Resensie: ‘Dankie Heer’ – Manie Jackson

Manie-Jackson-02

Manie Jackson. Foto: Facebook.

Hoewel Manie Jackson al lank op die plaaslike musiektoneel is, het hy eers werklik gewild geword nadat sy gelyknamige album vyf jaar gelede verskyn het.

Sedertdien het hy nog drie Afrikaanse albums vrygestel, asook Tydlose treffers, waarop hy ʼn aantal bekende Afrikaanse en Engelse snitte opgeneem het. Nou het hy egter ʼn nuwe rigting ingeslaan, en sy eerste Christelike album, Dankie Heer, is pas uitgereik.

Die eerste snit was oorspronklik ʼn treffer vir sy rolmodel Bles Bridges. “Fight for love” was die titelsnit van Bles se tweede Engelse album, maar Michael de Lange het Afrikaanse woorde daarvoor geskryf, en dit staan bekend as “Leef vir Hom”. Michael is getroud met die sangeres Rinel Day.

Hierdie snit kan ʼn groot treffer word en wie weet, dalk stel musiekleiers van verskillende denominasies daarin belang om dit vir hul gemeentes aan te leer. Die titelsnit is ʼn komposisie van Marc Brendan, Don Kelly en niemand minder nie as Kurt Darren. Manie het “Here, U is my lighuis” saam met Marc Brendan en Neil Schoombee geskryf; die lae register waarin hy hier sing, klink baie goed.

Die volgende snit is iets besonders. Fredi Nest was ʼn baie goeie vriend van Manie en hy het “Vuur hier binne my” geskryf. Die Engelse woorde van hierdie lied word hier vir die eerste keer gehoor. Fredi is in Julie vanjaar aan kanker oorlede en daarom is dit goed dat Manie dit as ʼn duet ingesluit het. Ongelukkig weet ʼn mens nie of hierdie snit voor Fredi se dood opgeneem is en of sy stem deur middel van tegnologie bygevoeg is nie. Nog ʼn hoogtepunt is “An American trilogy”, wat in die 1970’s deur Elvis Presley gewild gemaak is, maar eintlik baie ouer as dit is.

“Soos ʼn kind” is ʼn oorspronklike nuwe komposisie deur Dennis East en Bles Bridges se dogter Sunette. “In die blomtuin” is ʼn ou bekende lied; dit is die Afrikaanse weergawe van “In the garden”, wat oorspronklik in 1912 geskryf is. Manie het “Welkom Jesus in my huis” saam met Don Kelly en Neil Schoombee geskryf; soos met Manie se treffer “Dorings vir Ma” is daar weer ʼn gedeelte waarin hy praat eerder as sing.

Die volgende twee snitte is baie bekend, naamlik “Amazing grace” en “Whispering hope”. “Deur sy oë” en “Home for two” is nog twee nuwe komposisies deur Dennis East en Sunette Bridges; veral laasgenoemde is iets besonders. Die volgende snit sal jou laat saamsing; dit is die ou Hallelujalied “Wat ʼn vriend het ons in Jesus”.

In 1971 het Alan Garrity die Suid-Afrikaanse musiekbedryf soos ʼn bom getref met sy nr. 1-treffer “Put your hand in the Hand”; Alan sing dit hier saam met Manie. Dis regtig goed om Alan se stem weer te hoor; hy is immers ʼn legende van die plaaslike musiekbedryf al is hy in Engeland gebore. “Gebed vir ʼn kind” is eintlik bekend; Freda Francis het dit omtrent 20 jaar gelede die eerste keer opgeneem en dis goed om dit weer te hoor. “Bly net glo” is die Afrikaanse weergawe van “Carry on”, wat onder meer deur die Suid-Afrikaanse countrygroep Over the hillbillies gesing is.

“Wit dorings” is ʼn baie goeie snit; hoewel ʼn mens nie vir seker weet nie, lyk dit asof die countrysanger Alan Ladd dit geskryf het. Die rede hiervoor is dat die naam van die komponis as Stephanus Lourens Wessels aangedui word; Alan Ladd se regte naam is Lou Wessels. Die laaste snit, “Die klokkespel”, is ʼn komposisie van Kupido, wie se regte naam Johan Wessels is. Kupido het dit in die 1980’s saam met Cora-Marie, Johan Stemmet en Laurika Rauch opgeneem. Dit bly ʼn mooi snit wat eintlik meer gereeld rondom Kersfees gespeel en gesing behoort te word.

Met hierdie album het Manie ʼn baie goeie balans tussen ou en nuwe snitte gehandhaaf, en daarom behoort hierdie album by ʼn groot gehoor byval te vind. Daar is ook geen rede om Manie se boodskap in twyfel te trek nie. Daarom kan hierdie album vir Christen-musiekliefhebbers aanbeveel word.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Joe ( Issabelle ) ·

Het nog altyd van Manie Jackson se musiek gehou & nog steeds …. Ek is ‘n baie groot ” fan ” van Manie & geniet dit elke keer om na sy musiek te luister …. Manie is baie nederige mens wat weet waarvan sy ” fans” hou …. dankie Manie vir al jou mooi musiek , doen so voort & weet ek sal nooit op hou om na jou musiek te luister nie !! Baie seen & voorspoed vir jou ….

Manie Jackson ·

Baie dankie Daaintjie. Waardeer dit. Die duet met Fredi is wel gedoen toe hy nog gelewe het en ons kon dit 2 weke voor sy dood vir hom speel, maar moes ongelukkig n ou opname van sy stem gebruik, want hy was op daai stadium reeds te swak om te sing. En “Witdorings” is wel geskryf deur Alan Ladd

Adri ·

Hi Manie, jou musiek is wonderlik….. as ek af voel dan luister ek HEMEL WEET of DORINGS VIR MA…. Hou aan met jou musiek, jys wonderlik….. Jys n baie mooi mens… God bless
Groete Adri

Suzy ·

Ek is ook n Manie Jackson mal kop . ( mooi bedoel) . Manie se musiek praat met n mens!!! . My gunsteling is ook DIE HEMEL WEET , daardie lied het my gedra toe ek deur n baie moelike tyd in my lewe gegaan het , dit het so perfek by my gepas en vandag nog ry ek met my Manie Jackson cd in my kar . Ek het Dankie Heer gekoop en dis onbeskryflik mooi !!!!!!! . Baie dankie Manie vir al jou mooi musiek ons waardeer jou uit ons HARTE uit . Mag die Vader jou seen en bles met baie liefde en geluk . Ek hoop dit gaan goed met jou Manie en dat jy ook nou gesond is na jou tyd wat jy deur is .
Lekker naeweek vir almal

marianne ·

Manor geluk met ‘n pragstuk. Ek hoop hierdie CD het jou moed gegee en as steenpillaar jou depressie stryd gedien. Alle voorspoed.

Annatjie ·

Baie geluk met jou nuwe album ek gaan dit beslis koop. Ek kan nie genoeg kry van jou liedjies nie. Hou so aan.
God Bless

Theresa B ·

Hierdie CD van Manie is wonderlik mooi. Net soos al sy ander. Maar hierdie CD is net special. Baie dankie Manie!

Susan ·

Manie se musiek is pragtig luister altyd daarna in die verkeer kamlmerend.
Gaan beslis hierdie CD aanskaf.
Alle suskses met die album Manie en alles wat mooi is vorentoe.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.