Resensie: Die tyd is nou – Dewald Gouws

Dewald-Gouws

Dewald Gouws. Foto: Facebook.

Sedert Dewald Gouws se debuutalbum, Verhaal van glorie, in 2012 verskyn het, het hy hom gevestig as een van ons land se voorste sangers van Afrikaanse Christelike musiek.

Nadat sy tweede album, Stuur my, verskyn het, het hy ook deel geword van die supergroep (as ʼn mens hulle só kan noem) Manne wat glo, saam met Jan de Wet, Willie Joubert en Leon Ferreira. Nou is hy terug met sy derde solo-album, Die tyd is nou.

Die eerste snit op die album is “Jesus”, wat niks anders as ʼn loflied tot eer van Jesus is nie. “Koning van konings” is nog ʼn loflied tot eer van God, maar baie meer opgewek.

Dewald het die eerste enkelsnit, “Maria” saam met Jan de Wet geskryf as ʼn huldeblyk aan sy ma, wat onlangs oorlede is. Volgens Dewald het sy ma baie van Maria, Jesus se ma, se karaktertrekke gehad en sy het hom op ʼn jong ouderdom na Jesus toe gelei.

Die titelsnit is ʼn hoogtepunt. Dit is ʼn lekker opgewekte snit wat jou dadelik sal laat saamsing. Dewald het “Dors” geskryf na aanleiding van Psalm 42 en hierin sing hy van mense se soeke na die waarheid, asook na vrede en rustigheid.

“Loflied” is nog ʼn komposisie van Dewald wat as ʼn hoogtepunt beskou kan word. “Spirit man”, die eerste Engelse snit op die album, is ook Dewald se eie komposisie en kan eerder as ʼn aanbiddingslied beskou word. Hiermee bewys Dewald dat hy ewe goed in Engels as Afrikaans kan skryf en sing.

“No longer slaves” kom van die bekende Bethel Church en beklemtoon die vrymakende krag van God.  “Meesterstuk” is egter weer een van Dewald se eie komposisies en hierop sing hy van God se hart vir sy kinders.

“Sagte reën” is nog ʼn pragtige komposisie van Dewald en hierin sing hy van God se liefde en genade. “Deur U krag” was die lied wat die loopbaan van Manne wat Glo aan die gang gesit het. Daarom is dit wonderlik dat Dewald dit ook alleen opgeneem het. Daar is min te kies tussen die twee opnames, maar ʼn mens mis Jan de Wet se basnote wat op Manne wat Glo se opname voorkom.

“Kom ons prys Hom” is ʼn lekker opgewekte loflied wat ʼn mens gou sal laat saamsing. “Bigger than me” is ʼn komposisie van Carlé van Deventer en hierop sing Dewald van oënskynlik suksesvolle mense wat al die eer vir hul sukses vir hulself toe-eien en nie aan God die erkenning gee wat Hy verdien nie.

Die komponis van “Holy”, Carlé van Deventer, sing dié lied saam met hom. Die volgende snit is ʼn keurspel van aanbiddingsliedere wat bestaan uit “Holy Spirit, Thou art welcome”, “Nothing but the blood”, “It is well with my soul” en “Let it rain.” In “Goeie nuus”, die laaste snit op die album, sing Dewald van die opdrag wat elke kind van God het om die Evangelie te verkondig.

Soos wat ʼn mens met sy vorige albums al kon agterkom, is Dewald ʼn aanwins vir die Suid-Afrikaanse musiekbedryf, veral vir Christelike musiek. Hy het nie net ʼn baie goeie tenoorstem nie, sy boodskap is suiwer en hy sing beslis nie vir eersug nie, maar eerder omdat hy die Here met ʼn opregte hart wil loof en aanbid. Daarom kan hierdie album vir enige Christen-musiekliefhebber aanbeveel word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

PierreB ·

Kon hy nie maar ‘n beter omslag foto gekies het nie. Hy lyk soos ‘n ou wat vergeet het om sy browser history uit te vee en sy vrou het dit nou net oop gemaak…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.