaars wat ’n internasionale superster geword het, en “Jolene” was dalk haar grootste treffer.

Nog ’n kunstenaar wat in dieselfde kategorie val, is Willie Nelson. Sy treffer, “On the road again”, klink so goed soos altyd. “Gentle on my mind” is al deur verskeie kunstenaars opgeneem, onder andere Dean Martin en Bobby Angel, maar Glen Campbell se weergawe is hier ingesluit.

Ray Dylan het al twee country-albums opgeneem, en sy bydrae tot hierdie versameling is “My special prayer”. Dit is oorspronklik deur Percy Sledge opgeneem. Sledge, wat vroeër vanjaar oorlede is, was ’n soul-sanger, maar Ray Dylan gee hierdie liedjie ’n country-klank.

Johnny Cash was ’n country-legende en “Ring of fire”, geskryf deur June Carter, met wie hy later getroud is, was dalk sy grootste treffer. Die laaste snit op die album is die legendariese “Mamas don’t let your babies grow up to be cowboys” van Waylon Jennings en Willie Nelson.

As ’n mens na hierdie versameling luister, is dit moeilik om te verstaan hoekom country as’t ware die “stiefkind” van musiek in Suid-Afrika geword het. Miskien moet dié wat country onregverdig van allerhande dinge beskuldig, net na hierdie versameling luister om agter te kom wat hulle misloop.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.