Resensie: Dié Heuwels Fantasties is ʼn album om weer te luister

Die Heuwels Fantasties – 2021

Dit gebeur bitter selde dat ʼn mens ʼn album van begin tot einde regdeur kan luister sonder om ʼn enkele snit oor te slaan. Die Heuwels Fantasties se splinternuwe album, 2021, is egter só ʼn lekkerluister-, wipwarit-album van voor tot agter.

My liefde vir dié groep kan maklik vergelyk word met my verhouding met my beste en jare lange vriend – ons is nie altyd op dieselfde golflengte nie en soms verloor ons die chemistry, maar die liefde is altyd daar.

Net soos elke ander Heuwels-aanhanger het ek op die groep verlief geraak toe “Leja” in 2009 vir die eerste keer in my ore weerklink het. En al het ek en die groep sedertdien van mekaar se paaie afgedwaal, het hulle my met 2021 weer kom kry daar waar hulle my gelos het.

Die album bestaan grotendeels uit heerlike samewerkingsnitte saam met groot name soos Arno Carstens, Early B, Tarryn Lamb, Francois van Coke en Jack Parow. Hiram Koopman se saksofoon is ook op dié album te hoor.

Met die intrapslag sleur Pierre Greeff, voorsanger vir die Heuwels, en Carstens se kenmerkende stemme jou mee met die liedjie “Mis oor die see”. Van hier af is die album ʼn mengelmoes van tempo’s, klanke en genres.

Snitte soos “Plekkie in die son” saam met Early B, “Lieg net vir my” en “Kan iemand my hoor” saam met TJ Terblanche neem die rustiger plekke op die album in, terwyl Jack Parow en Francois van Coke hulle energieke musiekstyle aan die snitte “Naweek” en “Min worries” verleen.

Die Heuwels Fantasties. (Foto: André Badenhorst)

Saam met Parow en Van Coke se stoute aanslag gaan daar natuurlik ʼn paar eksplisiete lirieke gepaard, wat die album ongelukkig nie 100% familievriendelik maak nie.

Die treffersnitte “Mejuffrou Sonneblom” en “Jy stel my teleur” dra ʼn klankelement uit die negentigerjare tot die album by.

Hoewel dit moeilik is om ʼn gunstelingsnit op die album uit te sonder, sal “Ek mis jou” saam met Tarryn Lamb my keuse wees as ek gedwing word om te kies.

2021 is ʼn stewige album met 15 snitte, wat ʼn regstreekse opname van “Leja” by verlede jaar se Francois van Coke en Vriende-konsert by die Sun Arena in Pretoria insluit.

Daar is soms soveel nuanses en genrevermengings dat dit moeilik is om jou vinger te lê op presies watter klank jy na luister. Die klanke is terselfdertyd vars én nostalgies en die musiek neem jou terug in tyd na Heuwels se eerste klanke terwyl jy ook meegevoer word na die toekoms.

Aanhangers van alternatiewe lekkerluister-musiek met ʼn somervakansiegevoel sal ook hierdie album weer en weer wil luister.

2021 is op alle digitale platforms beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.