Resensie: Die Grootste Afrikaanse Liedjie – Verskeie kunstenaars

Grootste-Afrikaanse-Liedjie-Maroela-Media

Die Grootste Afrikaanse Liedjie. Foto: Argief.

Maroela Media het in 2013 ʼn veldtog van stapel gestuur om die Grootste Afrikaanse Liedjie van Alle Tye aan te wys.

Daar was letterlik derduisende benoemings en uiteindelik is 50 finaliste gekies waaruit die wenner aangewys is.  Die liedjie wat met die louere weggestap het, was Laurika Rauch se treffer “Kinders van die wind”, wat deur Koos du Plessis geskryf is en ʼn rewolusie in Afrikaanse musiek tot gevolg gehad het.

ʼn Dubbel-CD met 27 van die finaliste se liedjies is nou vrygestel. “Kinders van die wind” is natuurlik die eerste snit daarop en daar is seker niks  te sê wat nog nie gesê is nie. Daar is baie goeie redes waarom dit as die algehele gunsteling aangewys is.

Die tweede snit is die titelsnit van Lucas Maree se album Miljoen. Daar is seker niemand wat nie met die woorde kan identifiseer nie.  Daar is drie snitte waarop Johannes Kerkorrel se stem gehoor kan word. Die eerste een is sy pragtige vertolking van die tradisionele liedjie “Al lê die berge nog so blou”.

Sias Reinecke kan op sy eie en saam met sy eertydse sangmaat Gert van Tonder gehoor word. Hoewel Sias al ʼn gevestigde solokunstenaar was teen die tyd dat “Sproetjies” vrygestel is, het dit sy grootste solotreffer geword en is dit die een liedjie wat die meeste mense van hom onthou.

Coenie de Villiers het in die vroeë 1980’s tot die musiektoneel toegetree met sy album Skoppensboer, waarvan ʼn aantal snitte deur die SAUK verbied is. “Karoonag” het egter dadelik gewild geword en hom as een van ons land se beste kunstenaars gevestig.

“Die oukraalliedjie” was Groep 2 se eerste treffer en het die derde plek op Springbok Radio se Top 20 bereik. Dit het uiteindelik die rekord gehou vir die Afrikaanse liedjie wat in die hoogste plek nog tot dié trefferslys kon toetree.

Twee van die ouer liedjies op dié versameling is Die Briels se “Trein na Pretoria” en Chris Blignaut se “Ou ryperd”. ʼn Mens kan van die Briels sê wat jy wil, maar daar is geen twyfel dat “Trein na Pretoria” ʼn legendariese liedjie is nie. Dozi het Chris Blignaut se musiek omtrent vyftien jaar gelede aan ʼn nuwe generasie bekendgestel, maar dis goed dat die heel oorspronklike weergawe van “Ou ryperd” ingesluit is.

Gé Korsten was een van die gewildste Afrikaanse kunstenaars tot nog toe en “Liefling” is nou nog uiters gewild. Dit is selfs gereeld op Loftus Versfeld gespeel toe Derick Hougaard losskakel vir die Blou Bulle gespeel het.

Lance James het in die laat 1960’s vir die eerste keer in Afrikaans begin sing toe sy sangstem vir die hoofkarakter in die rolprent Die Danie Bosman-storie gebruik is.  “Dankie” was sy eerste Afrikaanse solo-treffer en een van twee waarmee hy Springbok Radio se Top 20 gehaal het.

Die een Afrikaanse kunstenaar wat seker die meeste sukses oorsee behaal het, was Mimi Coertse.  Hoewel die S. le Roux Marais-komposisie “Heimwee” oorspronklik deur Stephen Eyssen gesing is, was dit seker moeilik om daardie weergawe in die hande te kry en Mimi se weergawe is hier ingesluit.

Die laaste drie snitte op die eerste album is kinderliedjies. Dawie Couzyn en Doris Brasch het twee kinderalbums opgeneem en al die liedjies op dié albums is deur Betty Mischeiker, wat vroeër vanjaar oorlede is, geskryf. Dawie en Doris het ʼn groot treffer met “Die dapper muis” gehad, terwyl “Die lappop”, wat Doris alleen gesing het, ook baie gewild geword het. Die derde kinderliedjie op die eerste CD is “Liewe heksie” van Carike Keuzenkamp, waarop die stem van Verna Vels, die skepper van hierdie gewilde karaktertjie, ook gehoor kan word.

