Resensie: ‘Digters en hul songs’

Foto verskaf aan Maroela Media

Foto verskaf aan Maroela Media

Te midde van die oorvloed oppervlakkige Afrikaanse musiek wat heeldag oor die radio gespeel word, is daar tog ’n handjievol kunstenaars wat vorendag kom met liedjies met iets om die lyf.

Een van die grootste platemaatskappye het ’n versameling uitgereik waarop ’n aantal van hierdie liedjies voorkom, naamlik Digters en hul songs.

Daar is sommige van die “meer ernstige” liedjieskrywers wat beweer dat ’n “song” meer om die lyf het as ’n liedjie, maar dit is ’n debat wat ek liewer nie hier wil voer nie.

Die eerste snit is moeilik om in die hande te kry. Ons almal weet dat Laurika Rauch ’n treffer met “Kinders van die wind” gehad het, maar min mense het al Koos du Plessis se weergawe, wat op sy debuutalbum Skadu’s teen die muur ingesluit is, gehoor. Daarom is dit goed dat dit hier ingesluit is. Adam Tas het die afgelope tyd baie gewild geword, en “Gaan sê vir die angels” was een van sy grootste treffers tot dusver.

Dis egter moeilik om te verstaan hoekom soveel kunstenaars wat eintlik goeie liedjies skryf, Engelse woorde in Afrikaanse liedjies gebruik. Een van die min voormalige Idols-wenners wat ’n waardevolle bydrae tot plaaslike musiek lewer, is Elvis Blue. “Rede om te glo” was sy eerste Afrikaanse treffer, en met hierdie een, asook met sy ander Afrikaanse komposisies, bewys hy dat hy ’n kunstenaar met ware talent en integriteit is.

Anton Goosen word nie verniet die Liedjieboer genoem nie. “Silver de Lange” vertel die verhaal van die konsertinaspeler van jare gelede, en met hierdie liedjie kan ’n mens agterkom dat hy weet hoe om ’n storie te vertel. Jakkie Louw het hoofsaaklik sukses behaal met partytjieliedjies soos “Drie pikkewyne” en “Rum en raspberry”, maar met “Een miljoen woorde” wys hy dat hy ook dieper lirieke kan skryf. Hy het hierdie liedjie geskryf na aanleiding van ’n vriendin wat met kanker gediagnoseer is. Die musiekvideo is eintlik ontstellend, maar dit bewys dat liefde soms genoeg is om so iets te oorwin. Coenie de Villiers stel nie gereeld nuwe musiek vry nie, maar wanneer dit gebeur, is dit iets besonders waarna ’n mens nog jare lank kan luister. “Daar’s ’n plek” was die eerste enkelsnit van sy skitterende album Kruispaaie, wat gerus in sy geheel op CD uitgereik kan word omdat dit heel moontlik die beste Afrikaanse album van die 1980’s was.

Twee kunstenaars van wie die meeste mense die grootste bewonderaars of die grootste kritici is, is Robbie Wessels en Koos Kombuis. Robbie se eerste album het ’n paar liedjies met vuil taal bevat, maar op die titelsnit van sy tweede album, Halley se komeet, het hy gewys dat hy ook meer ernstige liedjies kan sing. “Lisa se klavier” was seker Koos Kombuis se grootste treffer tot dusver; die probleem is dat omtrent almal in die musiekbedryf dit deesdae sing. Daarom is dit goed om weer die oorspronklike een te hoor.

Valiant Swart was in die laat 1990’s een van die min Afrikaanse sangers en liedjieskrywers wat hoegenaamd goeie musiek voortgebring het. Een van die beste Afrikaanse albums wat in ’n baie lang tyd verskyn het, was Vuur en vlam, waarop hy saam met Ollie Viljoen gewerk het. Een van die snitte van daardie album was “Ballade op die dronkparty”, waarvoor die digter G.A. Watermeyer die woorde geskryf het. Pierre Rossouw was die wenner van die televisiereeks Ons soek die sanger, en hy het al twee albums vrygestel. Met “Só het ek jou ma ontmoet” vertel hy vir sy seuntjie hoe hy en sy vrou verlief geraak het en op die ou einde getroud is.

Op 3 Julie verlede jaar het die Afrikaanse musiekbedryf een van sy groot geeste verloor toe Fredi Nest aan kanker oorlede is. In “Vuur hier binne my” het hy oor sy geloof in die Here gesing, en dié lied was ook die sentrale tema van sy gedenkdiens. Ongelukkig is sy bydrae as sanger en liedjieskrywer nie na waarde geskat nie. Die getroude sangpaar Anders het vanjaar twee Ghoema-toekennings gewen, en as jy na “Jy is die een” luister, kan jy verstaan hoekom.

Deon Groot is ’n nuweling op die Afrikaanse musiektoneel en “Bietjie liedjie” word tans ’n treffer op verskeie radiostasies. Anton Myburgh het aanvanklik onder die naam Murgpyp gesing en liedjies geskryf, maar intussen onder sy eie naam begin optree. “Katrina” was een van die eerste groot treffers wat hy geskryf het; dit was nie net vir hom ’n treffer nie, maar ook vir Wynand Strydom. Kupido is vroeër vanjaar oorlede, maar “Was ek maar ’n digter” is seker een van daardie liedjies wat altyd ’n treffer sal bly.

Uiteraard is dit moeilik om elke snit in detail te bespreek, maar hier is net ’n paar van die hoogtepunte op die album. As jy op soek is na musiek met iets om die lyf, kan jy gerus hierdie album by jou versameling voeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

2 Kommentare

patrys ·

Dit is n wonderlike CD, ek kan nie genoeg na hom luister nie. Great skrywers. Dis hierdie kunstenaars wat musiek die moeite werd maak om na te luister….dit is nie net n frase wat herhaal en herhaal word sodat jy wil skree nie. Net om populariteit te verwerf nie. Daar is skrywers en mense wat dink hulle kan skryf. Die CD is oor kunstenaars wat kan skryf!!en SING!!

Paul ·

Dis “great” ja nee. En sommer “awesome” ook… *sug*

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.