Resensie: Dankie vir alles – Bles Bridges

Bles-Bridges-dankie-vir-alles-album

Die nuwe Bles Bridges album waar verskeie sangers ‘n duet saam met hom sing. Foto: Verskaf.

Op 24 Maart 2000 is een van Suid-Afrika se gewildste kunstenaars tot nog toe, Bles Bridges, in ʼn motorongeluk dood.

Hy was toe besig om te werk aan ʼn album waarop verskeie plaaslike kunstenaars saam met hom sou sing, maar net een liedjie, “The first kiss goodnight” saam met Patricia Lewis , is toe al opgeneem en by die versamelalbum Deur die jare heen, wat kort na sy dood uitgereik is, ingesluit.

Hierdie album is nou met behulp van tegnologie opgeneem en bevat sommige van Bles se groot treffers, waarop ʼn aantal van ons land se voorste kunstenaars saam met hom sing. Die afgelope vyf jaar het Manie Jackson na vore getree as Bles se “natuurlike opvolger” en hy maak geen geheim daarvan dat hy ʼn groot aanhanger van Bles was en steeds is nie.

Die eerste van twee liedjies wat Manie saam met hom sing, is die titelsnit van sy eerste Engelse album, “I’m the eagle, you’re the wind”.  Die tweede snit op die album is “Ruiter van die windjie”, wat as Bles se grootste treffer beskou word en wat Ray Dylan saam met hom sing.

Een van die heel mooiste liedjies wat Steve Hofmeyr tot nog toe geskryf het, is “Rosemarie”.  Bles het met hierdie liedjie uit sy “gemaksone” beweeg  en dis jammer dat Bles in sy leeftyd nie méér sulke liedjies opgeneem het nie.

“Fight for love” was die titelsnit van Bles se tweede Engelse album en Nadine sing dit saam met hom. Dit was sonder twyfel een van die heel beste snitte wat Bles ooit opgeneem het.

André Venter is deesdae die aanbieder van die program Jam op kykNet Musiek, maar hy was lid van die groep Romanz. Hulle het “Reik na die sterre” opgeneem en daarom is dit nie snaaks dat André dit saam met Bles sing nie. André kan nie dieselfde hoë note as Bles bykom nie en daarom was dit dalk goed dat hy dit nie eens probeer het nie. Dit doen egter nie afbreuk aan hierdie snit nie.

“Laat my lewe, laat my liefhê” was nie net ʼn groot treffer nie, maar ook een van die beste snitte wat Bles opgeneem het. Rina Hugo sing saam met hom en dit klink baie goed.

Bles se Afrikaanse weergawe van Foster and Allen se treffer “Maggie” was sy eerste groot treffer en Ricus Nel, wat die laaste tyd al hoe gewilder geword het as sanger, sing saam met hom.  “Paloma blanca” was oorspronklik ʼn nr. 1-treffer vir George Baker Selection, maar Bles het dit ook opgeneem en Tommy Dell sing dit hier saam met hom. Dis goed om Tommy se stem weer te hoor; hy het lank laas nuwe musiek vrygestel.

Bles se dogter, Sunette, is ʼn sangeres in eie reg en sy het “You” saam met haar pa opgeneem. Dit is nie die eerste keer dat hul stemme saam gevoeg word nie;  “Love and roses” is ook al op hierdie manier opgeneem.

“Love is my destiny” was een van Bles se groot Engelse treffers en dis goed om Dennis East se stem op hierdie opname te hoor. Dennis het die musiekverwerkings op die album gedoen en is een van ons land se voorste kunstenaars.

Die volgende snit is “The first kiss goodnight”, wat Bles drie dae voor sy dood saam met Patricia Lewis opgeneem het.  “Sien jou weer” was in die 1970’s ʼn treffer vir Marie van Zyl, maar Bles het dit later ook oopgeneem. Dit is die tweede snit waarop Manie Jackson saam met hom sing.

Kupido het “Was ek maar ʼn digter” geskryf en oorspronklik gesing, maar Bles se weergawe was ook baie gewild. Carike Keuzenkamp sing dit saam met hom en dit laat ʼn mens uitsien na Carike se nuwe album, wat binnekort verskyn.  “All the tears in the world” was ʼn treffer vir Dave Mills, maar weereens het Bles dit later opgeneem. Die country-legende Lance James, wat baie gedoen het om Bles se loopbaan te bevorder, sing saam met hom.

“Am I that easy to forget” was ʼn treffer vir Jim Reeves en Engelbert Humperdinck, maar dit was ook die titelsnit van een van Bles se albums. Clive Bruce het lank laas nuwe musiek vrygestel, maar hy sing dit hier saam met Bles.

“Nina” is dalk een van Bles se minder bekende liedjies, maar sy kleindogter, Ashleigh, sing hier saam met haar oupa.  Die titelsnit is deur niemand minder as Coenie de Villiers geskryf nie en die stemme van al die kunstenaars wat aan hiedie album gewerk het, kan op hierdie opname gehoor word.

Hierdie konsep is niks nuuts nie; daar het al twee albums verskyn waarop bekende kunstenaars se stemme by dié van Gé Korsten gevoeg is. Die liedjies vir hierdie album is goed gekies, want Bles het deur die jare ook minder goeie liedjies opgeneem.  Hierdie album is die moeite werd vir dié wat nou nog  van sy musiek hou, maar ʼn mens wonder tog of dit nie dalk beter sou wees as verskeie kunstenaars eerder ʼn album moes vrystel waarop hulle van sy grootste treffers alleen sing nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.