Die eerste snit op die tweede CD is “Pampoen”, seker die grootste treffer van Steve Hofmeyr se loopbaan tot dusver.  Een van die mees omstrede Afrikaanse liedjies tot dusver was “De la Rey”, wat Bok van Blerk in die Afrikaanse musiekbedryf gevestig het.

Laurika Rauch se tweede bydrae tot dié versameling is die titelsnit van haar album Stuur groete aan Mannetjies Roux, wat deur haar man, Chris Torr, geskryf is. Hierdie liedjie het ook al ʼn gelyknamige musiekblyspel en rolprent tot gevolg gehad.

In 1988 het die Voëlvry-beweging skokgolwe deur die Afrikaanse musiekbedryf gestuur en die boodskap duidelik oorgedra dat jong Afrikaanssprekendes nie stilgemaak kan word oor apartheid of sensuur nie. Johannes Kerkorrel het GEEN doekies omgedraai toe hy “Sit dit af” geskryf het nie en hy het die SAUK woedend gemaak. Die hervormings wat ons land se geskiedenis onherroeplik verander het, het plaasgevind binne twee jaar nadat hierdie liedjie vrygestel is.

Nog ʼn kunstenaar wat ʼn rewolusie in Afrikaanse musiek veroorsaak het, was Karen Zoid en die liedjie waarmee sy dit gedoen het, was “Afrikaners is plesierig”.  Johannes Kerkorrel se derde bydrae tot hierdie versameling is “Hillbrow”, een van die min snitte vanaf sy Eet kreef-album wat gereelde radiolugtyd gekry het.

In 1975 was die meeste Afrikaanse treffers gevestigde liedjies met Afrikaanse woorde, maar Jan de Wet se komposisie “Ek verlang na jou” het Springbok Radio se Top 20 gehaal en dit was die begin van Sonja Herholdt se suksesvolle sangloopbaan.

Nog ʼn Top 20-treffer was “Heidi”, wat gewild geword het toe die gelyknamige reeks op televisie te sien was. Herbie en Spence se weergawe, wat saam met die Engelse weergawe van Peter Lotis op Springbok Radio se Top 20 was, is hier ingesluit.

Daar was ook al ʼn paar Christelike liedere wat groot treffers geword het, onder meer “Hierdie Kind” van Jan de Wet en “Oorwinningslied” van Piet Smit, maar die een wat die lys finaliste gehaal het en hier ingesluit is, is “Houtkruis” van Prophet.

Daar is seker geen Afrikaanse liedjie waarvan daar drie uiteenlopende weergawes opgeneem is soos “Dis ʼn land” nie. Benewens Carike Keuzenkamp se oorspronklike een, het Snotkop ook sy unieke weergawe op sy album Ek laaik van jol, ingesluit. Die derde weergawe is selfs nog meer “alternatief”, naamlik die een deur Van Coke Kartel, wat as een van die finaliste gekies is. Nog ʼn “alternatiewe” snit op die album is “Ek skyn heilig” van die Polisiekarre.

Laurika Rauch het in die middel 1980’s min nuwe musiek opgeneem, maar nadat sy en Chris Torr getroud is, het hy die Afrikaanse woorde vir “Op Blouberg se strand” geskryf en dit het een van haar grootste treffers geword.

Daar is iets besonders aan die einde van die tweede CD. Ter viering van “Kinders van die wind” se aanwysing as die Grootste Afrikaanse Liedjie is dit nuut werwerk. Die kunstenaars wat hierby betrokke was, was die kitaarduo CH 2, Anna Davel, Liesl du Toit, Jannie Moolman en die groep Ses snare. Dit laat ʼn mens van voor af luister na ʼn liedjie at jy gedink het jy goed ken.

Hierdie versameling bied regtig iets vir elke smaak, selfs al beteken dit dat niemand noodwendig van al die snitte sal hou nie. Hoe ook al, dit gee ʼn oorsig van die hoogtepunte in die geskiedenis van Afrikaanse musiek en daarom hoort dit in die versameling van enige Afrikaanse musiekliefhebber.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae