Resensie: ‘Die man vir jou’ – André Venter

André-Venter

André Venter. Foto: Facebook.

Nadat hy deel was van die suksesvolle groep Romanz en die aanbieder van kykNET se musiekprogram Jam geword het, het André Venter eindelik sy eerste solo-album, Die man vir jou, uitgereik.

Die titelsnit, geskryf deur Rudi Claase, is eerste op die album en dit is reeds besig om ʼn treffer te word. “Ek lief jou belowe” is ʼn mooi snit, maar wanneer gaan liriekskrywers ophou om “lief” as ʼn werkwoord te gebruik?

“Tot oneindig einde kry” kom ook op Andriëtte se jongste album voor omdat sy en André dit saam sing. Dis ’n pragtige snit en behoort ʼn treffer te word.

Die volgende snit is ʼn verrassing. Die legendariese musiekrolprent The Sound of Music is vanjaar 50 jaar oud en André het besluit om “Edelweiss”, uit hierdie rolprent, op te neem.

“Gedigte” is die tweede komposisie van Rudi Claase wat op die album voorkom.

Chris de Burgh se treffer “Lady in Red” is só gereeld gespeel toe dit uitgereik is dat dit al holrug gery is, maar André se weergawe, wat nóg stadiger as die oorspronklike een is, klink só goed dat ʼn mens van voor af daarna kan luister.

André het “Ek sal by jou bly” saam met  onder andere Neil Schoombee en  Sean Butler geskryf. Dis net jammer dat die anglisisme “vir ewig en ʼn dag” in die lirieke voorkom.

“As ek moet gaan”, wat deur Marc Brendon en Don Kelly geskryf is, is dalk een van die beste snitte op die album.

André het ook besluit om ʼn Christelike snit in te sluit, naamlik “Hoe groot is ons God”. Dit is een van die gewildste aanbiddingsliedere op die oomblik, maar dalk sou dit beter gewees het om Chris Tomlin se oorspronklike weergawe, “How Great is our God”, in te sluit. Nogtans is dit mooi, en hopelik sal André se opname beteken dat hierdie pragtige lied ʼn groter gehoor bereik.

Hopelik sal enige pa die volgende snit, “Trou met ʼn vrou soos jou ma”, aan sy seun kan opdra wanneer hy die dag dink hy het die liefde van sy lewe ontmoet. Hierdie snit is beslis een van die hoogtepunte van die album.

Nog een is die volgende snit, “Een leeftyd se liefde”, wat André self help skryf het.

Nóg ʼn bekende internasionale treffer wat André ingesluit het, is “It Must Have Been Love” van Roxette, en weer eens verskil André se weergawe van die oorspronklike een.

Neil Schoombee en Adolf Vorster het “Verf die dorp rooi” geskryf. Die boodskap is dat ʼn mens jou liefde met blomme kan en moet bewys.

André het “Pa se prinses” vir sy dogtertjie geskryf – ’n snit waarvan elke pa sal hou.

Die laaste snit op die album is “When I Need You”, wat deur Albert Hammond geskryf is en ʼn groot treffer vir Leo Sayer geword het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Hanlie ·

Romanz was een van my gunsteling groepe en ek was bitter jammer toe hulle besluit het om nie meer saam op te tree nie.
Hierdie is een CD wat ek defnitief wil he.

Stephanie Visser ·

Persoonlik dink ek Suid-Afrika ‘rou’ nog oor Romanz. Hulle was ‘n groep manne waarop ons kon trots wees. Dit is lekker om te weet elkeen het ‘n nuwe loopbaan in musiek gekies en is hul stem nog nie ‘dood’ op radio en TV nie. Ons was geseën dat ons kon DVD’s en CD’s koop op die musiek eendag te kan speel tot ons oud is. Baie blessings aan Andre, Adam, Burger, Christopher-Lee en Louis. Ons hou julle dop en koop beslis julle musiek. Voorspoed en groete uit Caledon

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.