Resensie: “Die eerste 10 jaar” – Bobby van Jaarsveld

Bobby-van-Jaarsveld-10-jaar

Bobby van Jaarsveld se “Die eerste 10 jaar” album. Foto: Facebook.

Dis moeilik om te glo dat dit nou al tien jaar is sedert Bobby van Jaarsveld tot plaaslike musiek toegetree het.

Sedert sy debuutalbum, Ken jy Talina?, wat in 2005 verskyn het, het hy een van ons land se voorste kunstenaars geword, veral nadat hy sy huidige platekontrak onderteken het. Ter viering van hierdie groot mylpaal in sy lewe, het Bobby  pas sy trefferversameling, Die eerste 10 jaar, vrygestel.

Die eerste snit op dié versameling is een van drie nuwes op die album. Johan Vorster het “Middernagserenade” geskryf en dit is reeds besig om teen die trefferslyste van die meeste radiostasies uit te klim.

“My alles” was omtrent ʼn jaar gelede ʼn treffer; dit was die eerste enkelsnit op die album, Maak ʼn wens, wat tot onlangs nog treffers opgelewer het. “ʼn Vrou wil dit hoor” was seker een van Bobby se grootste treffers tot dusver en enige man behoort mooi na die woorde van hierdie snit te luister, al is dit hóé bekend.

As daar een liedjie is wat ʼn groot deurbraak vir Bobby was, is dit “Spieëltjie”, wat hy self help skryf het. Dit gebeur selde dat iemand in sy twintigerjare met sulke introspektiewe lirieke vorendag kom, en daarvoor verdien hy groot respek.

“Een vir een” was nog een van die treffers wat Bobby se vorige album opgelewer het. Bobby was al in ʼn paar rolprente, asook in die kykNet-sepie Villa Rosa te sien en “Totaal finaal” is een van die liedjies wat hy in As jy sing gesing het.

Eden het “Só klink ʼn hart” oorspronklik opgeneem, maar Bobby het besluit om dit ook op hierdie album in te sluit.  Bobby se eerste rol in ʼn rolprent was in die wegholtreffer Liefling, waarin hy teenoor Regardt van den Bergh se dogter Lika Berning gespeel het.  “My lewe draai om jou” kom uit hierdie rolprent; Bobby het met hierdie liedjie die wysie, terwyl Lika hoofsaaklik die harmonieë gesing het.

Nog ʼn snit waarop Bobby saam met ʼn ander kunstenaar gewerk het, was “Butterflies”, waarop Eden saam met hom gesing het en wat ʼn groot treffer was.  “Wat geld nie kan koop nie” was die titelsnit van nog een van Bobby se trefferalbums en hier sing hy van wat regtig saakmaak in die lewe.

Bobby wou glo nog altyd ʼn kommersiële Engelse liedjie geskryf het en hy het dit eindelik gedoen. Hy en André Scheepers het “It’s always been you” saam gskryf en dit is ʼn pragtige snit wat baie beslis verdien om ʼn treffer te word.

Bobby het ʼn groot treffer gehad met “Eens in ʼn leeftyd”, wat hy saam met Riana Nel gesing het. Dit is seker een van die hoogtepunte op dié album. Op “Kan ek met jou praat?”, sing Bobby van die verhouding tussen pa en seun.

“Net vir jou” was die titelsnit van die album wat Bobby se pad na sukses baie makliker gemaak het.  “Beter helfte” was Bobby se laaste treffer voordat hierdie versameling uitgereik is en dit is steeds ʼn treffer op sommige radiostasies.

In As jy sing het Bobby teenoor Leah gespeel en hulle het “Ek moes jou gesoen het” saam in dié rolprent gesing. Leah sing egter hier voor en Bobby sing net die harmonieë, wat ʼn mens laat wonder of Leah nie eintlik die erkenning vir hierdie liedjie moet kry nie. Hoe dit ookal sy, dit het haar onder die publiek se aandag gebring en sy het intussen ʼn uiters suksesvolle debuutalbum vrygestel.

“Lovesong letter” is ʼn liedjie wat Bobby tussen albums opgeneem het en sover ek weet, is dit vir die eerste keer op een van sy albums beskikbaar. Bobby is met sy skoolliefde getroud en in “Annatjie” sing hy van hul skooljare en hul verhouding; hulle is getroud sedert hy dié liedjie geskryf en opgeneem het.

Bobby maak groot erns oor sy verhouding met die Here, soos wat ʼn mens aan sy komposisie “Yeshua the Messiah” kan agterkom. Die laaste snit op die album is ʼn akoestiese weergawe van Gé Korsten se groot treffer “Liefling” waarop daar niks anders as kitaarbegeleiding voorkom nie. Dit klink baie goed en bewys tierlantyntjies is nie altyd nodig as ʼn liedjie goed genoeg daarsonder is nie.

Hoewel Bobby seker soveel kritici as aanhangers het, kan niemand sy enorme bydrae tot die Afrikaanse musiekbedryf wegredeneer nie.  Met hierdie album kom ʼn mens agter wat hy al bereik het op so ʼn jong ouderdom; hy is een van die min kunstenaars wat op ʼn jong ouderdom begin sing en vasgebyt het. As jy van Bobby hou, kan jy gerus hierdie album by jou versameling voeg, al het jy al die musiek wat hy al voorheen vrygestel het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.